Digitale Skenkersnuusbrief | Lente 2023

De Villiers en die US-koor is deur Sy Eksellensie dr Haruhisa Handa, 'n internasionale filantroop wat bekend is vir sy jare lange toewyding aan en bydraes tot openbare dienslewering en liefdadigheidsorganisasies wêreldwyd, genooi om aan die beraad deel te neem.

Die beraad het sportlegendes soos Dan Carter (voormalige All Black-rugbyspeler), Nacho Figueras (een van die wêreld se voorste polospelers) en Steve James ('n veteraan van die Koninklike Vloot van Australië en Invictus gouemedaljewenner) byeengebring. Dié bekendes was saam met prins Harry, die hertog van Sussex wat die geleentheid as die medestigter en beskermheer van Sentebale bygewoon het, paneellede om maniere te bespreek waarop die krag van sport lewens kan verander en hoe sport liefdadigheid op die wêreldverhoog kan beïnvloed.

De Villiers het gesê die Universiteit en die Olimpiese en Paralimpiese familie het gemeenskaplike waardes wat Uitnemendheid, Respek en Billikheid insluit.

Die US beskou sport as 'n strategiese bate en 'n belangrike deel van die Universiteit se waarde-aanbieding en bied 31 sportsoorte aan wat deur 'n diverse menslikehulpbronnespan en fasiliteite van wêreldgehalte ondersteun word.

Sosiale impak is een van die strategiese temas van die Universiteit en word deur Maties Sport ondersteun om kennis te bevorder terwyl dit in diens van die samelewing – veral in omliggende gemeenskappe – is, het De Villiers bygevoeg. Inisiatiewe sluit skoolvakansieprogramme, sportklinieke en geleenthede om leerders met lewensvaardighede soos lewenskragtigheid, deursettingsvermoë, moed en geloof in jouself toe te rus, in.

Maties Sport het 'n lang geskiedenis van sportuitnemendheid in gestremdheid en parasport en het al verskeie huishoudelike name opgelewer. Op hierdie manier word sport vir persone met gestremdhede ook bevorder.

Dr Haruhisa Handa

Handa se ondersteuning van verskeie sake oor etlike dekades sluit onder meer die kunste en opvoeding, toegang tot gesondheidsorg, rampverligting, bemagtiging van persone met gestremdhede deur sport, MIV/Vigs-opvoeding in Afrika, die bevordering van demokrasie, godsdienstige verdraagsaamheid in.

Handa is ook die medestigter en kanselier van die Universiteit van Kambodja en dien saam met Sy Eksellensie dr Kao Kim Hourn, die huidige sekretaris generaal van die Vereniging van Suidoos-Asiatiese Nasies (ASEAN). Handa is ook 'n belangrike ondersteuner van verskeie universiteite in die Verenigde Koninkryk, China, die VSA, Australië, Japan en Suid-Afrika. Handa se International Sport Promotion Society (ISPS Handa) bied die ISPS Sports Values Summit-Special Edition 2023 aan.

De Villiers het vroeër vandeesweek gesê die uitnodiging van die stigter en voorsitter van ISPS om aan die beraad deel te neem, bied aan die Universiteit Stellenbosch die geleentheid om betekenisvolle netwerke te bou en om saam met ander vooraanstaande deelnemers tot die gesprekke by beraad by te dra.

“Die Universiteit Stellenbosch is verbind tot uitnemendheid en om kennis in diens van die samelewing te bevorder. Ek glo ons en dr Handa het 'n gedeelde visie om die samelewing positief te beïnvloed."

SU-koor bring hoop

Die dirigent van die US-koor, André van der Merwe, sê hulle het geëerd gevoel om die uitnodiging te ontvang. “Dit is interessant hoe koorsang by 'n internasionale gehoor soos hierdie aanklank vind. Ek glo die diversiteit van ons koor inspireer mense. Die koors is 'n mikrokosmos van die Suid-Afrikaanse gemeenskap en hulle het 'n unieke energie. Dit is wonderlik dat hulle op hierdie vlak erken word en dat ons die geleentheid het om hoop aan mense te bring."

Die US-koor is reeds die afgelope 11 jaar die wêreld se voorste gemengde amateurkoor volgens Interkultur, die organiseerders van die Wêreldkoorspele.

Die koor het ook 'n lighartige oomblik met prins Harry gedeel toe hy hulle agter die verhoog ontmoet het. Hy het hulle aangemoedig om “aan te hou om die liefde te deel". Van der Merwe het hom bedank vir die tyd wat hy aan hulle afgestaan het en daarna het hulle almal op prins Harry se versoek almal mekaar 'n groepsdrukkie gegee.

Vroeër die week het verteenwoordigers van die US met mnr Noriyuki Tanaka, groepsleier by Toyota Tusho en projek-algemene bestuurder vir Afrika, en sy span by hulle hoofkantoor in Tokio, Japan vergader.

Hier het De Villiers oor die betekenis van kuns en kultuur gepraat en verduidelik hoe talle US-projekte al deur Toyota ondersteun is. Lede van die US-koor het by die middagete-vergadering 'n uitvoering gelewer as om die Universiteit se dank aan Toyota te betuig.

Tanaka het die verteenwoordigers by Toyota se hoofkantoor verwelkom en die maatskappy se ondersteuning van die Toyota US Woordfees bevestig. Die feesdirekteur, me Saartjie Botha, het aan Tanaka 'n Woordfees-feesboek oorhandig en voorgestel dat hy op sy volgende besoek aan Suid-Afrika ook by die US aandoen.