Digitale Skenkersnuusbrief | Lente 2023

Die US se Skenkingsdag, 'n inisiatief van die Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge, bring studente, fakulteite, personeel, alumni en die breër gemeenskap byeen in 'n gesamentlike poging om fondse in te samel vir beurse, studentemaaltye en studentegemeenskapsinisiatiewe. Letterlik alles wat 'n student nodig het om 'n dag op kampus te floreer.

Vanjaar se Skenkingsdagvieringe het van 5 tot 6 Oktober 2023 op die Rooiplein plaasgevind. Deelnemers het aan aktiwiteite deelgeneem soos Zumba-klasse, 'n fliekmarathon in die Neelsie en mini-sportaktiwiteite soos atletiek, krieket, sokker, rugby, gholf, hokkie, netbal en roei.

Viwe Benxa, Bridge the Gap-koördineerder van die Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge, het gesê Skenkingsdag was 'n reuse sukses.

"Meer as 90 skenkers het bygedra via ons Skenkingsdag-aanlyn platform en meer as 180 van ons US-gemeenskap (studente, personeel en alumni, ens) het aan die fliekmarathon en die ander aktiwiteite deelgeneem."

Hy het bygevoeg: "Ons het nie die R5 miljoen teiken bereik wat ons vir Skenkingsdag gestel het nie, maar dit is nog nie te laat nie. Ons doen 'n beroep op US-studente en -personeel om voort te gaan om skenkings te maak deur aan ons trollie-uitdaging, wat tot 31 Oktober duur, deel te neem. Alumni en vriende van die Universiteit kan ook steeds ’n bydrae maak via ons aanlyn platform."

Die universiteitswye trollie-uitdaging, ook deel van die Skenkingsdagaktiwiteite, poog om nie-bederfbare voedsel, sanitêre produkte, toiletware en fondse vir behoeftige studente in te samel.

"Ons hoop meer mense kan gedurende Oktobermaand aan ons studente teruggee," het Benxa gesê. "Elke skenking tel. 'n Bedrag van so min as R100 kan verseker dat 'n student ten minste drie maaltye kan geniet. Kom laat ons saam 'n verskil in die lewens van studente maak."

Skenkingsdag vorm deel van die universiteit se Bridge the Gap (BTG) fondsinsamelingsveldtog wat daarop gemik is om die struikelblokke wat Maties verhoed om hul grade te verwerf, uit die weg te ruim. Daar is verskeie ander inisiatiewe wat ook onder die BTG-sambreel geskep is. Dit sluit in #GradMe wat studente help met uitstaande studiegeld wanneer hulle afstudeer; Caught in the Middle wat studente help wat nie vir gratis hoëronderwysbeurse kwalifiseer nie; en #MatiesHaveDrive wat met verskeie ondernemings saamwerk om gedeeltelik befondsde bestuurdersopleiding te voorsien aan studente wat 'n bestuurderslisensie benodig vir werk. 

Vir meer inligting besoek: www.matiesgivingday.com