Skip to main content
Category

Nuus

Universiteit Stellenbosch Kamerkoor keer terug vanaf Hongkong

By Nuus, Uncategorized @afNo Comments

Die Universiteit Stellenbosch Kamerkoor het pas van ‘n uiters suksesvolle toer in Hongkong teruggekeer. Die koor is as gaskunstenaars na die 2017 Wêreld Jeug- en Kinderkoor Fees genooi, wat vanaf 17 tot 22 Julie 2017 plaasgevind het. ‘n Uitnodiging van hierdie aard kan as ‘n groot en besonderse eer beskou word.

Die Wêreld Jeug- en Kinderkoor Fees is een van die belangrikste koorfeeste ter wêreld en lok 200 deelnemende kore van regoor die wêreld.

Die jong ensemble, wat onder leiding van Martin Berger staan, het ontwikkel tot een van Suid-Afrika se voorste kamerkore—internasionaal gerespekteer en plaaslik relevant. Met ‘n diversiteit in repertoire, verteenwoordig die Universiteit Stellenbosch Kamerkoor die verskeidenheid koormusiekstyle wat in die land te vinde is.

Die koor het op die 18de Julie by die openingseremonie opgetree, die 19de Julie ‘n volle aandkonsert aangebied en op die 19de Julie by die Twintigste-Herdenking-Vieringskonsert van die vestiging van die Hongkong Spesiale Administratiewe Streek gesing. Alle optredes is met oorweldigende entoesiasme van die gehoor ontvang.

Die Universiteit Stellenbosch Kamerkoor is vereer met die teenwoordigheid en ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Konsul-generaal tot Hongkong, Mnr Madoda Ntshinga, by beide die openingseremonie en die volle aandkonsert. Hy het die koor geprys dat hulle “…die  Suid-Afrikaanse vlag hoog hou soos ware ambassadeurs van ons land.”

Stellenbosch studente maak skoonskip by ATKV

By NuusNo Comments

Tydens ’n glansgeleentheid in Parow op Saterdagaand, 29 Julie, is virtuoso pianis, Sulayman Human, aangewys as die algehele wenner van die nasionale  instrumentale klassiekemusiekkompetisie, ATKV-Muziq.

ATKV-Muziq, Suid-Afrika se grootste en mees toonaangewende klassiekemusiekkompetisie, wat onder andere internasionale pianiste Ben Schoeman en Megan-Geoffrey Prins as  algehele wenners opgelewer het, is die ATKV se jaarlikse bydrae tot instrumentale klassiekemusiek in Suid-Afrika. Dit is ‘n nasionale klassiekemusiekkompetisie vir jong volwasse musici in die ouderdomsgroep 15-27 jaar.  ’n Totale prysgeld van R180 000 word uitgeloof.

Sulayman Human (24), is ’n meestersgraad student aan die Universiteit van Stellenbosch.

Sulayman het die algehele eersteprys van R65 000 ontvang, asook die prys vir die Beste Vertolking van ’n Barok of Klassieke werk tydens die Finale Ronde. Laasgenoemde prys, ter waarde van R8500, is aan hom toegeken vir sy vertolking van Mozart se Sonate nr. 10 in C majeur, K330; III. Allegretto.

Cameron William (saksofoon) het die tweede plek verower en R32 000 ontvang.  Die derde prys (ter waarde van R16 000) is verower deur Jeffrey Armstrong (viool).

’n Bonusprys van R8 500 is ook aan Cameron Williams toegeken vir die Beste Vertolking van ‘n Suid-Afrikaanse Werk tydens die Tweede Ronde van hierdie kompetisie. Williams het die prys ontvang vir sy vertolking van A. Stephenson se Inleiding en Allegro.

Jong volwasse musici vanoor die hele Suider-Afrika is in Mei vanjaar genooi om tydens die eerste ronde teen mekaar mee te ding. Uit hierdie groep deelnemers is die beste tien musici gekies wat aan die tweede en derde (finale) rondes in Parow die afgelope paar dae deelgeneem het.  Na afloop van die tweede ronde is die top vyf kandidate aangewys as finaliste.  Naas Sulayman Human, Cameron Williams en Jeffrey Armstrong was Brian Bae (klavier) en Jonathan Mayer (viool) ook finaliste.

Elke finalis het R10 000 ontvang.

Die nasionale Afrikaanse radiostasie, RSG, was vanjaar die mediavennoot van hierdie kompetisie.

Veelbekroonde Pianis terug uit VSA vir gratis opvoering

By NuusNo Comments

Veelbekroonde Suid-Afrikaanse pianis, Megan-Geoffrey Prins, bied  Vrydag, 28 Julie 2017 om 20:00 ‘n gratis uitvoering in die Endlersaal by die Universiteit van Stellenbosch (SU) Musiek Departement aan.

Prins is tans besig om sy Doktorale studies in Musiekkuns aan die Cleveland Institute of Music in die VSA te voltooi.  Hy het sy Meestersgraad by die instituut behaal onder die befaamde pianis, Antonio Pompa-Baldi.  Verlede jaar het Prins die ATKV Muziq Instrumentale Klasiekemusiekkompetisie gewen.  In 2015 is hy bekroon as die wenner van die Vyfde UNISA Nasionale Klavierkompetisie en het ook die eerste Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfeeskompetisie gewen.

Gedurende sy Meestersgraad en tot dusver vir sy Doktoraal, het Prins staat gemaak op die Oppenheimer Gedenktrust, die Nasionale Kunsteraad, privaat borge en aanlynfondsinsameling om sy studiefooie en onkoste te dek.  Hy hoop om voor sy terugkeer na Cleveland aan die einde van Augustus 2017 voldoende befondsing vir hierdie laaste been van sy formele studies te bekom.

“Ek is geroer deur die oorweldigende ondersteuning, beide finansieel en emosioneel, wat ek tot dusver in die verloop van my studies ervaar het” sê Prins.  “Ek is verheug dat die SU Musiek Departement hierdie gratis konsert aanbied.  Dit is ‘n geleentheid vir my om almal te bedank wie my tot dusver ondersteun het en dit gee my die geleentheid om my gaste in te lig oor die vordering van my fondsinsamelingproses.”

Prins sal in die eerste helfte van die opvoering werke van  Joseph Haydn, Frédéric Chopin en die Suid-Afrikaanse komponis, Graham Newcarter, speel.  Hy sal dan die program in die tweede helfte afsluit met ‘n seleksie uit Sergei Lyapunov se 12 Etudes d`Exécution Transcendante.

Vir meer inligting, besoek Megan-Geoffrey se webtuiste by www.megangeoffreyprins.com

Close Menu