Vrae en antwoorde

ALGEMEEN
1. Waarom is Volhoubaarheid belangrik vir die Universiteit Stellenbosch?

Die versterking van sistemiese volhoubaarheid is een van die strategiese prioriteite van die Universiteit Stellenbosch. Dit staan parallel met die verbreding van toegang, behoud van momentum van uitnemendheid, die bevordering van sosiale impak, die uitbreiding van internasionalisering, en die bevordering van sistemiese transformasie.

2. Is Volhoubaarheid 'n strategiese inisiatief aan die Universiteit Stellenbosch?

Ja. Die Raad van die Universiteit Stellenbosch het op 29 November 2010 die Universiteit tot volhoubaarheid verbind deur die Beleid vir die Geïntegreerde Bestuur van Volhoubaarheid goed te keur. (Laai die beleid hier af.)

3. Op watter Volhoubaarheidsinisiatiewe fokus die Universiteit tans?
  • Afvalbestuur
  • Akademie, navorsing en bedryf
  • Biodiversiteit
  • Energie
  • Vervoer
  • Water
4. Kan personeel en studente 'n bydrae lewer tot die bevordering van 'n volhoubare universiteitsomgewing?

Elke personeellid en student het 'n rol om te speel om die Universiteit te ondersteun om sy doelwitte ten opsigte van volhoubaarheid te bereik. Lees hier  meer.

AKADEMIE, NAVORSING EN BEDRYF
1. Speel die akademiese, navorsing- en bedryfsomgewings 'n rol om volhoubaarheid aan die US te bevorder?

Ja, elkeen van hierdie omgewings is reeds betrokke by verskeie inisiatiewe. Lees ook die e-boek vir meer inligting oor wat in die volhoubaarheids-navorsingsomgewing plaasvind.

WATER
1. Het die US 'n strategie in plek om water te bespaar?

Ja, die Universiteit het 'n strategie in plek. Lees meer hier.

2. Het die US al aksies in werking gestel om hierdie besparingsdoelwitte te bereik?

Ja, verskeie aksies is in werking gestel.

3. Kan ek 'n rol speel om te help om water te bespaar?

Ja, dit is noodsaaklik dat elkeen van ons 'n bydrae lewer om hierdie skaars hulpbron te bewaar. Jy kan dit doen.

AFVAL
1. Ondersteun die US die internasionale standaard van verminder, hergebruik en herwin wat betref die bestuur van afval?

'n Groener US-kampus word in die vooruitsig gestel deur die vermindering, hergebruik en herwinning van afval. Dit is een van die projekte wat uit die geïntegreerde afvalbestuursplan voortvloei en deel van die Universiteit Stellenbosch se oorkoepelende volhoubaarheidsinisiatief uitmaak. Lees hier meer.

2. Wie se verantwoordelikheid is dit om afval te verminder, te hergebruik en te herwin?

Elke personeellid en student het 'n groot rol om te speel in die bestuur van afval op ons kampusse. Kliek hier om te sien wat jy kan doen.

ENERGIE
1. Wat doen die US om elektrisiteit – 'n skaars hulpbron – te bespaar?

Kliek hier vir inligting oor die US se energiebesparingsdoelwitte.

2. Kan ek 'n bydrae lewer tot die besparing van energie?

Ja, elkeen van ons het 'n groot bydrae om te lewer tot die besparing van energie. Kliek hier om te sien wat jy kan doen.

BIODIVERSITEIT
1. Wat behels biodiversiteit?

Biodiversiteit behels die bewaring van lewe en lewende organismes van verskillende soorte en vorms. Biologiese diversiteit is die lewensvolhoubare hulpbronne waarop huidige en toekomstige generasies staatmaak.

2. Wat doen die US om sy biodiversiteit-doelwitte te bereik?

Die US doen reeds die volgende:

3. Wat kan ek doen om by te dra tot 'n biodiverse omgewing?

Kliek hier om te sien hoe elke personeellid en student 'n bydrae kan lewer tot 'n meer biodiverse omgewing.

VERVOER
Algemeen
1. Moet die geld vir die Mobiliteitsmeesterplan nie eerder aan die kernbesigheid bestee word nie?

Die stelsel is juis ontwerp om te verseker dat daar uiteindelik so min as moontlik fondse van die kernbesigheid af na vervoer en parkering gekanaliseer word. Die beginsel van "gebruiker betaal" word toegepas. 'n Suksesvolle kernbesigheid is afhanklik van toeganklikheid, soos verseker deur goeie mobiliteit.

2. Gaan die US kampus toegekamp word?

Nee, die Universiteit is deel van die dorp. Indien die kampus toegekamp sou word, sou dit nie net die karakter van die kampus verander nie, maar ook die publiek afsny van deurgangsroetes en toegang ontsê. Afkamping is dus nie 'n opsie nie. Tegnologie sal egter mettertyd ingespan word om veiligheid op die kampus te bevorder terwyl spoedbulte en ander meganismes gebruik sal word om verkeerskalmering te doen en swaartvoertuie te ontmoedig om op die roetes van die sentrale kampus te ry.

3. Waar gaan afleweringsvoertuie nou toerusting en materiale aflewer aangesien swaarvoertuie nie meer op die kampus mag kom nie?

Daar gaan steeds, soos tans die geval is, afleweringsareas by geboue wees vir die aflewering van produkte of materiaal vir die Universiteit. Swaarvoertuie kan dus steeds op die kampus kom.

4. Hierdie probleme word ervaar a.g.v. die groei in studentegetalle. Gaan US onbeperk groei, of gaan die getalle beperk word?

US (Stellenbosch-kampus) kan nie onbeperk groei nie aangesien daar nie voldoende infrastruktuur-kapasiteit daarvoor is nie. Bestaande grondregte laat ook nie onbeperkte verdere groei toe nie. Die onlangse Meesterplanstudie het getoon dat die Stellenbosch-kampus, konserwatief geraam, nie veel meer as 25 000 studente kan akkommodeer nie. Daar is tans reeds ongeveer 22 000 (2011 syfers) kontakstudente op die kampus. Die mobiliteitsplan is juis so ontwerp om die impak van hierdie groei op vervoer te bestuur.

Parkering
Algemeen
1. Die instelling van 'n parkeerheffing is 'n eensydige wysiging van my diensvoorwaardes.

Die reg tot parkering was nooit deel van diensvoorwaardes vir personeel nie en daarom kan die verandering/aanpassing nie as 'n eensydige wysiging van die diensvoorwaardes beskou word nie. Daar is ook sedert 2010 met personeel en studente oor die nuwe stelsel gekommunikeer en beraadslaag, en dit bied verskeie opsies. Indien nie een hiervan die personeel pas nie, kan alternatiewe parkeerreëlings binne die konteks van die groter dorp getref word. (Eksterne regsopinie)

2. Volgens SAID se "Guide for employers in respect of fringe benefits" is parkering nie 'n belasbare byvoordeel nie.

Dit geld slegs wanneer parkering gratis is aangesien die belastingwaarde dan nul sou wees. Aangesien parkering egter volgens US beleid nie gratis is nie, is dit wel belasbaar. (Eksterne regsopinie)

3. Hoekom kan my afdeling nie namens my betaal nie?

Indien jou afdeling namens jou sou betaal terwyl dit die US se beleid is dat werknemers self betaal, ontstaan 'n belasbare byvoordeel kragtens paragraaf 2(h) van die 7de Bylaag van die Wet. Hierdie bepaling voorsien dat "taxable fringe benefit shall be deemed to be granted by an employer to his employee ... where the employer has released the employee from an obligation to pay any amount owing by the employee to the employer ...". Die waarde van die byvoordeel sal die waarde van die oorspronklike "skuld" wees wat namens die werknemer betaal is of wat die werknemer nie meer hoef te betaal nie. (Eksterne regsopinie)

4. Indien ek wel self moet betaal, hoekom kan die bedrag nie van my salaris afgetrek word voordat ek daarop belasting moet betaal nie?

'n Na-belaste aftrekking is die korrekte manier om dit te hanteer, soos enige ander betaling waarvoor die werknemer verantwoordelik is en wat deur die salarisrol geadministreer word, bv. versekering, ens.

Kragtens artikel 23(m) van die Wet, is parkering nie 'n toelaatbare aftrekking vir belastingdoeleindes vir werknemers nie. Om dit as 'n aftrekking voor belasting te struktureer, hou belastingrisiko's vir die US in en daarom kan so 'n proses nie gevolg word nie. (Eksterne regsopinie)

5. Indien ek weier om aansoek te doen om parkering en die relevante heffings te betaal, en word gevolglik toegang tot parkeerplek by my gebou geweier, kom dit neer op uitsluiting van my werkplek en hoef ek nie meer op kantoor te wees nie.

Die werknemer word nie toegang tot sy/haar werkplek (kantoor) geweier nie, maar die keuse gestel om gebruik te maak van die US se parkering, volgens die nuwe reëls wat in plek gestel is nadat daar sedert 2010 met die personeel en studente daaroor gekonsulteer en gekommunikeer is, of om alternatiewe parkeerreëlings te tref. Dit kan dus nie geïnterpreteer word as "uitsluiting" nie. (Eksterne regsopinie)

6. Die parkeerbestuurstelsel voldoen nie aan die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming nie, want meer voertuie word toegelaat as waarvoor daar parkeerplek beskikbaar is.

Binne die parkeerbestuurstelsel word 'n verskeidenheid opsies tot die gebruiker se beskikking gestel. In die geval van gereserveerde parkering word een parkeerplek wel aan 'n spesifieke persoon toegeken. In die geval van nie-gereserveerde parkering word meer persone egter tot 'n spesifieke parkeerarea toegelaat as waarvoor daar parkeerplek is. Verskillende koste is aan die verskillende opsies gekoppel, juis omdat die verhouding van gebruiker tot parkeerplek hoër raak namate die koste laer raak.

Die kontrak met die gebruiker betreffende die parkeerstelsel word uiteengesit in die aansoekvorm en die bepalings en voorwaardes, soos op die webblad verskaf. Daarin word dit duidelik gestel dat:

  • Die US 'n reg tot toegang tot 'n sekere parkeerarea verskaf en dat toegang aan meer gebruikers verskaf word as wat daar parkeerplekke beskikbaar is omdat daar 'n redelike verwagting is dat almal wat toegang tot die parkeerarea het, nie op dieselfde tyd toegang gaan benodig nie. Dit word duidelik in die kontrak gestel as 'n eienskap van die diens waarvoor betaal word.
  • Die aantal gebruikers wat toegang tot 'n spesifieke parkeerarea het, word nie lukraak bepaal nie, maar met inagneming van die unieke aard van elke area.
  • Nadat toegang tot 'n parkeerarea verleen is, word parkering benut volgens die beginsel van "eerste kom, eerste gehelp". Ook dit word duidelik in die bepalings en voorwaardes gestel.

Die US onderneem nie om te alle tye 'n parkeerplek te verskaf in ruil vir betaling nie, maar verskaf toegang tot 'n spesifieke soort parkering. Aangesien die aantal gebruikers wat tot die spesifieke soort parkering toegang kry wel beperk word, het die US "a reasonable basis to assert an intention to supply those goods or provide those services" (Section 47[2][a]).

Verder gaan die US nie "services (supply) that are materially different from … the services in respect of which the payment or consideration was accepted." Die gebruiker kry presies wat in die ooreenkoms onderneem is.

Daarbenewens is die voorsiening van 'n opsie waarvolgens parkeerplek nie gewaarborg is nie, nie 'n oortreding van artikel 47(3) nie aangesien die US nie 'n onderneming gegee het of 'n bespreking aanvaar het vir die verskaffing van materiaal of dienste op 'n spesifieke datum of op 'n spesifieke tyd nie. Die aard van die diens wat die US verskaf, is in hierdie geval nie dieselfde as dit wat ingevolge artikel 47 verbied word nie. (Eksterne regsopinie)

Koste
1. Wie betaal?

Alle personeel en studente wat suksesvol aansoek gedoen het om hulle voertuie vir parkering op Universiteitsterrein te registreer, betaal die bedrag wat ooreenstem met die soort parkering wat aan hulle toegeken is.

2. Is daar enige onderskeid tussen personeel en studente, of permanente en tydelike personeel?

Nee.

3. Is daar kruissubsidiëring?

Nee. Slegs diegene wat hulle voertuie suksesvol registreer, betaal. Parkeerheffings word in die parkeerheffingsfonds inbetaal.

4. Hoeveel wins maak die US op die parkering?

Geen.

5. Waarvoor word die geld aangewend?

Die geld word in die Parkeerheffingsfonds inbetaal en aangewend vir die instandhouding en bestuur van parkering.

6. Betaal ons per motor?

Tariewe word bereken na gelang van die soort parkering wat toegeken is, sowel as die aantal parkeerskyfies waarvoor aansoek gedoen is (en wat toegeken is).

7. Hoe vergelyk die US se koste met die dorp se koste of dié van ander universiteite?

Die US se koste is aansienlik laer as elders. In 2016 het die die goedkoopste munisipale parkering R5 820 per jaar beloop. By die Universiteit van Kaapstad was dit in 2016 gemiddeld R960 per jaar vir die goedkoper alternatief en R1 524 per jaar vir die duurder alternatief.

8. Ek betaal nou baie vir parkering, maar is steeds nie 'n parkeerplek gewaarborg nie.

Slegs gereserveerde parkering is gewaarborg. Nie-gereserveerde parkering by geboue werk op die beginsel van "eerste kom, eerste gehelp". Die getal voertuie wat addisioneel tot hierdie parkeerareas toegelaat word, word egter voortaan beperk (in teenstelling met die situasie voor 2013). Hierdie getal word verder in samewerking met die onderskeie omgewings bepaal ten einde die aard van elke omgewing in ag te neem. Sodoende word voorsiening gemaak vir die beweging van voertuie wat by elke gebou plaasvind en word maksimale benutting van parkering bevorder.

9. Moet studente wat naby, of op, die kampus in privaat huise woon, ook betaal vir hulle parkeerplekke by hierdie huise?

Nee, daar word slegs betaal vir parkering op die Universiteitsterrein. Indien 'n privaat student wat naby die kampus bly, egter kampus toe wil ry en op Universiteitsterrein, Coetzenburg ingesluit, wil parkeer, sal hy/sy hul motor moet registreer en die toepaslike parkeerheffing betaal.

10. Hoe lank gaan die koste op hierdie kostevlak bly?

Koste sal op 'n jaar-tot-jaar grondslag hersien word, soos in die geval van alle US-tariewe.

11. Hoe raak die veranderinge aan die parkeerstelsel bestuurslede?

Alle personeel, insluitende bestuurslede, en studente wat hulle voertuie registreer vir parkering op die Universiteitsterrein, betaal in ooreenstemming met die soort parkering wat aan hulle toegeken is. Bestuurslede moet dus ook aansoek doen vir parkering.

12. Gaan almal nou verplig word om op die periferie te parkeer of met busse na die kampus te ry?

Nee, elke persoon gaan sy of haar keuse uitoefen binne die beskikbare opsies, met die gepaardgaande koste-implikasies.

Parkeerplekke
1. Gaan alle parkering nou saamsmelt, m.a.w. gaan studente en personeel nou op dieselfde plekke kan parkeer?

Op die periferie sal personeel en studente in dieselfde parkeerarea parkeer. Die bestaande parkeerareas wat vir personeel aangewys is, asook koshuisparkering, word egter so behou.

2. Hoekom kan die US nie net weer die reël instel dat studente nie motors mag hê nie?

Slegs een derde van US se studente woon in koshuise. Die ander moet vanaf die breër Stellenbosch of vanaf buite die dorp inkom klasse toe. Aangesien die openbare vervoer gebrekkig is, laat dit hulle nie 'n ander keuse as om privaat vervoer te gebruik nie. Die mobiliteitsplan wil egter juis help om prosesse te fasiliteer sodat meer opsies as privaat vervoer aan alle studente beskikbaar gestel ikan word.

Bykomende maatreëls
1. As daar beter polisiëring is, sal dit nie nodig wees om ekstra parkering te verskaf nie.

As daar volgens die huidige model voortgegaan word, word meer as 7 000 nuwe parkeerplekke benodig om vir elkeen 'n parkeerplek te voorsien. Strenger polisiëring gaan dus nie die probleem oplos nie. Die tekort is nie net t.o.v. parkering vir studente nie, maar ook t.o.v. personeelparkering. Strenger polisiëring is egter wel nodig om beter dissipline te handhaaf en die veiligheid van voetgangers te verbeter.

2. Gaan daar in die toekoms meer van tegnologiese hulpmiddels gebruik gemaak word om parkering te reël?

Ja, maar die prioriteit is tans vir eers op die voorsiening van voldoende parkeerplekke. Daar kan later byvoorbeeld van mikroskyfies gebruik gemaak word wat valbome outomaties vir gemagtigde persone oopmaak.

3. Gaan die US vir die Verkeersdienste vra om kaartjies op US-gronde te skryf?

Nee, die US is verantwoordelik vir die toepassing van verkeersmaatreëls op sy eie gronde. Sypaadjies en strate wat die kampus deurkruis, is egter munisipale eiendom, waarvoor die Verkeersdienste verantwoordelik is. Weens die integrasie van die dorp en die kampus is samewerking tussen die US en die plaaslike Verkeersdienste dus van baie groot belang.

Parkeeropsies
1. Wat maak ek as ek van die pendeldienste gebruik maak, maar op 'n spesifieke dag wel nodig het om met my motor na die kampus te kom?

Indien jy op universiteitsgronde wil parkeer, moet jou voertuig geregistreer wees. Maak dus voorlopig van munisipale parkeerareas gebruik. Daar word wel universiteitsparkeerareas in die vooruitsig gestel wat volgens die betaal-en-parkeer beginsel werk (soos parkering by winkelsentrums). Sodra dit beskikbaar is, kan jy vir die betrokke dag daar parkeer en net vir die dag betaal.

2. Hoe gaan saamryklubs hanteer word?

Lees op die webblad wat die opsies is vir lede van 'n saamryklub. Daar word steeds gekyk na maniere om nog voordele vir saamryklublede te skep.

3. Hoekom word alle parkeerplekke nie bloot agter valbome geplaas nie sodat die gebruikers dan betaal soos en wanneer hulle dit gebruik nie?

Die meeste parkeerareas op die sentrale kampus sal waarskynlik uiteindelik agter valbome wees ten einde toegang te bestuur. 'n Kostemodel waarvolgens gebruikers net betaal vir die tyd wat hulle parkeer, sal koste-effektief wees vir personeel / studente wat selde hul eie voertuie gebruik of wat net vir kort periodes op die kampus hoef te wees. Maar dit sal te duur wees vir personeel wat langer ure werk. Daarom is verskillende soorte parkering beskikbaar gestel om die verskillende behoeftes aan te spreek.

4. Daar is nie voldoende parkering by die Coetzenburgsentrum vir al die personeel en studente nie. Hoe gaan dit hanteer word?

Die bedoeling is nie dat alle personeel en studente in algemene parkeerareas, bv. by Coetzenburg of Silvertrees parkeer nie. Daar word juis 'n verskeidenheid van vervoermetodes beskikbaar gestel wat met mekaar integreer sodat gebruikers meer keuses kan hê as net privaat vervoer.

5. Wat gaan by die sportkampus gebeur tydens sportgeleenthede as die parkering deur personeellede en studente gebruik word?

Sportgeleenthede vind oorwegend na-ure en oor naweke plaas. Dan het die pendelaars reeds vertrek. Wanneer daar wel spesifieke geleenthede is wat oorvleuel, sal reëlings getref word om die behoeftes te hanteer.

6. Wat van die enkelbrug by Coetzenburg? Dit veroorsaak reeds daagliks 'n bottelnek a.g.v. die verkeer na die skole toe?

Tydens die opknapping van US se gedeelte van Suidwal-straat (by die enkelbrug), is daar, in oorleg met die Munisipaliteit, voorsiening gemaak vir 'n tweede brug. Die rivier en brug is egter munisipale grond en die Munisipaliteit kon nog nie die nodige fondse bekom vir die oprigting van die tweede brug nie. Tot tyd en wyl daar 'n tweede brug gebou kan word, sal die situasie gemonitor word en die nodige verkeersreëls ingestel word.

7. Hoekom bou die US nie net parkeergarages om in die parkeertekort te voorsien nie?

Parkeergarages is wel deel van die langtermynbeplanning rondom parkering. Dit is egter 'n baie duur opsie en befondsing moet eers hiervoor verkry word.

8. Gaan nuwe personeel net kan aansoek doen vir parkering in alemene parkeerarea?

Indien enige aansoeke van nuwe of bestaande personeel ontvang word nadat die eerste toekennings in Februarie gedoen is (vir inwerkingtreding in Maart), sal gekyk word of die betrokke parkeerarea die kapasiteit het om addisionele voertuie te kan hanteer. Daar is egter 'n perk gestel op die aantal gereserveerde plekke per area, sowel as op die persentasie addisionele voertuie wat tot nie-gereserveerde parkering toegang kan kry. Daardie perke kan nie sonder meer in die middel van die jaar verander word nie aangesien dit 'n impak het op al die ander personeel wat toegang gekry het tot die area. Personeel wat reeds toegang ontvang het, kan ook nie sonder meer gevra word om na alternatiewe parkering te verskuif nie aangesien die ooreenkoms vir 'n jaar gesluit word. Dit staan 'n omgewing egter vry om met sy eie personeel te konsulteer en daarna te versoek dat die persentasie toegang tot nie-gereserveerde parkering verander word.

Koshuise
1. Koshuise het tans hulle eie stelsels waarvolgens besluit word wie op die parkeerplekke mag parkeer wat aan die koshuis toegeken is. Gaan dit voortgesit word?

Koshuise sal steeds betrokke bly in die toekenning van parkeerplekke.

2. Die koshuisstudente gaan nou die PSO-studente se parkering gebruik.

Daar gaan toegewysde areas vir die koshuisstudente wees – areas wat nie tans deur PSO-studente gebruik word nie.

3. Dit is onprakties vir koshuisstudente wat nie gereserveerde parkering by die koshuis gekry het om hulle voertuie in langtermyn parkeerarea te parkeer?

Hoewel die area(s) nie by die koshuise is nie, bied dit 'n meer gereguleerde omgewing as munisipale sypaadjies. Dit is omhein, toegangsbeheer geld en 'n sekuriteitswag is aan diens.Koshuisstudente moet egter vir hierdie diens registreer on te kan deelneem en sodat die pendelbussie vir hieride roete in werking gestel kan word. Sien webblad vir die prosedure.

 
Veiligheid
1. Wat van individue wat laat werk?

Hulle kan kyk na die pendelbussies se skedule en van die laaste bussie van die dag gebruikmaak om hulle motors in die algemene area te gaan haal.

2. Hoe veilig is die parkering in algemene parkeerareas?

Die model maak so ver moontlik voorsiening vir die beveiliging van parkeerterreine deur omheining, sekuriteitskameras en sekuriteitspersoneel. Ongelukkig kan US, net soos vir parkeerterreine op die sentrale kampus, nie die veiligheid van motors waarborg of vir die koste van herstel instaan nie.

3. Die geld word aangewend vir sekuriteit en valbome, maar steeds waarborg julle nie veiligheid nie. Hoekom nie?

Die veiligheid van sy personeel en studente is vir die US van groot belang. Daarom word hard gewerk aan die verbetering van veiligheid deur onder meer die aanwending van tegnologie en die daarstel van beamptes wat aan kampussekuriteit toegewys is. Dit beteken egter steeds nie dat die US personeel en studente se veiligheid elke oomblik en op elke plek kan waarborg nie.

Pendelbussies en openbare vervoer
Opsies
1. Watter roetes word nog beoog?

Kyk op die webblad na die inligting i.v.m die beoogde roetes.

2. Gaan die bussies van buite Stellenbosch net vanaf sentrale punte vertrek?

Dit is die model wat voorgestel is, maar die oplaaipunte sal in oorleg met gebruikers so gerieflik as moontlik gekies word ingevolge statutêre bepalings.

3. Watter roetes gaan gery word?

Voorlopige roetes is geïdentifiseer, maar roetes kan aangepas word volgens behoefte binne die begrote koste van die diens. Sodra dit gefinaliseer is, sal die inligting bekendgemaak word.

4. Is Stellenbosch-stasie ingesluit op die beplande roete?

Ja, Stellenbosch-stasie is ingesluit in die meeste van die beplande pendelroetes op Stellenbosch-kampus.

5. Wanneer word die dienste, dit is die pendelbussies en die openbare vervoerdienste, in werking gestel?

Die Universiteit onderhandel tans vir die uitrol van 'n loodsprojek om sekere roetes te evalueer. Daardeur poog die US om die lewensvatbaarheid van so 'n diens te bewys en om die uitbreiding van openbare vervoer te bevorder. Die US wil die proses fasiliteer eerder as om self 'n vervoeroperateur te word.

Skedules
1. Het die onderskeie busse (kampuspendel en openbare vervoer) 'n vaste skedule waarvolgens dit ry?

Sien die webblad vir die skedule en roetes van die kampupendeldiens.Daar word beoog dat die ander bussies van die begin af volgens 'n vaste skedule sal loop. Hierdie skedule sal opgestel word in oorleg met gebruikers.

2. Die bussies loop tans net tot 17:30. Wat van veiligheid as jy te laat is vir die laaste bussie?

Die nagpendeldiens begin om 18:00. Indien jy onrustig is oor veiligheid, kan jy Kampussekuriteit skakel om jou te vergesel na jou motor. Dit is egter belangrik om die skedule van die bussies in ag te neem en daarvolgens te beplan.

3. Wat van na-ure reëlings (as ek in die biblioteek, RGA of studiesentrum gewerk het)?

Vanaf 18:00 begin die nagpendeldiens. Besoek asb die webblad vir die kampuspendeldiens vir die nuutste inligting.

Koste
1. Hoe word die kampuspendeldiens bekostig?

Die US Bestuur het fondse beskikbaar gestel om die kampuspendeldiens grootliks te finansier. Ander finansieringsmodelle word deurlopend ondersoek.

2. Hoe gaan die koste vir openbare vervoer bepaal word?

Koste sal per roete en per gebruiksfrekwensie bereken word.

Praktiese maatreëls
1. Ek is 'n werkende ouer wat vroeg moet ry. As my kind siek word, hoe gaan ek hom/haar kan gaan haal as my motor in die algemene parkeerareas van die kampus geparkeer is?

Die bussies tussen die sentrale kampus en die parkering in die algemene parkeerareas gaan heeldag loop. As jy dus gekies het om in die algemene parkeerarea te parkeer of parkering in hierdie areas aan jou toegeken is, sal jy van die pendelbussies gebruik kan maak om weer terug te kom by jou voertuig.

2. As ek my motor in die algemene parkeerareas van die kampus parkeer, gaan ek 24/7 toegang daartoe hê?

Ja, die parkering is 24/7 beskikbaar. Gedurende die dag kan jy die kampuspendeldiens gebruik om by jou voertuig te kom, en saans die nagpendeldiens (teen 'n koste). Jy sal egter ook jou motor kan gaan haal nadat die valbome van die parkeerterrein oopgemaak is (na 16:30) en jou motor dan voor jou gebou parkeer.

3. Wat van rolstoelgebruikers? Is die bussies ook vir hulle toeganklik?

Daar is tans reeds 'n bussie wat spesiaal vir rolstoelgebruikers toegerus is. Tans is die bussie op aanvraag beskikbaar. Sodra die spesifieke behoeftes van rolstoelgebruikers bepaal is, kan hierdie bussie (of meer bussies, indien nodig) op die spesifieke roetes gebruik word.

Fietse
Hoe lyk die fietse?
1. Het die fietse ratte?

Nee.

2. Watter remstelsel gebruik die fietse?

Handremme.

3. Het die fietse 'n drarak ("carrier") en 'n mandjie?

Die fietse het 'n mandjie.

4. Kry jy 'n slot saam met die fiets?

Ja.

5. Moet jy 'n valhelm dra, en kry jy een saam met die fiets?

Wetgewing verplig jou nie om 'n valhelm te dra nie, maar dit word sterk aanbeveel. Valhelms word nie verskaf nie.

6. Die fietse lyk almal dieselfde. Hoe gaan ek my fiets uitken?

Elke fiets het 'n reeksnommer op die raam. Dit word aan jou US-nommer gekoppel sodat ons weet aan wie 'n betrokke fiets behoort. Maar daar is ook 'n unieke nommer op die voorste en agterste modderskerms sodat jy vinnig jou fiets kan uitken.

7. Is die Matie Fiets-plakker net vir hierdie fiets beskikbaar?

Ja.

Koste
1. Hoeveel gaan dit kos om 'n fiets te kry?

Sien die webblad vir die kostes.

2. Word die verhuringskoste by my studenterekening gevoeg?

Nee, betaling geskied kontant by die kassiere in Administrasiegebou A óf deur 'n EFT (elektroniese fondsoordrag).

3. Hoe gaan bepaal word of ek die volle deposito terugkry?

Die fiets word na 'n fietswinkel geneem wat dit nagaan. Hulle sal aandui of dit net gewone slytasie is en of daar spesifieke herstelwerk is. Jy sal nie betaal vir gewone slytasie nie, maar wel vir spesifieke herstelwerk.

4. Wat van afdelings? Kan ons fietse huur vir ons personeel?

Ja, die transaksie kan m.b.v. 'n interdepartementele rekwisisie hanteer word.

5. Waar kry ek een van die fietse in die hande?

Volledige inligting is op die webblad beskikbaar.

6. Indien die fiets gesteel of afgeskryf word, gaan ek 'n bybetaling moet doen?

Nee, jy gaan wel die terugbetaalbare deposito ten volle verbeur.

7. As ek bereid is om die terugbetaalbare deposito te verbeur, kan ek maar die fiets hou aan die einde van die verhuringsperiode?

Nee. Die fiets is slegs aan jou verhuur. Dit bly dus die eiendom van die US en indien dit nie terugbesorg word nie, stel jy jouself bloot aan 'n klag van diefstal.

Instandhouding
1. Hoe werk die instandhouding van die fiets deur die loop van die jaar?

Herstelwerk, soos die vervang van bande en groter herstelwerk, sal vir die gebruiker se eie rekening wees. Kontak enige van die verskaffers op die lys.

2. Is daar dalk inligting oor hoe ek my fiets kan versorg?

Ja, die US sal vir elke fietsryer 'n kort gids gee oor algemene instandhouding. Die gids kan ook elektronies afgelaai word.

Fietsveiligheid
1. Waar kan ons ons fietse veilig parkeer?

Daar is verskeie fietsloodse op die kampus. Jy verkry toegang d.m.v. jou studente- of personeelkaart. Die veiligheidsmeganismes is nie 'n waarborg dat die fiets nie gesteel kan word nie, maar maak dit baie moeiliker.

2. Hoe kry ek toegang tot die veilige fietsloods?

Registreer jou fiets by Kampussekuriteit. Die registrasie is gratis.

3. Behalwe vir toegang tot die fietsloods, hoekom sou ek anders my Matie Fiets of privaat fiets registreer?

Die inligting wat op die stelsel gelaai word, stel die US en Polisiediens in staat om te identifiseer aan wie 'n fiets behoort. Dit is sleutelinligting in geval van 'n ongeluk of diefstal.

4. Gaan US nog fietsloodse bou?

Ja, indien die behoefte dit regverdig en bestaande fietsloodse goed benut word, sal bykomende loodse gebou word.

5. Ek het lanklaas fiets gery. Is daar dalk geskrewe riglyne?

Ja, die riglyne sal saam met die kontrak aan jou oorhandig word. Dit sal ook in 'n elektroniese formaat op die web beskikbaar wees.

6. Is dit veilig om in die strate van die sentrale kampus fiets te ry? Mag ek op die sypaadjies met die fiets ry?

Sterk verkeerskalmering word beplan. Dit sal onder meer geskied deur die streng toepassing van 'n lae spoedperk, spoedwalle, verhewe voetganger- en fietsoorgange en verkeersdienstepersoneel. Dit sal dit veiliger maak om per fiets te beweeg. Fietsryers is egter steeds aan die toepaslike verkeersreëls onderworpe.

Motorfietse
1. Wat van motorfietse? Word daar spesiale parkeerareas vir hulle beoog?

Ja.

2. Moet motorfietse ook geregistreer word?

Ja, dit word aangemoedig. Soos in die geval van fietse, is dit sleutelinligting in geval van byvoorbeeld 'n ongeluk of diefstal.