Universiteit Stellenbosch se 2010 Mobiliteitsmeesterplan is gegrond op die resultate van ’n deeglike en uitgebreide mobiliteitstudie wat na vervoer (mobiliteit) in sy geheel gekyk het. Dit het twee vrae gevra:
Die resultate het getoon dat, wat Stellenbosch betref, ’n derde van alle studente in universiteitshuisvesting op kampus woon terwyl ’n derde in die groter Stellenbosch woon met nog ’n derde in omliggende dorpe. Sowat 43% van studente maak primêr gebruik van motorvervoer om daagliks na die kampus te reis.
83% van die personeel, waarvan ’n groot groep buite Stellenbosch woon, ry ook met hul motors kampus toe en op die kampus rond. Beide studente en personeel se benutting van motorvervoer verklaar dus die parkeerprobleme en verkeersdruk.
Op Tygerberg woon slegs 13.5% van die studente in die koshuise op die kampus. Die oorblywende 86.5% woon in die voorstede en ry hoofsaaklik met hulle motors kampus toe.
Praktiese oorwegings, soos ’n gebrek aan ruimte en hoë koste om paaie breër te maak en meer parkeerplekke te bou, maak die uitbreiding van motorvervoer onhaalbaar en onvolhoubaar. Maar meer as dit – die US het daadwerklik ’n keuse gemaak om volhoubaar te vernuwe. Die US wil nie meer motorverkeer, wat berug is vir die hoë koolstofvoetspoor wat dit laat, bevorder nie. Dit wil ook ’n mensvriendeliker omgewing skep deur motorvoertuie op die kampus en in die dorp te verminder en meer groen ruimtes daar te stel.
Daar is dus gefokus op maniere waar motorvervoer in kombinasie met ander vervoermetodes, soos stap, fietsry en openbare vervoer, gebruik kan word.