Nuus

Só bespaar Universiteit Stellenbosch water

Posted by Administrator (admin) on Feb 01 2017
Nuus >>

In Stellenbosch is die gebruik van drinkwater wat deur die raad voorsien word, tans aan kategorie 3-waterbeperkings onderhewig. Dit beperk die gebruik van drinkwater vir die besproeiing van tuine en sportvelde. Dit is verbode om tuinslange en sproeiers of draagbare swembaddens te gebruik.

Universiteit Stellenbosch maak ook van ander waterhulpbronne, soos die Eersterivier en ander plaaslike damme, vir die besproeiing van sportvelde, landskaperings- en navorsingsterreine op kampus gebruik. ’n Geregistreerde kwota geld vir die gebruik van water vanuit hierdie hulpbronne.

Besproeiing word deur ’n geoutomatiseerde stelsel geskeduleer en vind saans en snags plaas wanneer daar minder verdamping is. Die minste moontlike water word tans gebruik om te verhoed dat die gras, plante en bome onder stres geplaas word, wat tot plantsiektes kan lei. Die geoutomatiseerde besproeiingstelsel beheer die omgewing noord van Victoriastraat en aktiveer die besproeiing tussen 19:00 en 07:00. Die omgewing suid van Victoriastraat word saans per hand behartig.

Die besproeiingstelsel word soms gedurende die dag aangeskakel om die geoutomatiseerde stelsel te toets, instandhouding te doen en gebiede te besproei wat nie gedurende die nag natgemaak is nie as gevolg van ’n defekte stelsel. Besproeiingskedules word van tyd tot tyd aangepas om vir geleenthede en konstruksie-aktiwiteite op kampus voorsiening te maak.

Kategorie 3-waterbeperkings is van krag op die Tygerberg- en Bellville Park-kampus. Landskaperingsterreine en sportvelde word met behulp van alternatiewe waterhulpbronne en water vanuit damme en riviere besproei.

As jy enige foute in ons besproeiingstelsel of enige ander watervermorsing opmerk, meld dit asseblief so gou as moontlik by ons hulptoonbank aan by (021) 808-4666 sodat ons die gepaste stappe kan doen en water bespaar.

Die universiteit is verbind tot omgewingsvolhoubaarheid en ons waterhulpbronne is ’n uiters belangrike element hiervan. Verskeie inisiatiewe word ondersoek en geïmplementeer om ons in staat te stel om waterhulpbronne so verantwoordelik as moontlik te bestuur en te gebruik. 

Waterbesparingsinisiatiewe wat tans geïmplementeer word, sluit in:

  1. Die aanplant van inheemse en endemiese spesies wat minder water as eksotiese spesies nodig het;
  2. Die gebruik van deurdringbare plaveisel om die ondergrondse waterdraers te hervul;
  3. Die ontwerp van landskapsterreine wat water terughou en so die absorpsie en stoor van water moontlik maak;
  4. Die hergebruik van gryswater;
  5. Waterbesparende stortkoppe;
  6. Die deurlopende toetsing en herstel van waterlekkasies; en
  7. Volhoubaarheidsprojekte wat op ’n kleiner watergebruik gemik is.


 

Last changed: Feb 01 2017 at 1:39 PM

Back