Die musiekfees onder die titel Out of the Shadows: Rediscovering Jewish Music and Theatre, waarby etlike uitvoerings tussen 10 en 17 September vanjaar in Kaapstad en Stellenbosch plaasgevind het, was volgens alle aanduidings ‘n groot sukses. Die fees was die finale in ‘n reeks wat ook in Leeds en York (VK), Wisconsin-Madison (VSA), Praag, Pilsen en Terezin (Tsjeggië) en Sydney (Australië) aangebied is. Alle uitvoerings was op die een of ander manier die resultate van die projek, wat geborg is deur beide die Britse Kunste-organisasie en die plaaslike Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing. Ingesluit by die projek se 25 internasionale vennote was die Kaapstadse Holocaust-sentrum, die Kaapse Filharmonie, en die Universiteite van Kaapstad en Stellenbosch. Die US se deelname is ‘n bevestiging van dié instansie se uitnemende internasionale posisie deur sy drama- en musiekdepartemente.
Die projek se doelwit is die herontdekking van verlore of vergete artefakte wat verband hou met musikale uitvoeringspraktyke in Joodse ghettos en konsentrasiekampe van die Tweede Wêreldoorlog, wat dikwels betekenisvolle sentra van musikale aktiwiteite was. Verhoogstukke, tekste en musiekmanuskripte het aan die lig gekom, en gehore het waardevolle plaaslike eerste uitvoerings van sulke werke beleef. Stellenbosch en Kaapstad het gesamentlik 14 uitvoerings aangebied, wat 11 eerste uitvoerings in 9 verskillende lokale ingesluit het.
Beide Sydney en Stellenbosch is uitgesonder vir die aanbieding van ‘n roerende komedie, Prinz Bettliegend, ‘n rekonstruksie gebaseer op herontdekte musiekitems en Holocaust-oorlewendes se getuienis, soos saamgestel deur die projek-navorser Dr Lisa Peschel. Beide opvoerings in Stellenbosch en Kaapstad is uitverkoop. US-dramastudente (onder die direksie van Amelda Brand) het trane en applous van sowel die gehoor as die projekspan ontlok. US-personeellid Leonore Bredekamp – wat by sowel die Musiek-en die Dramadepartment betrokke is – het die produksie se musikale leiding geneem, en ook as basghitaarspeler opgetree. Die instrumentale ensemble is moontlik gemaak deur die Musiekdepartement se organiseerder van Sertifikaatprogramme, Felicia Lesch, en het US studente Throy Petersen (klavier), Kristi Boonzaaier (klarinet), Bradley Martin (viool), Esra Januarie (perkussie) en die US-alumnus Leon Oosthuizen (akkordion) ingesluit.
Dokumente uit die Musiekdepartement se eie Joodse Argief is saamgestel deur Santie de Jongh, en in die Musiekbiblioteek en die Behrens-foyer uitgestal. Hierdie uitstalling het die indrukwekkende uitstalling van die Leeds Universiteit aangevul wat die reisende uitvoerings vergesel het. Die omvangryke navorsing wat gepaard gegaan het met die projek is ook tydens ‘n colloquium in the Jannasch-saal toegelig. Besprekings wat uit die colloquium voortgevloei het is voortgesit tydens ‘n simposium by Kaplan-sentrum vir Joodse studies aan die Universiteit van Kaapstad. Personeellede van die US-Musiekdepartement was goed verteenwoordig by hierdie geleenthede, met uitvoerings van liedere en klavierwerke van Viktor Ullmann, asook ‘n seleksie van kort klavierwerke van die 12-jarige Josima Feldschuh, en kamermusiekwerke van Wilhem Grosz, Werner Baer en Walter Wurzburger. Personeellede Pieter Grobler (klavier), Minette du Toit Pearce (alt), Jolene Auret Kappis (sopraan) en Peter Martens (tjello) het kragte saamgesnoer met die voorste musici van Kaapstad. Na afloop van die openingsgeleentheid in die Shul in Kaapstad, is Rooikappie – ‘n kinderopera van Wilhelm Grosz – in die Hugo Lambrechts ouditorium opgevoer, en die finale uitvoering is gewy aan koormusiek van ‘n verskeidenheid Holocaust-komponiste, met die Kaapse Solistekoor, in die Erin-saal, met deelname deur US-musiekstudente, alumni en ad-hoc-personeel: Colette Brand (tjello), David Bester en Piet de Beer (viool), Visser Liebenberg (klarinet), Myles Roberts (fluit) en Roxane Steffen (kontrabas). Nie minder nie as 12 US- en Kamermusiekfees-alumni het deel gevorm van die Kaapstadse Filharmonie in ‘n historiese uitvoering van Grosz se Serenade vir groot orkes, benewens Richard Strauss se indrukwekkende toondig Also sprach Zarathustra. Die Australiese argiefnavorser Joseph Toltz het die konsert beskryf as “… die eerste uitvoering in menseheugenis van een van Grosz se vroeë orkeswerke.” Die laaste keer dat die werk gehoor is, was ‘n uitvoering deur die Weense Filharmonie onder die leiding van Felix Weingartner in die 1920s.
Aan die een kant streef die Argiefprojek daarna om die stemme te laat hoor van komponiste, dramaturge en digters wat deur die Holocaust onderdruk of verdoem is, en aan die ander kant benadruk die projek die beginsel van herinnering en herdenking, deur die rekonstruksie van ‘n vergete nalatenskap deur middel van drama en musiek. Vir hierdie doel het studente van beide instansies toegang gekry tot Joodse tekste uit die oorogsjare om te toonset, en sodoende nuwe musiek daar te stel en wêreldwyd bekend te stel aan gehore wat andersins nie van die bestaan van sulke tekste bewus sou gewees het nie.
Die vooraanstaande Suid-Afrikaanse komponis Jeanne Zaidel-Rudolph het die projek saamgevat: “ Die simposia en konserte was verteenwoordigend van die hoogste vlak van musikale en intellektuele kwaliteit … die uitstaande hoogtepunt was die besondere vlak van die nuwe komposisies deur die studente van Stellenbosch en Kaapstad … As ‘n professor van komposisie by Wits Universiteit vir baie jare, kan ek die versekering gee dat hierdie studente hulle uitstekend van hulle taak gekwyt het – tot so ‘n mate dat die organiseerders van die Leeds Universiteit hulle voorgeneem het om hierdie nuwe komposisies in hulle argief op te neem en in te sluit vir internasionale uitvoerings … sonder die komponiste kan daar nie musiekwetenskaplikes of uitvoerders wees nie – hulle vorm ‘n kritieke element in ‘n volhoubare musikale ekosisteem. Julle kan baie trots wees op dit wat hulle bereik het.”
Prof Henrik Hofmeyr van die Kaapstadse Suid-Afrikaanse Musiekkollege het te kenne gegee dat hy “… hoogs beïndruk” was met die werke van Stellenbosse studente. “Die resultate spreek sekerlik van ‘n lewendige komposisieklas, en is ‘n baie positiewe refleksie van die Konservatorium en die Universiteit as geheel.”
Die studentekomposisies was elk op sy eie manier inderdaad uitstaande. Ek self was uiteraard intiem betrokke by die hele fees, maar het tog soms tydens my eie deelname aan die komposisies dieselfde waardering gehad vir die musiek asof dit ‘n kwartet van Beethoven of Beethoven was. Ek weet ook dat die uitvoerders te eniger tyd weer die werke sal speel indien hulle ‘n versoek van die aard sou kry.
Die Musiekdepartement van die Universiteit van Stellenbosch het in sy geskiedenis ‘n lang ry van internasionaal gesiene komponiste opgelewer. Die eerstes daarvan dateer uit die eerste dekades van die 20ste eeu, en sluit in mense soos F.W. Jannasch, ‘n stigterslid van die instansie, verder Arnold van Wyk en Hubert du Plessis. Belangrike komponiste sedertdien sluit in Roelof Temmingh, Hans Roosenschoon (tans Komposisie-professor of Composition), Bongani Ndodana-Breen, Hans Huyssen en Hendrik Hofmeyr. Meer onlangs het die departement ook ‘n waardevolle verbintenis met Trevor Jones gehad, ‘n Suid-Afrikaans gebore internasionale filmkomponis uit Hollywood. Stellenbosch studente wat bydraes tot die Joodse Argief gemaak het sluit in Kelsey Muller, Jesse Dreyer, Carlie Schoonees, Natalie Frenz en Leonore Bredekamp, met an die spits van die nuwe geslag komponiste Arthur Feder en Antoni Schonken. Hiermee in gedagte kan die Musiekdepartement, wat goed toegerus is om hierdie nalatenskap voort te sit, nie anders nie as om ongerus te wees oor die bedreiging van toenemende finansiële beperkings.
Toe Sir Winston Churchill geadviseer is om addisionele fondse uit die begroting van Kuns en Kultuur te verkry, het hy geweier, en met ‘n wedervraag geantwoord: “Waarvoor veg ons dan?” Miskien was die Leeds Universiteit se projek Verklanking van die Joodse Argief ‘n tydige aansporing vir ‘n volgende golf in die geskiedenis van die Universiteit se indrukwekkende komposisie-bydrae. Om die minste te sê. Het dit ‘n internasionaal-erkende verhoog gebied wat die betekenisvolle potensiaal waaroor ons beskik ten toon te stel.
Op Saterdag 30 September het die Universiteit van Stellenbosch se simfonieorkes hulde gebring aan prof Hans Roosenschoon, wat aan die einde van hierdie jaar aftree, met ‘n uitvoering van sy Vier gebede (2004). Soos die geval is met die studentekomponiste van die Joodse Argief, berus hierdie werk ook op ‘n teks van diepgaande betekenis.
In reaksie op ‘n versoek om kommentaar op die Joodse Argiefprojek, het Roosenschoon geskryf: “Laat ons gewetens en on wese in die wêreld nooit weer stilgemaak word deur onmenslike uitwissing nie. Laat ons luister na andere …….”
Vir meer inligting oor die Joodse Argiefprojek, en die projek se navorsinspan en video-opnames, raadpleeg asseblief die webwerf www.ptja.leeds.ac.uk.
Peter Martens
10 Oktober 2017