Digitale Skenkersnuusbrief | Herfs 2024

RESEP is al sedert 2007 betrokke by langtermynnavorsing wat verband hou met kwessies oor armoede, inkomsteverdeling, maatskaplike mobiliteit, ekonomiese ontwikkeling en maatskaplike beleid.

Die navorsingsdinktenk is genooi om ’n voorstel te skryf vir ’n navorsingvennootskap tussen RESEP en die Epoch en Optima Trusts – onafhanklike trusts wat deur Anglo American gestig is – in antwoord op die trusts se wens om strategiese navorsing oor onderwys en onderwysbeleid in Suid-Afrika te finansier. Die waarde van die bewilliging is R6.5 miljoen per jaar oor vyf jaar, wat jaarliks aangepas sal word om vir inflasie voorsiening te maak.

Volgens hierdie voorstel bly leeruitkomste in Suid-Afrika swak en ongelyk, en is enige prestasievordering wat gemaak is, beduidend benadeel deur ontwrigtings wat die Covid-19-pandemie veroorsaak het.

"Om stelselprestasie na te spoor en maniere te identifiseer om stelselverbetering te ondersteun, bly so noodsaaklik as ooit," sê die navorsers, onder leiding van prof Servaas van der Berg, wat 15 jaar lank, tot 2022, die navorsingleerstoel in die ekonomie van sosiale beleid beklee het.

In ’n ná-Covid-19-hersteltydperk beoog die voorstel ’n vyfjaarprogram van navorsing om die leerproses en ongelykhede in die leerproses na te spoor, sowel as om nuwe weë te baan om stelselprestasie deur remediëring (as ’n alternatief vir herhaling) te verbeter, assessering te verbeter, en ’n beter begrip te kry van die bydrae wat sosio-emosionele vaardighede tot akademiese uitkomste lewer.

Volgens die navorsers sal die eerste komponent van die navorsing kwantitatief wees en daarop gemik wees om bestaande en nuwe onderwysdatastelle te ontleed. Die ontleding sal poog om inligting te verskaf vir beleidmaking en gebiede te identifiseer waarop daar verbeter kan word, sowel as om inligting vir die kwalitatiewe werk te verskaf. Die tweede komponent sal kwalitatief wees en daarop gemik wees om waarneming in klaskamers en laboratoriums vir leer te doen. Dit sal in samewerking met navorsers van die Universiteit Kaapstad gedoen word.

Die derde komponent sal verband hou met die bou van onderwysnavorsingkapasiteit binne RESEP en die land, deur PhD- en postdoktorale navorsers binne die navorsingprogram te ondersteun, sowel as om opleiding-, mentorskap- en netwerkgeleenthede aan navorsers en beleidmakers te verskaf.

"Om kapasiteit vir navorsing op die langer termyn te verskaf, is ’n belangrike deel van wat ons by RESEP doen," sê Van der Berg.

Danksy hierdie finansiering kan RESEP nou beurse aan minstens twee meesterstudente, drie doktorale studente en twee postdoktorale navorsers bied.

"Daar is nie meer soveel finansiering vir navorsing deur die formele stelsel beskikbaar nie, en ’n bewilliging soos hierdie een stel ons in staat om langer kontrakte aan ons navorsers te bied, en hulle sodoende langer in die akademiese omgewing te hou. Dit is ’n belangrike deel van hul groei as navorsers."

Met hierdie finansiering sal RESEP op huidige navorsing kan voortbou, soos "Covid-19 en ongelykheid in leesuitkomste in Suid-Afrika: PIRLS 2016 en 2021" en "Vroeëgraadherhaling in Suid-Afrika: Implikasies vir lees".