Eenheid vir Vroeë Musiek

Stellenbosch Universiteit se Musiekdepartement het sy Eenheid vir Vroeë Musiek in Oktober 2014 bekendgestel. Vroeë musiek en ‘n histories ingeligte uitvoeringspraktyk, is lank reeds deel van die praktiese musiekstudiekurrikulum by buitelandse instansies. By Suid-Afrikaanse universiteite is dit egter ‘n relatief nuwe spesialiteitsgebied, ondanks belanghebbende professionele- en private inisiatiewe in die Kaap. Hierdie Eenheid erken al hierdie inisiatiewe in ‘n poging om hierdie studieveld vir alle Suid-Afrikaanse musiekstudente toeganklik te maak. Die SU Eenheid vir Vroeë Musiek beywer hom daarvoor om ‘n legio aktiwiteite verwant aan Vroeë Musiek en ‘n  histories ingeligte voordraerspraktyk (HIVP) daar te stel in Suid-Afrika.

Terwyl dit fokus op gespesialiseerde instrumentonderrig op periode-instrumente, bied die Eenheid ook openbare- en studentekonserte aan, wat bydra tot die aantal, asook die gereeldheid van HIVP uitvoerings op die plaaslike musiektoneel. Deur middel van beide onderrig en optrede dra die SU Eenheid vir Vroeë Musiek by tot die uitbou van hierdie musiekspesialisasieveld tot op dieselfde vlak as wat dit in die VSA en Europa geniet.

Martin Berger, senior lektor in koordirigeerkuns aan die SU, staan aan die spits van die Eenheid vir Vroeë Musiek.

US Barokensemble

‘n  Beduidende aantal personeellede verbonde aan die  Musiekdepartement is deel van die US Barokensemble en tree dikwels op saam met gaskunstenaars (bv luit, kornet en Barokfagotspelers) van oorsee. Lidmaatskap van die ensemble wissel afhangend van die projek. Die Barokensemble, wat deel is van die SU Eenheid vir Vroeë Musiek, speel uitsluitlik op periode-instrumente met die doelwit om by te dra tot ‘n histories ingeligte voordraerspraktyk in Suid-Afrika.

Personeellede deel hul passie vir HIVP-optredes terwyl hul saamwerk om kennis ingewin deur nuwe navorsingsprokte toe te pas: Karin Maritz (blokfluit), Suzanne Martens (Barokviool), Louis van der Watt (Barokviool en altviool), Peter Martens (Baroktjello), Mario Nell (orrel/klawesimbel) and Martin Berger (klawesimbel & dirigeerwerk) is gereelde lede van die ensemble.

Bekende gaskunstenaars sluit in Andreas Scholl (internasionaal bekende kontratenoor), Pauline Nobes (viool – Würzburg/Manchester), Elisabeth Charlotte Berger (Dwarsfluit, blokfluit en Barokhobo) en Erik Dippenaar (klawesimbel).

Die US Barokensemble beoog om tot die histories-ingeligte uitvoerpraktyk in Suid-Afrika by te dra deur internasionale tendense fyn dop te hou, maar ter selfde tyd plaaslike relevansie te behou.

Pauline Nobes

Universiteit Stellenbosch is die eerste Universiteit in Suid-Afrika om ‘n uitsonderlike professor in Vroeë Musiek aan te stel, naamlik die Barokviolis, Pauline Nobes. Sy word erken as een van Europa se voorste spesialiste in histories-ingeligte uitvoerpraktyk. Sy het vir baie jare saam met ensembles soos The English Baroque Soloists, The English Concert en Orchestre Revolutionnaire et Romantique gewerk. Saam het hulle het sy in die mees gesogte konsertsale regoor Europa, die VSA en Japan gespeel en aan meer as 100 CD-produksies deelgeneem. As konsertmeester het sy The Academy of Ancient Music, die </Kölner Akademie en Musica Antiqua Köln gelei. Benewens haar voorliefde vir kamermusiek, lei Pauline tans Das Neue Orchester en is ‘n lid van die Dresdner Festpielorchester.

Pauline is ‘n Professor in Barokviool by die Musikhochschule in Würzburg, Duitsland, en het ‘n jarelange onderrigspos by The Royal Northern College of Music in Manchester, Groot Brittanje.