Op kampus

Suid-Afrika is gelys as die 33ste droogste land in die wêreld. Dit beteken dat uit 195 lande, Suid-Afrika onder die droogste 20% val. Water is dus 'n skaars hulpbron. Daarom het die Universiteit Stellenbosch reeds 'n verskeidenheid aksies van stapel gestuur om water te bespaar. Verskeie doelwitte is ook in plek gestel.

As deel van die strategie vir omgewingsvolhoubaarheid wil die US die volgende bereik:
Verminder watergebruik tot 80 liter per persoon per dag.
Vermeerder die hoeveelheid stromwater wat in die grond geabsorbeer word.
Plant watervriendelike landskappe aan om die aanwending van nie-drinkbare water vir besproeiing op alle kampusse te verminder.
'n Toename in die gehalte van uitvloeisel uit kombuise, laboratoriums en verblyfplekke.
Gebruik gryswater en alternatiewe water en die meet van stelsels.

Waterinfrastruktuur is ontwerp om die verskillende waterstrome apart te hou. Geboue is ontwerp om die waterbronne apart te hou, bv. riool-, storm- en gryswater. Waterverbruik uit munisipale of ander bronne word per gebou met slim meters gemeet en gemonitor en word akkuraat op die nutsdienste-paneelbord gerapporteer. 

 

Die US het reeds talle aksies in werking gestel om water te help bespaar.

Waterdoeltreffende toestelle word op kampusse geïnstalleer, soos waterbesparende stortkoppe, kraanbelugters en waterverplasingstelsels vir toiletbakke.
Water-deurdringbare plaveisel en grasblokke word gebruik waar moontlik sodat reënwater die grond kan penetreer en die ondergrondse waterdraers kan hervul.
Landskapsterreine word ontwerp wat water terughou en so die absorpsie en stoor van water moontlik maak.
Watergeharde plantspesies, insluitende plaaslike endemiese plantspesies wat minder water benodig, word stelselmatig aangeplant.
Gryswater word uit stortwater herwin, behandel en weer gebruik om toilette te spoel.
Reënwater word ingesamel en in spesifieke areas op kampus gebruik.
Waterlekkasies word aangemeld en stappe word gedoen dat die waterstryderspan dit herstel.
Besproeiing met drinkwater word verminder.