Digitale Skenkersnuusbrief | Lente 2023

Die inhuldigingsgeleentheid het verskeie skenkers bymekaargebring, insluitend die Michael & Susan Dell-stigting, die Allan Gray Orbis-stigting, die Crossley-stigting, Carl & Emily Fuchs-stigting, die Russel Botman-beursfonds, Moshal-beursprogram, ISFAP, Feenix en Students for a Better Future, saam met studente en lede van die US-gemeenskap.

Die US se Registrateur, dr Ronel Retief, een van die sprekers by die geleentheid, het gesê onderwys is die hoeksteen waarop drome gebou word, 'n toekoms gevorm word en potensiaal verwesenlik word. "Ons besef dat vir ons studente om werklik te floreer, hulle meer as net finansiële ondersteuning nodig het; hulle het 'n omgewing nodig waar hulle kan groei, floreer en ​verhoudings kan bou. Hierdie Sentrum vergestalt daardie visie en bied 'n ruimte vir betekenisvolle interaksies tussen studente, donateurs en die US-kollegas wat die verskillende programme ondersteun."

Retief het skenkers bedank vir hul onwrikbare toewyding om die lewens van talle studente te ten goede te verander. "Julle is almal gewaardeerde vennote in die samewerkingspoging om ons studente te help om hul drome te verwesenlik. Saam werk ons aan geleenthede, bemagtiging en hoop.

'Kom ons slaag'

"Die isiXhosa-frase “masiphumelele", wat “kom ons slaag" beteken, was die inspirasie vir die naam van die Sentrum, wat ontstaan het uit die pogings van die Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge om dié se dienste na beursskenkers uit te brei. Die Masiphumelele-sentrum is gefinansier deur ruim bydraes van 'n aantal skenkers.

Die herontwerpte ruimte in Banghoekweg, Stellenbosch, naby fakulteite soos ingenieurswese, lettere en sosiale wetenskappe, regsgeleerdheid, en natuurwetenskappe, bied verskeie opsies soos kantoorruimte, spreekkamers, veelsydige werkruimtes vir studente en skenkers, 'n area bevorderlik vir gesprekke en mentorskap, en 'n klein werkswinkellokaal met spasie vir 12 tot 14 persone.

Bruns benadruk beursskenkers se altruïsme en die ruimhartige wyse waarop hulle studente se opvoedkundige strewes en ambisies ondersteun. “Die Sentrum is nie net 'n belangrike stap in die rigting om die Universiteit se diens aan hierdie kritieke ondersteuners van studentetoegang en ‑sukses te verbeter nie, dit beklemtoon ook ons verbintenis tot ons studente se holistiese welstand en waardigheid."

Die naam “Masiphumelele-sentrum" het na vore gekom as die gewilde keuse via 'n opname in Mei 2023 onder beursontvangers, skenkers en personeel, wat genooi sal word om die spasie te gebruik. Deur sentimentontleding is daar vasgestel dat studente die samesnoerende visie van die Universiteit, US-skenkers en mede-studente vir studentesukses waardeer, en een respondent stel dit só: “Die Masiphumelele-sentrum is bedoel vir 'n gemeenskap van individue wat saam vir 'n beter toekoms werk." Nog een sê: “Masiphumelele is 'n oproep aan alle mense om saam te kom vir 'n gemeenskaplike doel, naamlik om te floreer, soos ons almal moet."

Bruns sê: “Die Afdeling voel geweldig trots om ons verantwoordelikheid na te kom en institusionele betrokkenheid tussen skenkers en die begunstigdes van hul ruimhartigheid te bevorder. Die Masiphumelele-sentrum is instrumenteel in die skep van 'n fisiese ruimte vir samewerking en gemeenskaplike oogmerke. As 'n bewys van die US se toewyding aan die koestering van die nodige betrekkinge met skenkers word die Sentrum dus simbolies van ons verbintenis tot 'n goeie skenker-ervaring en ons studentesukses."