Digitale Skenkersnuusbrief | Herfs 2024

SIOC-CDT het R4.8 miljoen tot die projek bygedra wat dit moontlik maak vir 21 verpleegkundiges van die provinsie se Tsantsabane- en John Taolo Gaetsewe-distriksmunisipaliteite om beurse te ontvang om vir een jaar voltyds by die US se Departement Verpleeg- en Verloskunde te studeer.

Die intervensie het ten doel om die Verenigde Nasies (VN) se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwit (VOD) 3, wat daarop fokus om gesonde lewens te verseker en welstand vir almal te bevorder, direk aan te spreek. Verder dra dit by tot sub-doel 3.1 wat vereis dat die wêreldwye moedersterfteverhouding teen 2030 verminder moet word tot minder as 70 per 100 000 lewende geboortes. Volgens StatsSA 2022 was die moedersterfteverhouding in die Noord-Kaap in 2020 109.9 sterftes per 100 000 lewende geboortes. Tans is daar 'n wesenlike tekort aan geskoolde geboortepersoneel in Suid-Afrika wat gelei het tot uitdagings in effektiewe beplanning en implementering van strategieë om by volhoubare ontwikkelingsdoelwitte betrokke te raak. Toenemende onderwysgeleenthede vir geskoolde geboortepersoneel sal nie net die tekort verbeter nie, maar verbeterde moederuitkomste moontlik maak. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie het die wêreld teen 2030 'n bykomende nege miljoen verpleegsters en vroedvroue nodig om die derde VOD oor gesondheid en welstand te realiseer.

Die intervensie sal ook die opleiding van noodverpleegkundiges, peri-operatiewe verpleegkundiges en verpleegkundiges in kritieke sorg moontlik maak.

Die groep van 21 verpleegkundiges is tans ingeskryf vir die volgende nagraadse diplomaprogramme by die Departement Verpleeg- en Verloskunde:

Verloskunde: Studente leer hoe om krities te besin oor die huidige denke, praktyke en navorsingsmetodes in dié veld en gebruik dit om die gesondheid van vroue te verbeter.

Primêre sorg verpleegkunde: Die Suid-Afrikaanse regering het die belangrikheid van dié oorwegend verpleegstergedrewe primêre gesondheidsorgdiens as die hoeksteen van die gesondheidsorgstelsel erken. Om die suksesvolle implementering van die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering in Suid-Afrika te verseker, speel die Departement van Verpleeg- en Verloskunde 'n sleutelrol in die opleiding van hierdie spesialiste in primêre sorg verpleegkunde.

Noodverpleging: Dié program bied aan studente diepgaande kennis en terapeutiese vaardighede om kritiek of beseerde pasiënte in 'n verskeidenheid noodsituasies te diagnoseer, te behandel, te versorg en te bestuur.

Peri-operatiewe verpleging: Hierdie opleiding sal die houdings, kennis en vaardighede van die student ontwikkel om peri-operatiewe pasiëntsorg met insig, selfvertroue en deernis te bied.

Prof Portia Jordan, uitvoerende hoof van die Departement Verpleeg- en Verloskunde, het haar dank teenoor die leierskap en bestuur van SOIC-CDT uitgespreek.

"Dankie dat julle aan ons die geleentheid bied om by te dra tot die ontwikkelings- en opvoedkundige behoeftes van die Noord-Kaap provinsie. Die Departement Verpleeg- en Verloskunde is bevoorreg om die opleiding van 21 spesialisverpleegkundiges van die Noord-Kaap provinsie te fasiliteer. Ons voel ons intervensie sal 'n positiewe bydrae maak tot die lewering van gehalte gesondheidsorg in die provinsie en in Suid-Afrika," het sy gesê.

Volgens Jordan is daar tans geen nagraadse programme in die Noord-Kaap beskikbaar om spesialisverpleegkundiges op te lei nie.

"Deur hierdie projek is ons in staat om die provinsie by te staan om die nasionale prioriteite en behoeftes vir gesondheidsorglewering en die dringende behoefte aan spesialisverpleegkundiges aan te spreek. Die projek is uniek aangesien dit nie net die student finansieel ondersteun deur klasgelde, boeke, verblyf, maaltydtoelaes en skootrekenaars nie, maar ook met hul akademiese behoeftes deur werkswinkels, IT-oriënteringsessies, emosionele ondersteuning, ens. Ons doel is om toegang tot sukses te verseker.”

Kgadi Magongoa, SIOC-CDT-projekleier, het gesê die rede waarom hulle 'n vennootskap met die Noord-Kaapse Departement van Gesondheid en die US aangegaan het, is om te verseker dat verpleegkundiges in die provinsie goed opgelei is om die VN se VOD 3 teikens te verwesenlik.

"Dit is ook ons wens dat hierdie verpleegkundiges hul kwalifikasies en kundigheid sal aanwend om gemeenskappe te help om beter sorg te kry," het sy bygevoeg.

Magongoa het gesê die plan is om die vennootskap met die Departement van Verpleegkunde en Verloskunde voort te sit om gespesialiseerde verpleegkundiges op te lei. Hulle beoog om nog 'n groep verpleegkundiges in 2025 te finansier.