Op kampus

Aangesien die Universiteit volhoubaarheid in sy kernfunksies en daaglikse aksies veranker het, plaas dit die verantwoordelikheid vir die implementering en uitleef van volhoubaarheid binne elke omgewing. Hierdie omgewings is baie divers en elkeen kom op sy eie manier die verantwoordelikheid na.

Binne die akademiese-, navorsings- en bedryfsomgewings word volhoubaarheid op verskeie maniere beklemtoon. Hier is 'n lys van omgewings wat reeds spesifieke volhoubaarheidsprogramme aanbied. Dit is nie noodwendig 'n volledige lys nie. Raadpleeg dus ook die US se jaarboek en webblad.

Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe het 'n Groen Komitee wat fokus op omgewingsvolhoubaarheid. Die Fakulteit poog om deur die komitee se werksaamhede die fakulteit se ekologiese voetspoor te verklein en om verantwoordelik op te tree t.o.v. planne vir die toekoms. Hulle is ook lid van die "Global Green and Healthy Hospitals Network". Dit verenig ongeveer 500 gesondheidsorgstrukture en organisasies oor ses vastelande wat verbind is daartoe om hulle ekologiese voetspoor te verminder en omgewingsgesondheid te bevorder.
Die Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies streef daarna om hernubare en volhoubare energie te ontwikkel en te verbeter om sodoende ekonomiese groei op die gebied van volhoubare energie moontlik te maak.
Die Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie bestudeer die invloed van indringerspesies op Suid-Afrika se plante en diere.
Die Universiteit Stellenbosch Waterinstituut, wat in Maart 2011 amptelik tot stand gekom het, verenig al die US se fakulteite en departemente om waterverwante uitdagings die hoof te bied, tegnologie-oordrag te verskaf en menslike hulpbronne hiervoor te ontwikkel.
Die Fakulteit Ingenieurswese het die eerste van drie windturbines by die Suid-Afrikaanse basis in Antarktika geïnstalleer.
Die Departement Geografie en Omgewingstudie.
Die Departement Bewaringsekologie en Entomologie.
Die Geografiese Inligtingsinisiatief.
Standard Bank Sentrum vir Agribesigheidsleierskap- en Mentorskapontwikkeling.
Die Volhoubaarheidsinstituut, in samewerking met die Universiteit se Skool vir Publieke Leierskap, fokus op ekologie, gemeenskap- en geestesontwikkeling.
Die Instituut vir Toekomsnavorsing se "Sustainability Watch" is 'n tydskrif wat tweemaandeliks verskyn om die sakegemeenskap op hoogte te hou van ontwikkelinge op die gebied van volhoubaarheid.
Die Fakulteit Opvoedkunde se Omgewingsopvoedingsprogram (OOPUS) fokus daarop om omgewingsopvoeding by al die programme van die Fakulteit Opvoedkunde in te sluit en om proefonderwysers vir omgewingsopvoeding voor te berei.

Die verantwoordelikheid om die stelsels te skep waarvolgens bedryfsaksies universiteitswyd volhoubaarheid moontlik kan maak, lê binne professionele administratiewe steundienste.

Informasietegnologie (IT)

Informasietegnologie poog om die eko-doeltreffendheid van informasie- en kommunikasietegnologie (IKT) te verbeter, dus om beter IKT-dienste en infrastruktuur te verskaf, terwyl energieverbruik en elektroniese afval beperk word.

IT se benadering berus op drie hooftemas:

  1. Hanteer die volle lewensiklus van rekenaar- en netwerkgereedskap om sodoende energie- en materiaaltoevoer te verminder.
  2. Verminder energieverbruik (en die opwekking van hitte) in die Datasentrum, en ook deur rekenaars en netwerkgereedskap op kampus.
  3. Ondersoek en maak voorstelle vir die vermindering van energie- en materiaaltoevoer op werklike en virtuele kampusse deur die gebruik van informasie- en kommunikasietegnologie (IKT).

Hierbenewens is die Volhoubare IT Vaardigheidsentrum (Sustainable IT Competency Centre) gestig met die volgende doelwitte:

  • om volhoubare IT-projekte te koördineer;
  • om die Universiteitsbestuur te adviseer oor beleidsoorwegings betreffende tegnologie;
  • om kennis oor volhoubare IT te deel;
  • om bewustheid van volhoubare IT op kampus te skep;
  • om 'n bron te wees vir nuwe volhoubare energie-inisiatiewe op kampus; en
  • om met ASAUDIT Green IT SIG en EDUCAUSE se SUSTAIN-groep te skakel.

Fasiliteitsbestuur

Fasiliteitsbestuur het reeds verskeie inisiatiewe van stapel gestuur om die US se voetspoor op die omgewing te bestuur. Lees meer.

Finansies

Die afdeling Finansies is 'n kernrolspeler in die vestiging van langtermyn- finansiële volhoubaarheid. In hierdie verband is die volgende doelwitte van uiterste belang:

  • foutlose verslagdoening aan fakulteite en bestuur met die oog op begrotings- en beplanningsaksies;
  • doeltreffende en doelmatige hantering van alle uitstaande skulde ingevolge die finansiële beleid van die Universiteit;
  • doeltreffende kommunikasie met ouers, beursmaatskappye en ander belanghebbendes oor onder meer studentegelde, beurse en betaalwyses;
  • bestuur van die begrotingsproses om die beskikbare owerheidsfinansiering ten volle te benut;
  • toenemende ontginning, kommersialisering en diversifisering van inkomstebronne, en
  • toepassing van die US se finansiële beleid om aan huidige en toekomstige befondsers die nodige gemoedsrus te verskaf dat US tot goeie korporatiewe bestuur verbind is.

Kliek hier vir die e-boek oor volhoubaarheidsaktiwiteite aan die US.