Fiets

Hoe lyk ’n Matie Fiets?

Stellenbosch is die eerste Suid-Afrikaanse universiteit wat die fietswiele vir volhoubaarheid laat rol. Sedert 15 Maart 2012 kan personeel en studente ’n Matie Fiets huur. Veilige fietsloodse word ook opgerig terwyl daar saam met die Munisipaliteit gewerk word aan die daarstel van fietspaaie.

Die eerste Matie Fietse is deur BEN (Bike Empowerment Network) vanuit Nederland ingevoer. Dit was tweedehandse fietse wat vir ses jaar deur die Nederlandse Spoorweë vir pendel aangewend is. Hierdie fietse was blou en is deur ’n spesiale plakker as ’n Matie Fiets uitgeken.

Nuwe maroon Matie Fietse is aan die einde van 2016 aangekoop. Hierdie fietse het, soos die ou blou fietse, nie ratte nie, maar wel handremme eerder as terugtrapremme (“back pedal breaks”).