Digitale Skenkersnuusbrief | Lente 2023

Sedert 17 Desember 2017, ná die aankondiging van klasgeldvrye onderwys deur die destydse President Jacob Zuma, en in reaksie op die #Feesmustfall-beweging, verskaf NSFAS hoofsaaklik studiebeurse wat alle kostes dek aan studente uit huishouding waarvan die inkomste minder as R350 000 is. Hierdie klasgeldvrye besluit was teenstrydig met die aanbevelings van die Heher-verslag, wat meer volhoubare modelle vir die voorsiening van grootskaalse finansiële hulp aan behoeftige studente in die hoër onderwys voorgestel het.

Vyf jaar later is die stelsel besig om onder die druk te verkrummel. NSFAS moes aan die begin van 2023 hulle finansieringsvlakke noodgedwonge beduidend wysig. Die sektor as geheel het nie vir hierdie wysigings beplan nie en dit het gelei tot enorme uitdagings vir studente ten opsigte van hulle daaglikse lewenskostes.

Terwyl die volle koste van ʼn universiteitskoshuis tot en met R57 500 vir private huur in die verlede gedek is, is die maksimum perk vir alle soorte behuising nou R45 000 per jaar, wat R15 750 oorlaat vir lewenskoste vir die 10 maande van die akademiese jaar. Die netto resultaat is dat studente nou met ʼn tekort van R25 000 elk op behuising en maaltye sit – en dit is nadat die US alternatiewe behuising moes vind en herbeding vir studente wat aan die einde van 2022 huurooreenkomste vir die (destydse) NSFAS-goedgekeurde perk vir 2023 onderteken het en nou nie die ooreengekome huur kon bekostig nie.

Om sake nog meer ingewikkeld te maak, het NSFAS, jammer genoeg, ook die finansiering van ʼn aantal studente om verskeie redes onttrek. Hierdie studente is voorheen deur NSFAS goedgekeur en sit nou sonder enige finansiële hulp met hulle studies.

Onder die meer as 4 200 studente aan die US wat NSFAS-steun ontvang, is soveel as 550 studente in hulle laaste studiejaar, wat beteken dat hulle die wêreld van werk op die agtervoet sal betree, met ʼn onbeplande skuldlas. Dieselfde geld vir die res, wat jaar-op-jaar-skuld sal oploop, omdat dit onwaarskynlik is dat die NSFAS-situasie in die toekoms sal verbeter.

Die behoefte aan studiebeurse is nou groter as ooit. Hoewel die US steeds tot toegang, inklusiwiteit en enige moontlike hulp aan studente verbind bly, kan ons nie hierdie uitdaging alleen aanpak nie. Is jy daarvoor te vinde om ʼn vennootskap, wat ʼn beduidende impak kan hê, te verken? Jou ondersteuning sal ons gesamentlike vermoë om behoeftige studente te bemagtig, versterk.

Kom ons gesels! Kontak my by eganc@sun.ac.za