Digitale Skenkersnuusbrief | Herfs 2024

Die Kistefos AS-geleentheidsbeursprogram word bestuur deur die Small Projects Foundation (SPF), 'n Oos-Kaapse geregistreerde Trust. Kistefos AS, deur sy eienaar, Christen Sveaas, skenk deur SPF aan verskeie programme in die gesondheid-, onderwys-, ekonomiese - en gemeenskapstruktuursektore.

Die Kistefos AS-geleentheidsbeursprogram, wat sedert 2019 by die US in werking is, sal tot 2027 geld. Gedurende hierdie tyd beoog die maatskappy om 'n bedrag van US$2,1 miljoen aan begunstigdes aan die US en Rhodes Universiteit, waar die fonds ook aktief is, te skenk.

Daar word beraam dat altesaam 38 studente teen die einde van die huidige befondsingsiklus onder die Kistefos AS-geleentheidsbeursprogram aan die US sal gradueer.

Studente word gekies vir befondsing op grond van finansiële behoefte, akademiese uitnemendheid, 'n bewese rekord van diens aan hul gemeenskap en ervaring in leierskapsposisies.

Luke Baisley, Kistefos AS se programbestuurder by SPF, sê: "Die meerderheid van ons begunstigdes (sodra hulle in die program aanvaar is) gaan voort om klasverteenwoordigersposisies, Huiskomiteeposisies en sosiale impakposisies in te neem. Studente betrek hulself by individuele gemeenskapsdiensprojekte wat hulle na aan die hart lê en ook as 'n groep. Spanwerk en sosiale netwerke is 'n positiewe uitvloeisel van die program."

Hy voeg by: "Kistefos is op soek na studente wat waarskynlik in die toekoms etiese leiers sal word. As jy nou 'n verantwoordelike etiese leier is, is die kanse goed dat jy in die toekoms ook 'n verantwoordelike etiese leier sal wees. Dit is die mense wat Kistefos wil ondersteun."

Slegs studente van die Oos-Kaap in die tweede jaar van hul studies kom in aanmerking vir befondsing. Studente word ondersteun oor 'n wye reeks studiedissiplines van medisyne, datawetenskap, landbou, handel, musiek, finansies tot rekeningkunde.

Ivana Stevens van Makhanda (voorheen Grahamstad) het aan die begin van die tweede jaar van haar BSc Menslike Lewenswetenskappe (Fisiologie en Genetika) studies aan die US in 2022 'n Kistefos-beurs ontvang.

"Weens moeilike finansiële omstandighede het ek aansoek gedoen vir die beurs in die hoop om my ouers te verlig van die stres wat met universiteitsfooie gepaard gaan. Om wetenskap te studeer is baie duur weens teoretiese en praktiese sessies in die laboratoriums, byvoorbeeld. Hierdie beurs was niks minder as 'n absolute seën nie en ek voel uiters dankbaar en bevoorreg. Dit het my ouers gehelp om my na 'n topuniversiteit te stuur en het my toegelaat om blootgestel te word aan die wonderlikste geleenthede, fasiliteite, dosente en mense," sê Stevens.

"Ek is ook verskriklik dankbaar vir die geleentheid wat die beurs my bied om in Augustus vanjaar na Oslo te reis om ons vrygewige stigter, mnr Sveaas, te ontmoet, en om die maatskappy te sien wat ons met hierdie wonderlike geleenthede borg."

Kistefos AS befonds tans ook haar honneursstudies in Fisiologiese Wetenskappe.

Tom Heath, van Gqeberha, het verduidelik hoe hy 'n Kistefos AS-beurs losgeslaan het om sy Baccalaureusstudies in Datawetenskap voort te sit.

"Teen die einde van my eerste jaar in 2022 het ek 'n kruispad bereik waar befondsing vir universiteit nie volhoubaar vir my gesin was nie. Dit was op hierdie stadium dat ek vir beurse begin aansoek doen het. Nadat ek die Universiteit Stellenbosch se beursplatform besoek het, is die aansoek vir die Kistefos AS-beurs aan my gestuur. Die beurs word toegeken op grond van akademiese uitnemendheid, gemeenskapsdiens en leierskapprestasie – areas waarin ek uitblink. Ek het aansoek gedoen met die wete dat ek 'n geskikte kandidaat is."

Heath sê die beurs het 'n groot invloed op sy lewe en die lewens van sy gesin gehad.

"Dit het die stres verbonde aan akademiese studies, kos, fooie en huis besoeke heelwat verlig. Ek is baie dankbaar vir die druk wat dit van my ouers afgehaal het, veral van my ma wat drie voltydse posisies moes volstaan om my fooie te dek."

Kistefos AS, wat in 1998 in Oslo, Noorweë gestig is, ondersteun ook beursprogramme aan die Harvard Kennedy School, IE Universiteit en die Universiteit van St Gallen. Daarbenewens ondersteun die maatskappy gereeld humanitêre organisasies en sosiale entrepreneurskap deur verskeie inisiatiewe.