Skip to main content

Elsabé Richter

By January 27, 2022August 25th, 2022Uncategorized @af

Elsabé Richter verwerf ’n M. Mus-graad in Uitvoerende Sang aan die Noordwes-universteit, onder leiding van bariton Werner Nel. Gedurende haar studies is sy verskeie pryse en beurse toegeken, mees noemenswaardig ’n beurs wat haar in staat stel om ’n jaar van haar meesterstudie aan die Noorweegse Akademie vir Musiek onder leiding van Svein Bjørkøy, Håkan Hagegård en Mona Julsrud te behartig. Sy ontvang meestersklasse van verskeie sangers en musici insluitend Kobie van Rensburg, Marcel Beekman, Maarten Koningsberger, Albie en Hanna van Schalkwyk, Mimi Coertse, Erica Eloff, Eric Müller, Patricia Misslin, Paul Kiesgen en Lawrence Zazzo.

Haar repertorium omvat ’n wye verskeidenheid vroeë musiek, kunsliedere en opera, sowel as oratorio en ander kerklike musiek. Prominente operarolle sluit Susanna (in Mozart se ‘Le Nozze di Figaro’); Galatea (in Handel se ‘Acis and Galatea’) en Purcell se Belinda uit sy ‘Dido en Aeneas’ in. Sy het ook in ‘Lamento’ gesing – ’n pastiche Monteverdi-opera deur Kobie van Rensburg verwerk, wat op die voorblad van die Januarie 2017-weergawe van die Opern Welt-tydskrif verskyn het en vir die 2017 YAMawards genomineer is. Haar kerklike repertorium sluit o.a. Handel se Messias, Vivaldi se Gloria, J.S. Bach se passies en motette, Pergolesi se Stabat Mater, Keiser se Markuspassie, Charpentier se Te Deum, Haydn se Orrelmis, sowel as Mozart se Exsultate Jubilate, Regina Coeli (K127) en verskeie misse in. In 2021 sing sy saam met Cape Town Opera en Cape Town Baroque Orchestra in ‘n verfilmde produksie van Monteverdi se ‘Vespro della Beata Vergine’ wat op KykNET en DStv uitgesaai is.

Elsabé is in 2017 tesame met Cape Town Baroque Orchestra vir hul Kunstefees-program getiteld ’Handel in die Voorkamer’ genomineer vir ’n kykNET Fiësta-toekenning, asook vir ’n 2017 WOORDtroFEE as deel van die Kaapstad Camerata se produksie, ’Boerneef sing Palissandertaal’. Sy is ook deel van die SU Vokale-ensemble wat in ‘Bloed en Rose: Die Lied van Jeanne en Gilles’ sing. Die produksie is in 2015 by die kykNET Fiësta-toekennings as die beste Suid-Afrikaanse produksie gekroon. Die Ensemble is genomineer vir die unieke ‘Blou Stoel’-toekenning vir artistieke uitnemendheid.

Elsabé tree gereeld saam met verskeie ensembles, kore en orkeste op.

Close Menu