Digitale Skenkersnuusbrief | Herfs 2024

IPASA is ’n lidmaatskapgebaseerde organisasie van onafhanklike befondsers, bestaande uit sowel plaaslike as internasionale skenkers, wat verbind is tot die groei, ondersteuning en transformasie van filantropie in Suid-Afrika.

Die bekendstelling van die IPASA-befondserfokusgroep vir die hoër onderwys het deel uitgemaak van ’n befondsingseminaar vir die hoër onderwys, wat vir 15 April byeengeroep is en deur die Carl en Emily Fuchs-stigting befonds is.

Die HUB van die Fuchs-stigting en IPASA-raadslid, dr Riaan Els, sê: “IPASA se dienste aan sy lede behels kennisdeling en geleenthede om samewerking en netwerkvorming onder befondsers te vergemaklik. Ons het ook begin met verskeie inisiatiewe om ons lede en ander befondsers te ondersteun wat in belangrike befondsingsfokusareas soos vroeë kinderontwikkeling, en nou ook in die hoëronderwyssektor, belê. Vandaar die bekendstelling van ’n 2024 IPASA-befondserfokusgroep vir die hoër onderwys om befondsers wat spesifiek in die plaaslike hoëronderwyssektor belê te ondersteun. Hierdie inisiatief wil samewerking vergemaklik en die talle krisisse aanpak wat die sektor tans mee stoei.”

Els het bygevoeg dat IPASA die befondserfokusgroep-inisiatief landwyd wil uitbrei sodat universiteite, befondsers en ander rolspelers deel kan wees van wat gedoen word om studentetoegang en -sukses te vergemaklik.

Die Uitvoerende Direkteur van IPASA, Louise Driver, sê die voortgesette pogings om onafhanklike filantropie in Suid-Afrika te ondersteun was hul motivering om ’n groep invloedryke befondsers in die hoëronderwyssektor na die IPASA-befondsingseminaar vir die hoër onderwys te nooi.

“Ons is dankbaar teenoor die Universiteit Stellenbosch wat ’n platform beskikbaar gestel het vir befondsers en diegene wat aan die hoof staan van bepaalde universiteite in ons land sodat hulle hul ervarings kon deel en besin oor hoe hulle die befondsingskrisis saam kan aanpak.”

Die Direkteur van Fondswerwing by die US se Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge, David Marupen, sê: “Dit was vir ons ’n voorreg om die seminaar aan te bied waar die befondserfokusgroep bekend gestel is. Dit sluit direk aan by ons werk om die krisis rakende finansiële hulp vir studente aan te pak. Ons benodig ’n nasionale oplossing vir die probleem en hierdie inisiatief sal verseker dat die onderwerp hoog op die agenda bly wanneer instellings met vennote skakel.”

“Hierdie geleentheid het gewys dat verskillende rolspelers wel kan saamwerk om ’n nasionale probleem aan te pak wat dringende aandag verg,” het Marupen bygevoeg.

Altesaam 40 afgevaardigdes, bestaande uit IPASA- en nie-IPASA-lede, het die geleentheid met die tema “Higher Education Funding in Crisis – Whereto from Here?” bygewoon.

Die deelnemers het ook die probleme rondom die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) bespreek. Onder die sprekers was die US se Uitvoerende Bedryfshoof, prof Stan du Plessis, met sy aanbieding getiteld “The Real Conundrum Faced by HE Student Funding: An Economic Perspective”, terwyl die tussentydse Visekanselier van die Universiteit van Kaapstad, prof Daya Reddy, oor die UK se ervaring besin het. Nog ’n interessante perspektief het gekom van die voorsitter van Universities South Africa, prof Francis Petersen, wat omvattende en volhoubare toekomsmodelle vir studentebefondsing in Suid-Afrika beklemtoon het.

’n Paneel bestaande uit verskeie befondsers en gemodereer deur die Uitvoerende Trustee van die Harry Crossley-stigting, Linda Whitfield, het aan ’n bespreking oor die bestaande NSFAS-krisis en die behoefte aan nouer samewerking deelgeneem.

Die Bestuurder: Studentetoegang aan die US, Candice Egan, het ’n oorsig gegee van befondsde studentebeurs- en omvattende steunprogramme aan die US. Die seminaar is met ’'n sessie oor die toekoms van die nuutgestigte befondserfokusgroep afgesluit.