Skip to main content
All Posts By

US Music

Luis Magalhães

By Uncategorized @af

luis@luismagalhaes.com

Luis Magalhães het reeds groot lof as solis en kamermusikus ontvang, en hy is al beskryf as ʼn pianis met ’n “wonderlike vol klank” (American Record Guide) en “afgeronde, verfynde tegniek” (Allmusic.com). Benewens talle optredes in Suid-Afrika en sy geboorteland Portugal, het Luis ook sy buiging gemaak in Duitsland, Oostenryk, die Verenigde Koninkryk, Pole, Nederland, Spanje, Switserland, Rusland, Frankryk, Italië, Brasilië, China, Japan, Zimbabwe, Mosambiek en die Verenigde State van Amerika.

In die ateljee het Luis saam met Frank Stadler, Priya Mitchell, Daniel Rowland, Julian Arp, Gareth Lubbe, Madeline Adkins, Peter Martens en James Austin Smith gewerk. Hierdie vennootskappe het tot gloeiende resensies gelei sowel as ’n gesogte Suid-Afrikaanse Musiektoekenning (Sama) in 2011. As die een helfte van die Schumann-Magalhães-duo, beter bekend as TwoPianists, het Luis ook ’n verdere vier hoogaangeskrewe CD’s vrygestel, met nog een binnekort op pad. Hierdie samewerking met Nina Schumann is al vergelyk met die duo’s van Ashkenazy-Previn en Argerich-Freire (American Record Guide).

Luis is medestigter van die onafhanklike platemaatskappy, TwoPianists Records, wat sowel plaaslike as internasionale toekennings ontvang het. Hy is medestigter van die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees, wat sedert 2004 dié voorste klassiekemusiekfees op Afrika-bodem geword het. Hy is ook medestigter van die Stellenbosch Internasionale Klaviersimposium. Luis verwerf in 2011 ’n DMus-graad aan die Universiteit van Kaapstad en is tans medeprofessor aan die Universiteit van Stellenbosch. Luis het ook uitvoerig meesterklasse sowel as lesse aangebied by die befaamde Juilliard Skool in New York, en ook by talle universiteite in Europa, Asië en die Verenigde State van Amerika. As ’n kundige pianis en pedagoog, het Luis ook op die beoordelaarspanele van baie wedstryde gedien, ingesluit die gesogte Tsjaikofski Internasionale Klavierkompetisie vir Jong Musici (2012). Luis is ’n Yamaha International-kunstenaar.

Nina Schumann

By Uncategorized @af

nina@twopianists.com

Nina Schumann kom uit ’n musikale gesin, en ontvang haar vroeë musiekopleiding van Rona Rupert en Lamar Crowson. Haar eerste optrede saam met ʼn orkes was op 15-jarige ouderdom en haar talent trek vinnig die publiek se aandag toe sy die Vyfde Nasionale Musiekkompetisie vir Hoërskoolleerders in 1988 wen. Daarna wen sy die Oude Meester Musiekprys (1989), die Forté Kompetisie (1990) en in 1991 sowel die Wooltru Beurs as die Adcock-Ingram Musiekprys. Sy het meer as 140 concerto-uitvoerings saam met orkeste in Suid-Afrika, Duitsland, Portugal, Skotland, Armenië en die Verenigde State op haar kerfstok, en ongeveer 40 concerto’s in haar repertorium.

In 1993 wen Schumann die Samro Oorsese Beurskompetisie, en die Jules Kramer en Harry Crossley-beurse vir oorsese studies aan die Universiteit van Kaapstad word aan haar toegeken. Sy gaan nog verder deur die gesogte SAUK Musiekprys sowel as die Oude Meester Nasionale Kamermusiekkompetisie in te palm. Internasionale toekennings het gevolg: sy wen pryse vir die Beste Suid-Afrikaanse Pianis in die 1993 UNISA Internasionale Klavierkompetisie, is finalis en spesiale pryswenner by die Shreveport Concerto-kompetisie (1996) en verwerf die derde plek in die Casablanca Internasionale Klavierkompetisie (1997).

Ná voltooiing van haar MMus aan die Universiteit van Kalifornië, Los Angeles, skryf Schumann in vir ’n doktorsgraad in musiek aan die Universiteit van Noord-Texas onder die toesig van Van Cliburn-wenner, Vladimir Viardo. Sy ontvang ’n aantal akademiese pryse: Dekaansmedalje (UK), Beste uitvoerende kunstenaar (UCLA), Beste uitvoerende kunstenaar (UNT), Beste pianis (UNT) en Beste doktorale student (UNT). Met haar aanstelling as medeprofessor en hoof van klavier aan die Universiteit van Stellenbosch in 1999, word haar doktorsgraad na die Universiteit van Kaapstad oorgeplaas, en die graad in 2005 aan haar toegeken. In 2009 ontvang sy die Universiteit van Kaapstad se Rektorstoekenning vir Uitnemendheid ter erkenning van haar bydrae tot musiek.

Buiten haar sololoopbaan en akademiese lewe, het Schumann ’n hoogaangeskrewe duo gevorm saam met haar man, die pianis Luis Magalhães, eenvoudig getiteld TwoPianists. Hulle CD’s het gloeiende resensies van internasionale publikasies soos Diapason, International Record Review en Allmusic.com ontvang. In 2011 benoem American Record Guide hulle tweede CD as Redakteurskeuse.

Saam met Magalhães is Schumann stigterslid en direkteur van TwoPianists Records, wat wêreldwyd deur Naxos versprei word en sodoende onmiddellike toegang tot die internasionale mark verseker vir die kunstenaars met wie hulle opnamekontrakte sluit. Vir twee agtereenvolgende jare het TwoPianists Records die Suid-Afrikaanse Musiek-toekenning (Sama) vir die Beste Populêre Klassieke Album gewen. Schumann se eerste opname saam met mezzo-sopraan Michelle Breedt, Shakespeare Inspired, het ook die Duitse Critics’ Choice-toekenning ontvang.

Schumann het wêreldwyd by gesogte internasionale instellings en musiekskole, soos die Juilliard Skool, meesterklasse aangebied. Gedurende die 2013/2014-seisoen lewer sy haar langverwagte Wigmore Hall en Zürich Falke debute.

Sedert Mei 2014 is Nina Schumann ʼn Yamaha International-kunstenaar.

Marian Steyl

By Uncategorized @af

mariansteyl@mweb.co.za

Marian behaal die graad M Mus (cum laude) in 2018 aan die Universiteit Stellenbosch, met wyle Dawid Muller as haar klavierdosent en Boudewijn Scholten as haar orreldosent. Sy onderrig sedert 1984 klavier, blokfluit, musiekteorie en musiekgeskiedenis, en sedert 1987 ook orrel. In 1989 behaal sy die graad BA Honneurs in Musiekgeskiedenis onder prof Walton aan die Universiteit van die Witwatersrand. Marian beklee sedert 1988 orrelposte in die Noordelike Voorstede en onderrig verskeie orrelstudente wat tans kerkorreliste is. Sy hervat haar orrelstudie in 2011 onder Mario Nell en behaal in 2013 die Voordraerslisensiaat in orrel van Trinity College. Sedert 2010 doseer sy orrel aan die Konservatorium van die Universiteit van Stellenbosch.

Linda Claasen

By Uncategorized @af

lind.amuse@hotmail.com

Linda Claassen behaal B.Mus.Hons  sowel as M.Mus (Cum Laude) aan die US en Voordraerslisensiate in klavier en orrel aan UNISA. Sy was ‘n deelnemer aan die eerste twee Internasionale Klavierkompetisies wat deur UNISA aangebied is en het onder John Antoniadis, Adolph Hallis en Lamar Crowson gestudeer.
Onder haar leiding het die skoolkoor van Hoërskool Tygerberg (1994 – 2010) verskeie nasionale toekennings asook ‘n internasionale tweede plek verwerf. Vanaf 2007 tot 2012 was sy die stigter en dirigent van Tygerberg Camerata wat al die Suid-Ooster-en Woordfeeste gewen het en o.a  by Cultivaria, US Koorsimposium, Afri-Klassiek  opgetree het,  In 2011 was sy  koormeester van Cape Town Opera se produksie Brundibar in die Kunstekaapteater. Tygerberg Charité is ‘n musiekproduksie wat sy jaarliks saam met die S.A. Vlootorkes en kore in die Kaapse Stadsaal ten bate van liefdadigheid aanbied. Sy het ‘n Paul Harris toekenning van Bellville Rotariërs vir haar gemeenskapsdiens ontvang.  Sedert 2012 is sy deeltydse orreldosent by US en die dirigent van die Stadskoor Tygerberg.  Sy is in 2016 die hoof-beoordeelaar van ATKV se Animato koorkompetisie.
Linda is hoof van die Musiekdepartement van Hoërskool Tygerberg, orrelis by die NG gemeente De Tyger en deeltydse klavieronderwyser en begeleidster by die Hugo Lambrechts Musieksentrum.

Nina Fourie Gouws

By Uncategorized @af

Nina Fourie-Gouws is gebore in Pretoria, waar sy ook beide haar BMus- en Meestersgrade in Musiekvoordrag aan die Universiteit van Pretoria voltooi het, en aan die Universiteit van Suid-Afrika ‘n Lisensiaat in Klassieke Ghitaaronderwys ontvang het. In 2012 het sy ‘n post-doktorale kwalifikasie met onderskeiding aan die Suid-Afrikaanse Musiekkollege (Universiteit van Kaapstad) voltooi – die eerste ghitaarspeler wat hierdie prestasie behaal het.

Fourie-Gouws het meesterklasopleiding van ‘n aantal internasionale konsertghitaarspelers en pedagoë ontvang, waar onder Carlos Bonell (Royal College of Music), Nikita Koshkin (Rusland), Štěpán Rak (Tsjeggië), Victor Villadangos (Argentinië), Antigoni Goni (Griekeland) en Carlos Barbosa-Lima (Brasilië).

Nina Fourie-Gouws het ‘n bedrywige  konsertprogram deur die hele Suid-Afrika, met uitvoerings voor vol sale en staande ovasies, soos tydens tydens uitvoerings by die Woordfeeste van 2019 en 2020, die Classical for All-Fees en die Klein-Karoo Klassique. Sy was gassolis by die plaaslike televisieprogram Kyknet se Draadloos, sowel as besoekende kunstenaar by die 2018 Volterra Ghitaarprojek in Italië. Sy is sedert 2013 ghitaardosent by die Konservatorium van die Universiteit van Stellenbosch, war sy verantoordelik is vir die onderrig van voor-en nagraadse studente, asook begeleiding, repertoriumstudies en onderwysmetodiek.

Ncebakazi Mnukwana

By Uncategorized @af

mnukwana@sun.ac.za

Ncebakazi Mnukwana is in 2009 as lektor in musiekopvoeding aan die Universiteit van Stellenbosch se Departement Musiek aangestel, waar sy ook etnomusikologie en wêreldmusiek doseer. Met die toekenning van ’n akademiese beurs om vir ’n meestersgraad in multikulturele onderwys aan die Oslo Universiteitskollege in Noorweë te studeer, word Mnukwana ook die musiekleier van Inkululeko (2002-2005), ‘n koorensemble gevorm deur die Suid-Afrikaanse politieke uitgewekenes in Oslo in die laat 1980’s. Terug in Kaapstad was sy as vrywilliger die vokale instrukteur en dirigent vir die Pilgramage Ensemble (2009-2012) by die Mowbray Sewende-dag Adventiste Kerk. Sy doen tans opleeswerk vir haar PhD aan die Universiteit van Kaapstad met ’n spesifieke fokus op “umngqokolo”, die botoonsang van Xhosa-sprekende tienermeisies. In 2007 word die Navorsingsgenootskap en AW Mellon Stigtingbeurs vir doktorale studies deur die Universiteit van Kaapstad aan Mnukwana toegeken. Mnukwana ontvang doktorale befondsing van die Universiteit van Stellenbosch, as iemand wat deur die AW Mellon Mentorskapprogram gementor word, en ook ’n rektorstoekenning in 2015. Sy is ’n aktiewe lid van die Cape Cultural Collective, waar sy sedert 2012 in die veeltalige Rosa-koor sing, en is soundscaper met inheemse instrumente vir uHadi (2013), ’n opdragwerk vir ʼn poësie en musikale verhoogproduksie tydens die Frans-Suid-Afrikaanse seisoen 2012/2013. Sy het ook in opdrag as musiekregisseur opgetree vir Igqhiya Emnyama (2015) deur Cindy Mkaza-Siboto vir Infecting the City, Kaapstad en Insurrection III The Storming (2015) wat deur South African History Online vervaardig is.

Hans Roosenschoon

By Uncategorized @af

hroosen@sun.ac.za

Die komponis Hans Roosenschoon het musiek studeer in Suid-Afrika en Engeland (Division V [Composition], Royal Academy of Music, Londen, 1978; MMus [Komposisie] cum laude, Universiteit van Stellenbosch, 1989; DMus [Komposisie], Universiteit van Kaapstad, 1991).

Hy word deur die belangrikste liggame in Suid-Afrika om kommissies vir komposisies genader, waarvan orkeswerke die grootste deel uitmaak. Behalwe vir talle uitvoerings regoor die land, is sy musiek gespeel en uitgesaai in die VSA, in verskeie Wes- en Oos-Europese lande, Australië en in die Verenigde Konkinkryk. Sy diskografie sluit opnames vir die SABC se transkripsiediens in sowel as ’n verskeidenheid kommersiële opnames.

Hans Roosenschoon het ook belangrike bydraes op kultuurgebied in ander areas gelewer: as uitsaaier en musiekvervaardiger, as kunsadministreerder en promotor van Suid-Afrikaanse musiek, as beoordelaar by nasionale kompetisies en, vir 15 jaar, as direksielid van die Suid-Afrikaanse Musiekregte-organisasie (Samro).

In 2004 was Roosenschoon besoekende professor in komposisie aan die Mozarteum Universiteit, Salzburg, en in 2007 bied hy seminare aan oor sy musiek by die universiteite van Bristol en York in die VK. In November 2009 lewer hy die hoofrede by die konferensie Musiek en Migrasie wat deur die Nieu-Seeland Musiekwetenskapvereniging georganiseer en by die Universiteit van Canterbury in Christchurch aangebied is. In 2013 bied hy ’n seminaar oor sy musiek aan by die Koninklijk Conservatorium Den Haag, Nederland.

Vanaf 1998-2006 was Hans Roosenschoon die voorsitter van die Musiekdepartement en direkteur van die Konservatorium aan die Universiteit van Stellenbosch. Met sy uittrede as voorsitter wy hy sy aandag aan die instelling van ’n kursus in komposisie en orkestrasie. Vervolgens is die spesialisasierigting in komposisie in 2008 op voor- en nagraadse vlak aan die US ingestel, wat sedertdien gevestig is as een van die vooraanstaande kursusse van sy soort in SA.

http://www.roosenschoon.co.za

Ernst van Tonder

By Uncategorized @af

ernstvt@sun.ac.za

Ernst van Tonder het sy musikale opleiding in Bloemfontein begin op die ouderdom van 4, waar hy blokfluitlesse neem by Kobie Colditz. In 1997 verhuis hy na Richardsbaai waar hy die meeste van sy aanvanklike musikale opleiding ontvang. Vanaf 1997 ontvang hy klavieronderrig by Henriette Mans. Hy woon Grantleigh Kollege by vanaf 1999, waar hy klarinet neem by Marietjie Lotz, asook begin met saksofoon- en klavierlesse onder Hayley White (Smith) in 2007 en 2008. Vanaf 2008 neem hy privaat klavier en gevorderde teorielesse by Anne-Marie van der Merwe.

In 2008 was Ernst die beurswenner van die Zululand Mondi Eisteddfod, waar hy ses trofeë in verskillende kategorieë wen. Tussen 2004 en 2008 was Ernst die leier van die Grantleigh Blaasorkes en begeleier van sy hoërskool se koor. Hy slaag ook in 2006 sy Unisa graad 8-klarineteksamen.

In 2009 begin hy met sy BMus-graad aan die Universiteit Stellenbosch. As eerstejaarstudent was hy as klarinet- en saksofoonspeler betrokke by produksies van Nunsense Amen, West Side Story en Midnight the Moonlight and Me. Hy was lid van die Universiteit Stellenbosch Simfoniese Blaasensemble (USSBE) vanaf 2009-2013 as eerste klarinet en het onder leiding van bekende dirigente soos Robert Maxym, Allan Stephenson, Sean Kierman en Rik Gesqhuire gespeel. In 2012 ontvang Ernst sy BMus-graad, waar hy spesialiseer in komposisie onder toesig van prof. Hans Roosenschoon en klarinet onder Maria du Toit.

As komponis het Ernst werke getranskribeer vir die USSBE, koshuise se sêrgroepe en die orkes vir die jaarlikse KOMPOS-konsert. Hy het ook transkripsies vir konsert- en jazzorkeste as opdragwerke vir ensembles in Nieu-Seeland, Portugal, België en Frankryk gedoen. In 2013 en 2014 is hy bekroon met die Samro-komposisiebeurs. Van 2011-2014 is Ernst tesourier en orkesbestuurder van KOMPOS. In 2013 begin hy met sy MMus aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy spesialiseer in komposisie. Hy gee tans klas in elementêre musiekteorie, komposisie en orkestrasie vir die hoër sertifikaat- en diplomakursusse by die US Musiekdepartement.

Antoni Schonken

By Uncategorized @af

antoni@sun.ac.za

Antoni Schonken (1987-) was ’n komposisiestudent aan die Universiteit Stellenbosch onder Hans Roosenschoon. Hy verwerf die graad BMus cum laude in 2009, BMus (Hons) cum laude in 2011 en MMus cum laude in 2013. Na aanleiding van sy doktorale navorsing, waarin hy fokus op die ontwikkeling van ʼn algemene teorie vir orkespraktyk, word ʼn PhD-graad aan hom toegeken. Hy het die gesogte Harry Crossley-beurs vir nagraadse navorsing twee keer ontvang, en in 2014 word Antoni aangewys as die ontvanger van die Samro Oorsese Beurs vir Komponiste. Sy musiek vir instrumente, stem, verhoog en film is plaaslik sowel as internasionaal bekroon.

Schonken se komposisies, wat elemente van minimalisme, impressionisme en inheemse Suider-Afrikaanse style weergee, het reeds lof uit verskeie oorde ontvang. In onlangse resensies is sy musiek beskryf as delikaat gechoreografeer met ʼn gretige fokus op die ontwikkeling van stemkwaliteite binne instrumentale genres, terwyl sy seldsame deernis vir die Afrika-klanklandskap sy musikale idioom ’n diep, roerende geloofwaardigheid gee.

Schonken het opdragwerke vir ʼn aantal professionele ensembles en instellings soos die Goethe Instituut en Oxford Universiteit gekomponeer, en tans verteenwoordig hy Afrika as een van ses komponiste regoor die wêreld wat werk aan die Wêreld Mis- projek. KOMPOS (Komponiste van Stellenbosch), ’n projek wat Schonken in 2010 van stapel gestuur het, is daarop gerig om jong komponiste te help om uitvoerings van nuwe komposisies te realiseer. Sedertdien het KOMPOS daartoe bygedra dat meer as tweehonderd werke van studente uitgevoer is.

Mario Nell

By Uncategorized @af

mdn@sun.ac.za

Mario Nell word erken as een van Suid-Afrika se vooraanstaande uitvoerende kunstenaars en onderwysers en is ‘n Senior lektor aan die Univeriteit van Stellenbosch. Hy studier aan die universiteite van Port-Elizabeth en Stellenbosch voordat hy ‘n MMus behaal aan die Universiteit in Kaapstad asook ‘n PhD aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy behaal twee Voordraeslisensiate van Unisa en word ook aangewys as wenner van die Unisa Oorsese Musiekbeurskompetisie. Vanaf 1999-2001 studeer hy aan die Staatliche Hochschule für Musik in Freiburg, Duitsland, en vanaf 2006-2007 studeer hy aan die Zürich Universiteit vir die Kunste waar sy hoof fokus op Historiese Uitvoeringsprakyk was.

Hy ontvang eerste pryse by al die vernaamste musiekkompetisies in Suid-Afrika. Dit sluit in die Nasionale Jeugmusiek-,, die ATKV Prelude and Forte-, Mabel Quick-, Oude Meester- and Unisa Oorsese Musiekbeurs Kompetisies. Gedurende sy studies in die buiteland ontvang hy pryse tydens verskeie internasionale kompetisies, waaronder ‘n eerste prys tydens die Calgary internasionale orrelkompetisie met optredes in Duitsland en Hong Kong.

Sedert hy sy debuut gemaak het met die SAUK simfonie Orkes in 1993, het hy as solis opgetree met al die vernaamste simfonie orkeste in Suid-Afrika. Sedert 1999 het hy konsert optredes gehad in Duitsland, Switzerland, Frankryk, Nederland, die Tsjeggiese Republiek, Italië, Engeland en Suid-Korea. Hy was ook uitgenooi as gas-professor aan die Universiteit vir Kunste in Seoul, Suid-Korea, in 2002 en 2003.

Benewens sy optredes as solis, begeleier en kamermusiekspeler, is hy aktief as onderwyser en sy studente is reeds as algehele wenners van al die vernaamste musiekkompetisies in Suid-Afrika aangewys, onder andere die Sanlam-, Artscape-, Artstrust Klavier-, Mabel Quick-, Samro -, Grahamstad Nasionale-, Unisa Nasionale Orrel-, ATKV Muziq and Unisa Oorsese Musiekbeurs Kompetisie. Vanaf 2010-2014 ontvang hy jaarliks die Universiteit van Stellenbosch se Rektorstoekenning as uitstaande dosent. Hy word gereeld genooi om meestersklasse aan te bied, om as beoordelaar op te tree en tree op as eksaminator vir Unisa musiekeksamens.

Close Menu