Digitale Skenkersnuusbrief | Herfs 2024

As deel van die tweede fase word ’n vlagskipnavorsingsfasiliteit later vanjaar op ’n terrein naby Somerset-Wes gevestig waar 10 hektaar met vier verskillende spesies Eucalyptus of “gombome” beplant sal word. Die klem val daarop om dieptekennis te bekom oor die geheim agter die houtproduksie van hierdie vinnig groeiende bome, wat bepaalde bloekombome die hoogste blomplante ter wêreld maak.

“Hierdie nuwe navorsingsprojek, wat bekend staan as IMPACT (in Engels, Intensive Monitoring of Planted and Competing Trees), sal ’n waardevolle bydrae lewer tot volhoubare bosbestuur wêreldwyd en in Suid-Afrika, waar die bedryf jaarliks miljarde rand tot Suid-Afrika se BBP bydra,” sê prof David Drew wat die EucXylo-leerstoel in die Departement Bos- en Houtkunde beklee.

Projek IMPACT is ’n opeluglaboratorium wat navorsing op ’n nuwe terrein van boskunde ontgin en ten toon stel, met die span wetenskaplikes wat uit Australië, Europa en die Verenigde State daaraan saamwerk.

“Wetenskaplik wil ons verstaan hoekom bloekombome so vinnig groei; wat hulle so produktief maak,” sê prof Drew wat al meer as 25 jaar by boskundenavorsing in Suid-Afrika en Australië betrokke is en die projek as sy mees opwindende projek tot dusver beskou. Die befondsing spreek vanself. Benewens die Hans Merensky-steun, het EucXylo ook R2.7 miljoen bekom via die Departement van Wetenskap en Innovasie se Sektorinnovasiefonds, wat Bosbou Suid-Afrika vir die bosboubedryf administreer.

Suid-Afrika beskik oor sowat ’n halfmiljoen hektaar bloekomboomplantasies hoofsaaklik in Mpumalanga en KwaZulu-Natal. “Die uitbreiding van hierdie gebied word deur wetgewing beperk,” verduidelik prof Drew. “Dit is waarom navorsing so belangrik is, want ons wil die produktiwiteit van ons woude verhoog sonder om die aangeplante gebied te vergroot.”

Bloekombome word vir vele doeleindes gebruik, waaronder ’n groot verskeidenheid chemiese produkte, klerasie en voedselprodukte, terwyl die hoëgehaltehout in die boubedryf gebruik word. Bome wat vir pulp gebruik word, word al op 7 tot 10 jaar gekap, terwyl hulle op 20 tot 30 jaar as ’n houthulpbron gekap word. Dit is ’n kort tydsbestek in die bosboubedryf.

“Vir projek IMPACT gaan ons ’n reeks wetenskaplike instrumente bekendstel vir die voortdurende monitering van omgewingstoestande, asook die groei en fisiologie van die bome. Die sensornetwerk word dan direk aan die internet gekoppel sodat ons letterlik kan kyk hoe die bome groei. Afbeeldings en skanderings van die bos kan dan gereeld via afstandswaarnemingstelsels soos LiDAR gemaak word om ’n 3-D-model van die bome te skep.”

Die optimale bestuur van bloekombome was van groot belang vir die skenkerstigting se naamgenoot, dr Hans Merensky (1871 tot 1952), ’n myngeoloog en natuurbewaarder wat sy fortuin gemaak het uit die ontdekking van mineraalafsettings soos platinum en fosfaat. Hy het ’n groot deel van sy welvaart aan navorsing in bosbou, landbou en tuinbou gewy. Merensky het geglo dat bloekombome ’n waardevolle hulpbron vir Suid-Afrika kan wees wanneer dit volhoubaar bestuur word. Hy was iemand wat voortdurend geëksperimenteer het, en die Leerstoel eer hierdie passie.

Vir meer inligting: https://blogs.sun.ac.za/eucxylo/