Digitale Skenkersnuusbrief | Herfs 2024

Die program is ontwerp ter bemagtiging van universiteitstudente, van wie vele die eerste in hul gesinne is wat universiteit bywoon, en ter bereiking van hul oogmerk om ’n graad te verwerf en ’n betekenisvolle loopbaan te begin.

Die program keur studente wat ingeskryf is vir professionele en gesogte studierigtings aan die US, vir ’n aanvullende beurs wat enige gaping in die volle koste van hul universiteitsbywoning dek. Studente ontvang ook deurlopend geteikende en persoonlike leiding en hulpbronne op kampus van toegewyde programpersoneel. Dit sluit in akademiese steun, welstandhulpbronne, leierskapontwikkeling, loopbaanafrigting, en werkplasings ná graduering.

Laylaa Davids, een van 100 studente wat in 2020 vir die US se eerste kohort Dell-jongleiers gekeur is, sê deur die beurs en steun wat die program voorsien het, kon sy haar ’n toekoms ná universiteit voorstel.

Laylaa het in 2022 ’n BCom in Finansiële Bestuur behaal en dit opgevolg met ’n honneursgraad in Strategie en Innovasie in 2023. In 2024 het sy die wêreld van werk suksesvol betree as deel van ’n nagraadse program in batebestuur. Sy sê die gereelde opvolg deur personeel op die kampus vir die volle duur van haar universiteitsloopbaan het gehelp dat sy die regte kopspasie kon behou om op haar studies te konsentreer en haar graad suksesvol af te handel.

“Met hulp soos loopbaanafrigting, mentorskap en skynonderhoude het ek my vrees vir die toekoms ná universiteit oorkom. Ek is nou vol vertroue en gereed om die arbeidsmag te betree.”

Sedert 2020 is altesaam 665 studente in die program aan die US verwelkom. “Die Dell-jongleiersprogram dra aansienlik by tot studentesukses aan ons instelling,” sê Bruns. ’n Onlangse verslag toon dat 96% van die studente in die Dell-jongleiersprogram aan die US behou is, met 58 wat gegradueer het en 580 wat aktief by hul studie aan die US betrokke gebly het. Die program spog ook met ’n werkplasingskoers van 98% vir gegradueerdes of loopbaanverbeterende verdere studie binne 3 maande, wat volgens Bruns werklikheidsgetroue sukses beteken. Die mikpunt oor vyf jaar is dat die program 1 000 Maties wil bevoordeel.

Toe die program in 2020 by die US ingestel is, het die Universiteit ’n verbintenis gegee tot die toekenning van meer beursfondse om die aantal studente wat uit die program voordeel trek te verhoog en studentesukses sodoende te verdubbel.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het toe gesê, “Die Dell-jongleiersprogram is ’n werktuig wat die US help om kern- strategiese doelwitte te bereik. By die US waardeer ons ons studente en is ons verbind daartoe om ’n transformerende studente-ervaring aan elkeen van hulle te bied.”

Die Dell-jongleiersprogram wil graag tred hou met die ontwikkelende behoeftes van US-studente terwyl hulle die uitdagings van die lewe ná universiteit aanpak en ’n loopbaan begin.

Helen Vaughan, Programdirekteur by die Michael & Susan Dell-stigting, sê: “Ons is opgewonde om die impak van fakulteitsgeleide akademiese intervensies te sien aan die hand van die US se breër institusionele belegging in studentesukses. Met die program se graduandi-getalle wat groei [tans 100+ finalejaarstudente], is ons optimisties oor vennootskappe met werkgewers en US-alumni om toegang tot betekenisvolle werksgeleenthede vir die gegradueerdes in die Dell-jongleiersprogram te verbreed sodat hulle lewensveranderende uitkomste kan behaal.”

Om meer oor die Dell-jongleiersprogram te wete te kom besoek dellyoungleaders.org. Die Dell-jongleiersprogram is ’n vennootskap tussen die Universiteit Stellenbosch en die Michael & Susan Dell-stigting.