Digitale Skenkersnuusbrief | Herfs 2024

Die jaarlange SciMathUS-program gee hoërskoolleerders wat reeds graad 12 geslaag het, maar nie vir hoëronderwyskeuring kwalifiseer nie, 'n tweede kans om hul Nasionale Senior Sertifikaat resultate in Wiskunde, Fisiese Wetenskappe en Rekeningkunde te verbeter. Dit stel hulle dan in staat om weer vir universiteitsprogramme aansoek te doen.

SIOC-CDT is in 2006 deur Kumba Iron Ore Limited gestig om te belê in die opheffing van die gemeenskappe waarin die mynmaatskappy in die Noord-Kaap en Limpopo bedrywig is. Die sleutel tot hierdie pogings is 'n sterk fokus op onderwys- en vaardigheidsontwikkeling. Dit het daartoe gelei dat die SIOC-CDT verskeie onderwysinisiatiewe geïmplementeer het. Hul betrokkenheid by SciMathUS vanaf 2019 is deel daarvan.

Refilwe Disetlhe het 'n beurs van die SIOC-CDT ontvang om die SciMathUs-program in 2019 te voltooi.

Deur harde werk en toewyding het sy daarin geslaag om haar Wiskundepunt van 48% tot 71% te verhoog en haar Fisiese Wetenskappe-punt van 53% tot 76%. Dit het haar in staat gestel om aanvaar te word vir verdere studie aan die US en om 'n BSc in Molekulêre Biologie en Biotegnologie te verwerf.

"Ek wil graag die SIOC-CDT bedank dat hulle in my geglo het en my 'n tweede kans gegee het. Hulle ondersteuning het my nie net gehelp om my akademiese resultate te verbeter nie, maar het my ook in staat gestel om 'n belangrike mylpaal te bereik deur die eerste een in my familie te word om 'n graad te verwerf. Hierdie geleentheid sal deure oopmaak en het ook 'n positiewe rimpeleffek geskep wat toekomstige geslagte in my familie sal beïnvloed," het sy gesê.

Disetlhe, wat van Kuruman in die Noord-Kaap afkomstig is, volg vanjaar 'n BSc Honneurs in Plantpatologie.

Amogelang Mataboge het ook 'n BSc in Molekulêre Biologie en Biotegnologie verwerf. Hy het 'n beurs van die SIOC-CDT ontvang om die SciMathUs-program in 2020 te voltooi. Die maatskappy het ook sy studies aan die US gedek. Gedurende sy SciMathUS-jaar het hy sy Fisiese Wetenskappe-punt van 65% tot 90% en sy Wiskundepunt van 56% tot 86% verbeter.

Mataboge, van Thabazimbi in Limpopo, sê hy is dankbaar teenoor die SIOC-CDT dat hulle sy hoër onderwys droom moontlik gemaak het.

"Julle onwrikbare ondersteuning het my nie net in staat gestel om 'n BSc in Molekulêre Biologie en Biotegnologie te behaal nie, maar het ook deure oopgemaak vir 'n wêreld van moontlikhede en geleenthede. Dankie dat julle in my opvoeding belê het en dat julle glo in die positiewe impak wat wetenskaplike pogings kan maak. Ek het groot waardering vir die transformerende impak wat julle ondersteuning op my akademiese en professionele aspirasies gehad het."

Hy volg vanjaar 'n honneursprogram in Biochemie.

"Wanneer ek my akademiese reis voltooi het, beoog ek om óf 'n werk te kry óf 'n internskap te onderneem wat ooreenstem met my passie en kundigheid in my veld," het hy bygevoeg.

Kabelo Tlhabadira het 'n graad in Siviele Ingenieurswese behaal nadat hy die ScimathUS-program in 2019 suksesvol voltooi het danksy 'n beurs van SIOC-CDT. Hy het aan die einde van sy SciMathUs-jaar 90% vir Wiskunde en 85% vir Fisiese Wetenskappe behaal, 'n reusesprong van die 45% en 58% wat hy onderskeidelik vir Fisika en Wiskunde in matriek behaal het.

SIOC-CDT het ook tot en met sy derde jaar sy ingenieurstudies aan die US gefinansier. Khumba Iron Ore het toe sy studies vir die vierde jaar gedek.

"Ek wil baie dankie sê aan SIOC-CDT vir die geleentheid wat hulle my gebied het," het Tlhabadira gesê. "Hulle het die universiteitslewe vir my makliker gemaak en dit het my in staat gestel om uitsluitlik op my studies te fokus."

Vanjaar neem hy 'n pos op by Khumba Iron Ore in die Noord-Kaap.

Vusani Malie, Uitvoerende Hoof van die SIOC-CDT, het gesê die sukses van hierdie gegradueerdes is bewys dat die maatskappy se mandaat om ondersteuning te bied wat begunstigdes in staat sal stel om te floreer, besig is om vrugte af te werp.

"Dit gee ons groot plesier om te sien dat die belegging in hulle nie tot niet gegaan het nie, maar ons 'n goeie opbrengs gee. Ons is seker dat hul prestasies toekomstige geslagte in hul families sal inspireer om sukses te beskou as iets wat moontlik is en wat hul lewenstandaard kan verbeter."