Gemeenskapsmusiek

Die Sertifikaatprogramme in Musiekgeletterdheid is deur die voormalige departementshoof, professor Hans Roosenschoon, en die destydse hoof van Musiekopvoedkunde, medeprofessor Ria Smit, gestig om toegang tot formele musiekopvoeding aan voorheen benadeelde leerders te verleen. Wyle Albert Engel, voormalige lektor in koperblaasinstrumente in die Musiekdepartement, was verantwoordelik vir die beduidende uitbreiding van die program in die gemeenkap. Satellietkampusse is in Caledon (2002), onder leiding van Stefne van Dyk en die Suid-Afrikaanse Weermagorkes, en in Kaapstad (2005), in vennootskap met die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, gestig. Hierdie samewerking is in sy vormingsjare deur professor Hans Roosenschoon, sersant-majoor Jack Simpson en Pamela Kierman, lektor in koperblaasinstrumente in die Musiekdepartment sedert 2004, geïnisieer.

Felicia Lesch is in 2006 as koördineerder van die Sertifikaatprogram aangestel. Haar merkwaardige bydrae het die program as die mees uitsonderlike program van sy soort in hoër onderwysinstellings in Suid-Afrika gevestig. Onder haar leiding het die program studente van regoor Suid-Afrika en die lande en affiliasies van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (Namibië, Botswana, Kongo-Brazzaville, Zambië, Swaziland, Rwanda ens.) gelok. Gegradueerde Sertifikaatprogram-studente word in alle gebiede van die Suid-Afrikaanse musiekindustrie in diens geneem. Haar jarelange betrokkenheid in jazz-onderrig het gelei tot die insluiting van die jazz komponent in die program en het gevolglik tot die stigting van die Universiteit Stellenbosch Jazz-orkes gelei.

In reaksie tot ‘n versoek van die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport om die behoefte aan musiekonderrig in landelike gebiede aan te spreek, is die Landelike Betrokkenheidsprogram in 2008 in die Overberg geïnisieer. Gevolglik is die Overberg Koperblaas Ontwikkelings Inisiatief (OKOSI) gestig. Die hoeveelheid gemeenskapsvennote het sedertdien heelwat uitgebrei, insluitend die Ronnie Samaai Projek (Kuilsrivier), die Athlone Academy of Music, Vlottenburg Musiekprojek, Rural Arts Network (Grabouw) en MPAMA (Mitchells Plein).

‘n Diensleermodule is in 2009 in die Musiekdepartement vir alle vierdejaar BMus-studente ingestel. Die Musiekdepartement het ‘n verskeidenheid gemeenskapsvennote waarby musiekstudente die gemeenskapsdienskomponent van die kursus kan voltooi. Die module bestaan uit Gemeenskapsontwikkelingteorie, voorbereidende vaardighede asook kennis vir Gemeenskapsdiensonderrig interaksie tussen studente en dienspersele. Daar word van studente verwag om aan departementele gemeenskapsprojekte deel te neem sodat teoretiese kennis vasgelê kan word, nuwe kennis genereer kan word en ‘n beter begrip tot die spesifieke konteks van musiekpraktyk en kennis verkry kan word.

In 2014 het Felicia Lesch en Martin Berger, hoof van Koordirigering, die Sertifikaatprogram Koorakademie gestig. Die akademie lei voornemende koordirigente wat met gemeenskapskore in die Wes-Kaap werk, op.

Die Sertifikaatprogram Koperblaaskwintet, gestig in 2015, het hul debuutvertoning by die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees gemaak. In 2013 is die Sentrum vir Musiek, wat alle sosiale impak inisiatiewe van die Musiekdepartement behartig, gestig. Hierdie inisiatiewe sluit onder andere die Sertifikaatprogram in Musiekgeletterdheid, Diensonderrig (Gemeenskapsdiensonderrig komponent) en Sertifikaatprogram Ensembles (Universiteit Stellenbosch Jazz-orkes en Sertifikaatprogram Koperblaaskwintet) in.

Sosiale impak

  • Gemeenskapsmusikante (Kore, orkeste, ens.) bekom of verhoog hulle musikale geletterdheidsvaardighede, wat weer oorgedra kan word op musikante in hulle eie gemeenskapsorganisasies.
  • Studente met min of geen toegang tot formele musiekopleiding, en wat tersiêre studies wil onderneem, word die geleentheid gebied tot verhoging van hulle vaardighede.
  • Belangstellendes in militêre en diensorkesdirigente bekom dirigeer- en verwante vaardighede wat hullle in staat sal stel tot sulke poste in Suid-Afrika en ander Afrikalande.
  • Militêre orkeslede kan hulle vaardighede deur dié program opgradeer.

Heelparty graduandi van die Sertifikaatprogramme het reeds daarin geslaag om loopbane in professionele musiekomgewings in Suid-Afrika te vestig.