Digitale Skenkersnuusbrief | Herfs 2024

Heineken borg die Program elke jaar sedert die bekendstelling daarvan in 2013. Die fondse word gebruik om te betaal vir die programbywoning deur kleinsake-eienaars in die groter Kaapstad-gebied. Die KSA het programme in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap.

"Oor die afgelope 10 jaar het meer as 400 kleinsake-eienaars die KSA-program voltooi," sê dr Bam.

Om te kwalifiseer vir die bywoning van die Program moet kleinsake-eienaars uit lae-inkomstegemeenskappe kom, hulle moet 23 of ouer wees, en hul besigheid moet vir minstens ses maande in bedryf wees. Die besighede is uiteenlopend, van media en bemarking tot paneelkloppers, eetplek-motorwasserye, boekhouding, plaasstalletjies, swemskole, en mode, skoonheid en gesondheid, om net ’n paar te noem.

"Tydens die 9 maande lange program leer die deelnemers, wat oor geen formele besigheidsopleiding beskik nie, als oor die bestuur van ’n besigheid,” verduidelik dr Bam. "Dit sluit in die ontwikkeling van sakeplanne, die byhou van behoorlike finansiële rekords, rekenaaropleiding, belastingbestuur, die skep van fakture, en die gebruik van sosiale media vir koste-effektiewe bemarking."

Die Program sluit in opleiding, mentorskap, werkswinkels, en betrokke leer met dosente aan die Stellenbosch Besigheidskool en MBA-gegradueerdes.

Die KSA-program kos ongeveer R70 000 per persoon. Deelnemers betaal R2 500 hiervan uit hul eie sak, terwyl die res betaal word deur die KSA, wat swaar op befondsers steun om kostes te dek. Die Program sluit vier persoonlike bloksessies van vyf dae elk in, en die deelnemers is vir hul eie vervoer verantwoordelik. Die deelnemers se etes en, indien nodig, hul verblyf word deur die KSA gedek.

Suksesvolle deelnemers verwerf ’n NKR vlak 5-sertifikaat van die Universiteit Stellenbosch (US) en word, waar van toepassing, leweransiers van die Universiteit. WhatsApp-groepe word gestig waar hulle mekaar se besighede kan ondersteun en waarheen hul ander met vertroue kan verwys.

Hier volg vier van die vele KSA-alumni wat oor die jare deur Heineken geborg is:

Jovan Korries, stigter van LBK Industries in Kaapstad, het die Program in 2022 voltooi. Hy is sedertdien ’n leweransier van die US, en die KSA is een van sy kliënte. Jovan doen hul bemarkingsbaniere en ‑promosies en het opdrag gekry om in 2024 ’n dokumentêre film oor die KSA te vervaardig.

Sheleen Cloete, stigter van Likamva Hospitality Services, het die Program in 2021 voltooi. Haar besigheid fokus op uitvoerende skoonmaak- en personeelbehoeftes in die groter Kaapstad-omgewing, en die diverse kliëntebasis sluit in korporasies, individue, en gasvryheidsondernemings. Sheleen is oorspronklik van die Noord-Kaap en het die programuitbreiding na Springbok in die Noord-Kaap aangevoer. Sy is ’n leweransier van die US.

Lindsay Vermeulen, ’n rekenmeester met ’n voorgraadse kwalifikasie in rekeningkunde, het die Program in 2022 voltooi. Sy het ’n boekhoumaatskappy genaamd Bookkeepers Cape Town, en het onlangs ’n kantoor in Johannesburg geopen. Sy hanteer belasting, maatskappyregistrasies, en die vele voldoeningsaspekte van besighede. As alumna het Lindsay in 2023 ’n meesterklas in belasting- en SEB-nakoming vir die Program gelei, en is ’n leweransier van die US.

Rushana Hartnick, stigter van die Little Mermaids Swim School, het die Program in 2012 voltooi en het sedertdien ’n MBA behaal aan die Stellenbosch Besigheidskool, wat vorige leer erken.

"Ons is trots op ons rekord van kleinsake-sukses," sê dr Bam. "Volgens ’n 2023-navorsingstudie gegrond op die Program van 10 jaar het 80% van die kleinsake-eienaars gesê hulle is steeds in bedryf. Hiervan het 98% gesê hul besighede het gegroei, terwyl sommiges bykomende besighede begin het.

"Indien ons kleinsake-ontwikkeling reg kan kry, kan ons indiensneming in Suid-Afrika aansienlik verhoog en tot ekonomiese groei bydra," sluit dr Bam af.