Digitale Skenkersnuusbrief | Herfs 2024

Een so ’n skenker is die PA & Alize Malan-gedenktrust. Die Regskliniekbestuurder, professor Theo Broodryk, beklemtoon die belangrike werk wat die Kliniek vir gemeenskappe dwarsdeur die Helderberg-, Drakenstein- en Kaapse Wynlandstreek doen.

"Die Regskliniek het vir die eerste keer in 2023 befondsing van die PA & Alize Malan-gedenktrust ontvang. Hierdie befondsing is strategies aan verskeie projekte toegewys om regsbewustheid te bevorder en toegang tot geregtigheid oor die hele Suid-Afrika te verleen," sê Broodryk.

Die befondsing wat van die PA & Alize Malan-gedenktrust ontvang word, stel die Regskliniek in staat om:

  • kwalifiserende persone in te lig en te bemagtig deur billike en gelyke toegang tot gehalte- en koste-effektiewe regsdienste en steun
  • die geskikte persone in te lig en te bemagtig deur die verspreiding en verskaffing van tersaaklike, gehalte-regsinligting en opleiding
  • die Kliniek se bestaan en die vermoë daarvan om tersaaklike, koste-effektiewe dienste aan te bied, te handhaaf

Die opleidingsprojek-inisiatief insake grondwetlike regte word deels moontlik gemaak deur die steun van die PA & Alize Malan-gedenktrust. Oor die afgelope ses jaar het die Regskliniek meer as 470 deelnemers dwarsdeur Suid-Afrika bereik.

Laasjaar het 404 deelnemers die projek van 30 Oktober tot 3 November bygewoon namate die reikwydte daarvan oor landsgrense uitbrei, en daar is saamgewerk met Strathmore Universiteit se Regskliniek om bemagtigingsessies oor grondwetlike regte in Kenia te hou. Hierdie sessies, wat op strategiese plekke soos Lasuuk, Maralal, en Twala gehou is, wil landelike en gemarginaliseerde gemeenskappe bemagtig deur hul begrip van grondwetlike regte te verbeter.

"Nog ’n belangrike projek wat met die PA & Alize Malan-gedenktrust se befondsing gefasiliteer is, is die Wills Week on Wheels-projek," sê Broodryk. "Hierdie projek behels dat die Kliniek kwalifiserende lede van die publiek deur die jaar bystaan met die opstel van hul testament, deur verskeie gemeenskappe te besoek en gratis bystand in daardie gemeenskappe te verleen aan individue wat dit die nodigste het."

In 2023 het die Kliniek ’n suksesvolle Wills Week in die Paarl- en Strand-gemeenskap oor vier dae gehou en testamente vir verskeie kwalifiserende individue opgestel. Die bemagtiging van die US Regskliniek bied gevolglik werklike oplossings vir werklike uitdagings.

Broodryk benadruk die belang van en deurslaggewende rol wat skenkers soos die PA & Alize Malan-gedenktrust speel om die Kliniek se werk tersaaklik en doelmatig te hou vir diegene in gemarginaliseerde en kwesbare omstandighede.

"Met hierdie befondsing kan die US Regskliniek kwalifiserende persone inlig, bemagtig en toerus via billike en gelyke toegang tot gehalte- kostedoeltreffende regsdienste. Boonop ondersteun dit die verspreiding van tersaaklike regsinligting en help dit om die Kliniek se bestaan te verseker, sodat die vermoë daarvan om veral noodsaaklike dienste aan kwesbare gemeenskappe te lewer, volhou kan word."