Digitale Skenkersnuusbrief | Lente 2023

Die Dell Young Leaders-jongleiersprogram – befonds deur die Michael & Susan Dell-stigting – beoog om universiteitstudente, van wie baie die eerste in hul families is om universiteit toe te gaan, te bemagtig om hul doel te bereik om suksesvol af te studeer en 'n betekenisvolle loopbaan te begin. Die program sluit persoonlike advies en hulpbronne vir studente se akademiese, finansiële, persoonlike en loopbaanwelstand in.

Die 2023-groep Dell-jongleierstudente aan die US is uit ses van sy fakulteite gekies: AgriWetenskappe; Ekonomiese en Bestuurswetenskappe; Opvoedkunde; Ingenieurswese; Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe; en Wetenskap.

Linke Bredenkamp, 'n verpleeg- en verloskundestudent, het gesê om as 'n Dell-jongleier gekies te word, het haar lewe verander.

“My ouers het my verlede jaar laat weet ek sal nie verder kan studeer as ek nie 'n beurs kry nie. Nou kan ek my droom najaag om mense in nood te help. Die wonderlike ding van verpleging is dat jy daar is vir mense in die belangrikste en moeilikste tye in hul lewens, soos geboortes, sterftes en siekte. Vir my is dit die belangrikste deel van hierdie werk, want dit beteken so baie vir daardie mense om iemand daar te hê wat regtig omgee. Natuurlik, om jou werk te ken is belangrik, maar om net daar te wees vir iemand is vir my die belangrikste en mees bevredigende ding. Danksy hierdie beurs sal ek presies dit kan doen.”

Alie-Saadique Saban, 'n siviele ingenieurstudent, het gesê hy is dankbaar vir die finansiële bystand wat die beurs sal bied.

“Dit sal my help om meer onafhanklik te word en nie staat te maak op my ouers wat ook my jonger broer finansieel moet ondersteun nie. Nou hoef ek my nie voortdurend oor geld te bekommer nie en kan ek net op my studies fokus.”

Belanghebbendes van die US, insluitend fakulteitsdekane en lede van die rektoraat, asook verteenwoordigers en leierskap van die Michael & Susan Dell-stigting in Suid-Afrika, Indië en die Verenigde State het ook die geleentheid bygewoon.

In sy hoofrede het prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig van die US, gesê: “Die Michael & Susan Dell-stigting doen fenomenale werk in vennootskap met ons hoëronderwysinstellings om te dryf wat die belangrikste is vir enige universiteit – studente se sukses. Ons is trots daarop om met die Michael & Susan Dell-stigting geassosieer te word.”

Hy het die 2023-groep daaraan herinner dat om 'n Dell-jongleier te wees jou nie net 'n finansiële toekenning bied nie, maar dat dit ook “'n mosie van vertroue in jou vermoëns en jou potensiaal is om in die toekoms 'n verskil in die samelewing te maak”.

Ramjugernath het ook onthul dat die Dell Young Leaders-jongleiersprogram voortaan deur die Verantwoordelikheidsentrum vir Onderrig en Leer aan die US gedryf sal word om “studentesukses die hoogste prioriteit binne ons instelling te gee”. Die program was voorheen binne die Registrateursafdeling gesetel.

Die bekendstellingsgeleentheid het ook die geleentheid gebied om die vennootskap tussen die Michael & Susan Dell-stigting en die US te versterk. Sedert die bekendstelling van die US-vennootskap, asook die keuring van die 2023-kohort van 213 studente, is altesaam 662 beurse aan Matie-studente toegeken. Dit beteken die Michael & Susan Dell-stigting is op koers om sy teiken te bereik om 1 000 Maties-studente teen 2025 te ondersteun.

Helen Vaughan, programdirekteur in Suid-Afrika by die Michael & Susan Dell-stigting, het gesê die program het ten doel om 'n verskil in studente se lewens te maak deur die nodige ondersteuning te bied om te verseker dat hulle hul doelwit bereik om aan die universiteit te gradueer.

“Sedert die aanvang van die program 13 jaar gelede, het ons gesien hoe studente hul drome bereik, oorgaan na betekenisvolle indiensneming en 'n blywende impak maak, nie net in hul eie lewens nie, maar ook in die lewens van hul gesinne en gemeenskappe.”

Van die meer as 2 000 beurse wat tot dusver aan vennootuniversiteite toegeken is, kon die program 'n volhardingskoers van 97% handhaaf – dit beteken studente het hul doelwit bereik om te gradueer. 'n Verdere 98% van gegradueerdes het óf begin werk óf het binne drie maande nadat hulle gegradueer het, met loopbaanverbeterende verdere studie begin.

“Ons is daartoe verbind om die regte vennootskappe met korporatiewe SA, die regering en niewinsgewende organisasies in die maatskaplike sektor te bou om seker te maak ons plaas Dell-jongleiersgegradueerdes in betekenisvolle indiensneming nadat hulle aan die US studeer het,” het Vaughan gesê.

Die US is een van drie universiteite, saam met die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van Pretoria, wat 'n Dell Young Leaders-jongleiersprogramvennootskap met die Michael & Susan Dell-stigting gevorm het.

Om meer oor die Dell Young Leaders-program uit te vind, besoek dellyoungleaders.org