Skip to main content
All Posts By

US Music

Denis Goldberg “Life is Wonderful”

By Nuus

Denis Goldberg “Life is Wonderful”

(11 April 1933 – 29 April 2020)

Tribute by the Department of Music / Konservatorium.

​Denis Goldberg, humanis, vryheidsvegter, opperbevel in uMkhonto we Sizwe, politieke gevangene, onvermoeibare maatskaplike kampvegter en een die laaste twee oorlewende Rivonia-verhoordes, is ná ‘n lang stryd teen longkanker oorlede. Hy was 87.

​Goldberg is in 1933 in Kaapstad gebore en het in ‘n huis toegewyd aan die stryd teen apartheid grootgeword. Sy ouers, Annie en Sam Goldberg, is albei in Londen gebore as die kinders van Litause Jode wat in die tweede helfte van die 19de eeu na Engeland geëmigreer het. Goldberg het in 1953 as ‘n siviele ingenieurswese-student aan die Universiteit van Kaapstad by die Modern Youth Society aangesluit. Hy was by die Congress of the People en die vergestalting van die Vryheidsmanifes in 1954/55 betrokke en is in 1960 onder die Noodtoestand vir vier maande ná die Sharpeville-bloedbad aangehou. Goldberg het op 11 Julie 1963 by die ANC se gewapende vleuel, uMkhonto we Sizwe, aangesluit en is op die Liliesleaf-plaas in Rivonia, Johannesburg in hegtenis geneem. Op 31 was hy die jongste man in die beskuldigdebank tydens die Rivonia-verhoor. Ander beskuldigdes was Nelson Mandela, Walter Sisulu, Govan Mbeki, Elias Motsoaledi, Ahmed Kathrada, James Kantor, Lionel (Rusty) Bernstein, Raymond Mhlaba, Bob Hepple en Andrew Mlangeni. Al die mans, behalwe Bernstein en Kantor, is ingevolge die Wet op Sabotasie aangekla en skuldig bevind aan sameswering om die regering omver te gooi en ander klagtes.

Op 12 Junie 1964 het die regter Denis en sy comrades vier lewenslange gevangenisskappe opgelê in plaas van teregstelling. Dennis het met ‘n glimlag op sy gesig na sy angstige moeder uitgeroep en gesê: “Dit is die lewe, en die lewe is wonderlik.” Goldberg het 22 jaar in die gevangenis deurgebring voordat hy op 28 Februarie 1985 vrygelaat is.

Ná sy vrylating het hy in ballingskap gegaan en by sy gesin in Londen aangesluit. In Londen het hy sy werk vir die ANC by die organisasie se Londen-kantoor van 1985 tot 1994 voortgesit. Hy was ‘n woordvoerder vir die ANC en het dit ook by Anti-apartheidskomitee van die Verenigde Nasies verteenwoordig. Goldberg het vir baie jare oorsee gereis om oor Suid-Afrika en die werk wat nodig was om dit verander, te praat.

In 1988 het ‘n groep organisasies van die VSA Goldberg met die Albert Luthuli-Afrikavredestoekenning vereer ter erkenning van sy werk teen apartheid. Op Suid-Afrika se eerste herdenking van die land se eerste demokratiese verkiesing, het Goldberg Community H.E.A.R.T. (Health Education And Reconstruction Training) gestig. Dit is ‘n liefdadigheidorganisasie wat in Londen gesetel is en miljoene rande vir die Rape Crisis Cape Town-stigting ingesamel het en tot op hede het dit al onder meer drie miljoen boeke aan kinders geskenk. Talle ander erkennings en toekennings het gevolg en in 2019 het die African National Congress Goldberg met die organisasie se hoogste eerbewys, die Isithwalandwe / Seaparankoe-toekenning vereer. President Cyril Rampahosa het by die oorhandiging van hierdie eerbewys aan Goldberg en talle ander gesê: “Hul bydrae tot die stryd vir menslike sosiale verhoudinge moet voortgaan om ons dade te rig en te inspireer. Die letterlike vertaling van Isithwalandwe is ‘diegene wat die pluime van die skaars voël dra’, en het hulself as van die dapperste stryders onder ons in die stryd vir sosiale geregtigheid bewys.”

In 2016 het die Universiteit Stellenbosch Goldberg by die 13de Stellenbosse Internasionale Kamermusiekfees (SIKMF) vereer, waar Moments of a Life, ‘n werk wat in opdrag van die SIKMF geskryf is – gekomponeer deur Matthijs van Dijk en uitgevoer saam met Goldberg se voorlesing van sy eie outobiografiese teks – ‘n roerende wêreldpremière in die Endlersaal gehad het. Die teks van Van Dijk se werk is geneem uit Goldberg se outobiografie, A Life for Freedom – The Mission to End Racism in South Africa, met stories oor verskeie rigtinggewende oomblikke in Goldberg se lewe. Van Dijk het die volgende oor sy musikale behandeling van Goldberg se teks gesê: “Omdat die stories oor ‘n tydperk van 1939 tot die hede handel, het ek ‘n baie eklektiese musiekstyl te gebruik. Dit bevat idees wat strek van die kinematiese tot die baie banale glans rock/’hair metal’ van die tagtigerjare, gekombineer met stukkies klubmusiek, wat die kunsmatige “teaterisme” en perversiteit van die mediasirkus rondom die Rivonia-verhoor, as ook ‘vrye jazz’ en minimalistiese idees in die jare van gevangenisstraf om ‘n gevoel van ingehoktheid uit te beeld. (Die volledige uitvoering van hierdie werk kan gesien word by https://www.youtube.com/watch?v=hPqa18xPmZc&fbclid.)

Voor die konset het Goldberg het sy gedagtes oor die belangrikheid van musiek en hoe dit sy lewe gevorm het, in ‘n onderhoud met Mark Gevisser gedeel. Hy het genoem dat sy eie obsessiewe liefde vir musiek nie gedurende sy 22 jaar in die tronk onderbreek is nie. “Ek en my medegevangenes is toegelaat om elke tweede maand ‘n langspeelplaat te koop en in daardie tyd het ons meer as 800 plate versamel – hoofsaaklik opnames van klassieke musiek, maar ook jazz en later Afrika-musiek, insluitende die kwêlafluitjie,” het Goldberg gesê. Hierdie aktiwiteite het sy liefde vir musiek en sy soeke na vryheid versterk – nie net noodwendig vir homself nie, maar vir Suid-Afrika en sy mense.

Goldberg het sy tyd en energie aan verskillende maatskaplike projekte spandeer – en spesifiek oor die laaste paar jaar om die Denis Goldberg-erfenisstigtingtrust op die been te bring. Hierdie trust is verband tot stigting van die Huis van hoop, ‘n sentrum is sy tuisdorp, Houtbaai, wat die bou van kulturele en sosiale brûe deur alle soorte kuns en kultuur sal fasiliteer. Dit is bedoel om ‘n tuiste vir die talle kreatiewe projekte in en rondom Kaapstad en die breër skiereiland te wees. Skilder-, skets-, drama-, Engelse, Afrikaanse en isiXhosa-skryf- en taalvaardighede is die kernbedrywighede. IT-geletterdheid en rekenaarvaardighede sal ook ‘n belangrike deel van die sentrum wees. Behalwe verskeie ateljees vir die projekte, sal die Huis van Hoop ook gestalte gee aan die skepping van ‘n uitvoeringsruimte van wêreldgehalte met ‘n toonaangewende opnameateljee, wat dit gelyk sal stel aan soortgelyke instellings regoor die wêreld om aan jong en ambisieuse Suid-Afrikaanse kunstenaars ‘n platform vir internasionale samewerking te bied. Ondervinding het getoon dat selfs in histories-verdeelde samelewing soos Suid-Afrika s’n, alle soorte musiek, sang en dans mense verenig. Ter ondersteuning van hierdie inisiatief het die Wes-Kaapse provinsiale regering vir die Denis Goldberg-erfenisstigtingtrust ‘n 99 jaar-huurkontrak op die perseel in Andrewsweg, Houtbaai, waar die Houtbaai-museum gesetel is, aangebied. Die trust het in September 2018 die huurooreenkoms saam met die museum se raad van trustees onderteken en op 13 Februarie 2020 het Goldberg die eerste interkulturele geleentheid wat op die terrein waar die Huis van Hoop gebou gaan word, bygewoon.

Goldberg het ná jare se aktivisme gesê die konneksies wat deur kuns en musiek gevorm kan word, voel vir hom belangriker as ooit tevore. “Mense maak saak,” het hy gesê. “Vir my is mense hele punt daarvan om in die politiek wees. Vir my gaan dit nie oor mag nie.”

Jong mense sal kennis en begrip oor Suid-Afrika en sy geskiedenis kan opdoen deur blootstelling aan die Denis Goldberg-galery asook die museum. Die galery sal die kunsversameling wat Goldberg oor baie jare opgebou het en wat talle sfere van die Suid-Afrikaanse samelewing soos hy dit gesien het, huisves, asook ‘n permanente uitstalling wat Goldberg se lewe en bydrae tot ‘n demokratiese Suid-Afrika uitbeeld.

Denis Goldberg word met warmte, omgee en dankbaarheid as ‘n nederige en deernisvolle mens onthou wat sy lewe gegee het om vryheid en menseregte vir die gewone mens na te jaag en wat homself in diens van die mensdom gestel het. Hy was ‘n buitengewone en dapper vryheidsvegter wat die volbringing van sy generasie se missie om politieke bevryding te bewerkstellig en ‘n stewige grondslag vir ‘n demokratiese regering in Suid-Afrika te lê.

Rus in vrede, Dennis Goldberg (11 April 1933–29 April 2020).

  • Artikel deur Fiona Grayer, Artistike Bestuurder van die Departement Musiek, Universiteit Stellenbosch.

Karin Cronje

By Uncategorized @af

Karin Cronje is ‘n pryswenner-skrywer van etlike romans. In 1979 het sy die BA(Drama)-graad aan die Universiteit van Pretoria behaal, en ‘n loopbaan as joernalis by versillende koerante en tydskrifte gevolg. Sy het onder meer navoring vir die Instituut vir Justisie en Rekonsiliasie en vir die Sunday Independent gedoen. Sy het ook oorklanking van radiodramas vir die SAUK behartig, en opgetree as aktrise in Kunstekaap-produksies, asook studies in sielkunde ondeneem en gekwalifiseer as fasiliteerder in lewensvaardighede.

Sy was lank nou betrokke by bemarking, en was medewerker van etlike politici en akademici, soos die Nobelpryswenner Nadine Gordimer en skrywers soos Wally Serote en Mandla Langa, die vorige rektor van die Universiteit van Kaapstad Mamphela Ramphele, LP Jeremy Cronin, ‘n vorige minister van Onderwys Kader Asmal, en tekenaar Zapiro.

Tussen 2006 en 2008 het Karin Engels in Suid-Korea gedoseer, voor sy teruggekeer het na Suid-Afrika. Haar roman Alles mooi weer is in dieselfde jaar uitgegee, waarvoor sy Jan Rabie/Rapportprys ontvang het.

In 2010 het sy angesluit by die Universiteit van Stellenbosch se Sertifikaatprogram aan die satellietkampus by die Youngsfield-Weermagbasis, waar haar pligte die onderrig van Akademiese Geletterdheid en Engels insluit. Sy doseer ook navorsingsmetodologie en –skryfkuns, sowel as voordrag, kommunikasie en lewensvaardighede.

Lisa-Mari Janse van Rensburg

By Uncategorized @af

Lisa-Mari Janse van Rensburg het in Kuilsrivier en Stellenbosch grootgeword. Sy is reeds vanaf ‘n jong ouderdom by musiek betrokke. Een van die hoogtepunte van haar vroeë betrokkenheid by musiek was die geleentheid om deel te wees van die Tygerberg Kinderkoor. Gedurende hierdie tydperk en voortaan, het haar musikale belange na viool verskuif.

Gedurende haar BMus studies het sy onder Louis van der Watt viool studeer. In hierdie tyd het sy aan verskeie orkes-, ensemble- en solo-uitvoerings deelgeneem, insluitende uitvoerings saam met die Stellenbosch Universiteit  Camerata. Sy het meestersklasse in viool by Louise Lansdown, en Barokviool by Pauline Nobes ontvang. In 2014 het sy haar BMus graad ontvang met Musiekopvoeding as hoofvak, en viool as instrument. In dieselfde jaar het sy die UNISA Uitvoerende Kunste Asserering met onderskeiding geslaag. Na voltooing van haar BMus, het sy vir ‘n jaar onder Suzanne Martens met vioollesse voortgegaan. In 2017 het sy haar MMus (Musiekopvoeding) onder Danell Müller (née Herbst) ontvang.

Sy neem aan vryskut orkes/ensemble optredes deel, waarvan gereelde optredes saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes as Ad hoc tutti violis deel vorm. Sy tree ook gereeld saam met die Stellenbosch Universiteit Mediese Orkes op. In 2018 was sy konsertmeester vir ‘n optrede met die Enlighten Simfonie Orkes. Vanaf 2019 gee sy voltyds viool by Beau Soleil Musieksentrum.

Allan Stephenson

By Uncategorized @af

Komponis Allan Stephenson is gebore op 15 Desember 1949 in Wallasey, Cheshire, Engeland, en het met klavier op sewejarige ouderdom begin, en op 13 tjello. ‘n Jaar later het hy tjellis van die Merseyside Jeugorkes geword, en ook kamermusiek met vriende beoefen, koor gesing en vertroud geraak met die tromboon en tuba.

Sy naskoolse studies was aan die Royal Manchester College of Music, tussen 1968 en 1972. Dit was ook daar waar sy eerste komposisies ontstaan het. Gedurende dié tyd was hy eerste tjellis van die First Orchestra, en saam met Liverpool Filharmoniese orkes opgetree, en as vryskut-musikus ‘n bestaan gemaak.

In 1973 het Stephenson ‘n pos in die Kaapstadse Simfonieorkes aanvaar, waar hy ook ‘n suksesvolle loopbaan as dirigent, komponis en tjellis gehad het, en steeds werksaam is.

Mariechen Meyer

By Uncategorized @af

Mariechen Meyer het haar kontrabasstudies as tienjarige onder Peter Guy in Bloemfontein begin. Tydens haar voorgraadse studies aan die Universiteit van Stellenbosch is sy afgerig deur Roxane Steffen en Bradetich aan die Universitiet van Noord-Texas. Reeds as ‘n beginner was Mariechen gefassineer met belangrike rol van dié instrument as ‘n solo- en kamermusiekinstrument, en dat dit ten beste in staat is om die bas as ‘n essensiële element in die musiek te verteenwoordig.  Sy is tans ‘n kenner en bevorderaar van die instrument. HHHHHHHhHHHHHaar vaardighede as kontrabassis het gelei tot talryke plaaslike en internasionale ervarings soos haar samewerking met die Amerikaanse Bassinova Kwartet en die iPalpiti Artists International, haar deelname aan internaionale kompetisies en die bywoning van meesterklasse en werkswinkels in Amerika en Europa. Optredes as solis saam met Universiteit van Noord-Texas se simfonieorkes (2013), die Kaapstadse Filharmonie (2008) en die Johannesburgse Simfonieorkes (2004) het verder bygedra tot haar ervaringswêreld.  Na voltooiing van haar doktorale studies in Amerika het sy teruggekeer na Suid-Afrika as vryskut-kontrabassis, private onderwyser en deelltydse dosent aan die Universiteit van Stellenbosch. Haar doelwitte is om navorsing rondom haar instrument, toewyding aan die opvoedingstaak en die bevordering van die instrument en klassieke musiek in die gemeenskap.

Stephanie Vos

By Uncategorized @af

Stephanie Vos is the projekleier van die Interdissiplinêre Forum vir Populêre Musiek (ifPOP) by Africa Open. Haar navorsingsbenadering is ‘n oorbrugging van dissiplinêre grense (self -ballingskap en verplasing), en ‘n musiekpraktyk (Suid-Afrikaanse jazz) wat buite die bestaande  verstaan van die genre probeer beweeg, veral met betrekking tot die begrip van die “populêre”. Haar proefskrif (Royal Holloway, Universiteit van Londen), was ‘n ondersoek na diskoerse rondom die Suid-Afrikaanse ballings in die 1960s, deur die jazz-lens, met Abdullah Ibrahim se musiek van die sestigerjare as fokuspunt.

Stephanie het onderrig gegee by UNISA en was tutor  by die Universiteit van Stellenbosch en die Royal Holloway. Sy het navorsingsvoordragte by etlike konferensies in die VSA, VK, Europa en Suid-Afrika, en is tans sekretaris van die Suid- Afrikaanse Vereniging vir Musieknavorsing. Sy eksperimenteer met die interskakeling tussen die akademiese en die publieke sfeer, en het in dié verband films in die VK versorg, en twee simposia oor musiek en selfballingskap georganiseer, in samewerking met die Goethe-Instituut (Johannesburg). ifPOP is die realisering van ’n interdissiplinêre navorsings- en artistieke omgewing wat sy graag sien as haar toekomstige taak.

Stephanus Muller

By Uncategorized @af

Stephanus Muller is Professor van Musiek en Direkteur van Africa Open, Instituut vir Musiek, Navorsing en Innovasie (AOI)(https://aoinstitute.ac.za/), ‘n navorsingsinstituut wat outonoom van die Musiekdepartement funksioneer in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe. Hy werk en publiseer oor Suid-Afrikaanse komponiste, en binne die konteks van die instituut verskaf hy studieleiding aan studente wat werk op akademiese onderwerpe, uitvoerings-gebaseerde studies en komposisie. Hy is die mede-redakteur van South African Music Studies(SAMUS) (https://www.sasrim.ac.za/samus/), en die uitgewer van herri(https://herri.org.za). Vir meer inligting oor sy navorsing en publikasies, kyk https://aoinstitute.ac.za/fellow_core_team/stephanus-muller/ en https://en.wikipedia.org/wiki/Stephanus_Muller

Renée van den Berg

By Uncategorized @af

Renée (Belcher) van den Berg behaal in 2012 die graad MMus Musiekterapie (cum laude) aan die Universiteit van Pretoria. Sy werk daarna as ʼn musiekterapeut en terapeutiese musiekpraktisyn in verskeie kontekste (bv. volwassene-psigiatrie, pediatriese palliatiewe sorg, demensie-sorg en neuro-rehabilitasie). Sy tree ook as fasiliteerder op in skeppende werkswinkels vir persone wat in die Kunste werksaam is.

Sedert sy die Hons BA in Engelse Letterkunde en die Lisensiaat in Saxofoon in 2000 behaal, gee sy onderrig in saxofoon, klarinet en blokfluit, asook vakmusiek, jazz ensemble en orkes. Sy was vir baie jare betrokke by vele gemeenskapsmusiekprojekte, soos die Wes-Kaapse Musiekopvoedingsprojek (Western Cape Music Education Project) met Ronnie Samaai (Kuilsrivier), asook die Frank Pietersen-musieksentrum (Paarl) waar sy aan die hoof van die Blasersdepartement gestaan het. Tydens haar betrokkenheid as ʼn kunstejoernalis en rubriekskrywer vir die Afrikaanse dagblad Die Burger het sy in jazz en kultuur-/plekspesifieke musiek (insluitend musiek van Zimbabwe, Senegal, Japan, Frankryk, Spanje en Nieu-Seeland) gespesialiseer. As uitvoerende kunstenaar het sy al opgetree met musikante, komponiste en skrywers soos Johannes Kerkorrel, Schalk Joubert, Laurinda Hofmeyr, Pierre-Henri Wicomb en Willemien Brümmer.

As ʼn musikus wat reeds musiek gemaak het met mense van 6 maande tot 80 jaar oud besef Renée die waarde van musiek-maak as ʼn instrument waardeur ʼn sin van bemeestering, vervulling, betrokkenheid en gemeenskap gekweek kan word, om nie te praat van die groot vreugde wat dit aan ons as mense kan verskaf nie. As ʼn lewenslange leerder op die gebied van musiek, gesondheid en welwees sien sy daarna uit om met haar PhD te begin.

As dosent in Orkesstudies en Onderrigmetodiek bring Renée ʼn magdom van ervaring en insig as onderwyser, terapeut en joernalis na die Saxofoon-afdeling.

Joshua Frank

By Uncategorized @af

Joshua Frank het ’n meestersgraadstudie in Musiekwetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch in 2019 voltooi, en die volgende jaar ‘n deeltydse doseerpos aan hierdie inrigting aanvaar. Sy hoof-navorsingsbelangstelling is die empiriese studie van musikale emosies, wat ook by geleentheid aspekte van die evolusionêre oorspronge van musiek en aspekte van Barok-uitvoeringspraktyk insluit.

Frank se voorgraadse studies was gefokus op uitvoering, en hy is ook ‘n vaardige kunstenaar met die ghitaar, blokfluit en hobo, met klem op orkesspel en Barok kamermusiek. Buite die konteks van die Westerse kunsmusiek is hy as lid van die ensemble Here be Dragons ook geïnteresseerd in die wêreld van die volks-klassiek idioom.

Winand Grundling

By Uncategorized @af

Winand Grundling het sy skoolopleiding aan die Hoërskool Brandwag in Uitenhage voltooi en daarna sy BMus-graad van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth verwerf. Hy het sy orrelstudies onder Colin Campbell se leiding in 2002 begin, en het sedertdien op nasionale en internasionale vlak orreluitvoerings gelewer. In 2006 is Winand gekies as een van sewentien orreliste wêreldwyd om deel te neem aan die Kanadese Internasionale Orrelskool in Calgary. Hy het sy ATCL Trinity Recital (lisensiaat)-eksamen asook sy Unisa

Voordraerslisensiaat met onderskeiding geslaag. In 2012 het hy sy BMus Hons-graad (cum laude) aan die Universiteit Stellenbosch voltooi onder leiding van Mario Nell. In 2012 het Winand meesterklasse van prof. Yin Kim (Universiteit van Seoel) ontvang, asook van prof. Ton Koopman, Jean-Claude Zhender, Louis Bolliviard en Peter Planyavski aan die Internasionale Haarlem Orrelskool in Nederland, en prof. David Higgs (Eastman School of Music, VSA). Hy woon weer in 2015 die Nederlandse Orrelskool by. Winand het reeds die volgende kompetisies en pryse op nasionale vlak ingepalm: Algehele wenner van die ABSA Nasionale Jeugmusiekkompetisie, orrelkategoriewenner van die ATKV Muziq-kompetisie, die Charles Bryars-beurs, die SAMRO Merietetoekenning, die Mabel Quick-musiekbeurskompetisie, asook algehele wenner van beide Unisa se Oorsese Musiekbeurskompetisie, ATKV Muziq- kompetisie en die SAKOV Oorsese Musiekbeurskompetisie. Tydens die 2012 Klein-Karoo Nasionale Kunstefees het Winand twee Kanna-toekennings ontvang vir sy produksie, 14 Stasies van die Kruis – vir beste klassiekemusiek-produksie asook beste opkomende kunstenaar. Winand is die orrelis van die NG Kerk Stellenbosch-Welgelegen en die begeleier van verskeie kore en Suid-Afrikaanse kunstenaars. Winand gee voltyds musiek by Hoërskool Parel-Vallei in Somerset-Wes.

Close Menu