Digitale Skenkersnuusbrief | Herfs 2024

Die #Move4Food-inisiatief is in Augustus 2018 gestig om geld in te samel om voedselsekerheidinisiatiewe aan die US te help volhou. Die inisiatief vorm deel van die Universiteit se Jaarfonds, Bridge the Gap.

Hierdie jaar het ’n rekordgetal van 70 fietsryers onder leiding van die US se rektor en visekanselier, prof Wim de Villiers, hul hand opgesteek om op Sondag 10 Maart ten bate van Maties fiets te trap.

Vir Efrayim, ’n graad 8-leerder aan Hoër Landbouskool Boland in die Paarl, was dit die verste wat hy nog ooit fietsgery het. Hy het eers verlede jaar aan padfietsry begin deelneem en sy afrigter en mede-#Move4Food-fietsryer, Francois Bothma, het hom aangemoedig om aan die inisiatief deel te neem.

"Ek het nie geweet wat om op die dag te verwag nie, maar ek was nie bang nie – ek was eintlik baie opgewonde."

Hy het die wedren in die inspirerende tyd van 4:46 voltooi en R4 250 vir die inisiatief ingesamel.

Deelname aan die geleentheid het hom gehelp om twee doelwitte gelyk te bereik.

"Ek het die wedren voltooi, en geld vir liefdadigheid ingesamel. Ek is mal oor die Universiteit Stellenbosch en sal graag eendag daar wil studeer, indien moontlik. Ek weet nog nie wat ek sou wou doen nie, maar ek weet ek wil ’n verskil maak."

Dit maak Efrayim hartseer dat mense, en veral studente, honger ly.

"Ek sal eerder nou help, want ek dink nie ek wil in só ’ֹn situasie beland nie. Ek is dankbaar dat ek deel van die oplossing kan wees."

Sy gesin en vriende is baie trots op hom.

"Sommige van hulle, soos my afrigter Oom Francois Bothma en Oom Sean Fatboy, het ook aan die wedren deelgeneem en my die hele pad ondersteun."

Hy sal graag weer die wedren wil aandurf, maar met meer oefening en in ’n vinniger tyd. Hy wil ook almal aanmoedig om betrokke te raak by inisiatiewe om ander mense te help.

"As almal help, sal die wêreld ’n beter plek wees."

Efrayim se ma Salome sê hy word grootgemaak om te staan vir dit waarin hy glo.

"Ons is baie trots op hom vir die inspanning wat dit gekos het om die geld in te samel en die wedren te voltooi, én omdat hy leef wat hy glo. Elke klein poging help."

Wanneer hy nie fietsry nie, hou Efrayim daarvan om rugby en videospeletjies te speel. Sy gunstelingmaaltyd is sy ouma se herderspastei. 

Danksy ons fietsryers is R122 995 reeds ingesamel. Jy kan ons help om die momentum aan die gang te hou deur te skenk of by ons volgende geleentheid aan te sluit. Skenkings word steeds verwelkom en met dankbaarheid aanvaar.