Die Dokumentasiesentrum vir Musiek (DOMUS)

Die Dokumentasiesentrum vir Musiek (DOMUS) is in 2005 op die been gebring as ʼn navorsingsprojek aan die Universiteit Stellenbosch. DOMUS wil die toonkuns in Suid-Afrika en Afrika bevorder deur die musikale nalatenskappe en dokumente-versamelings van komponiste, uitvoerende kunstenaars, musiekwetenskaplikes en musiekinstansies te versamel, te bewaar, te orden en te katalogiseer vir navorsing.

Dit het uitgebrei vanaf 20 versamelings in 2005 tot meer as 60 versamelings van toenemende diversiteit. Hoewel die fondament vir DOMUS hoofsaaklik deur ʼn Westerse kunsmusiek perspektief gelê is, het die inhoud van die argief uitgebrei met die insluiting van inheemse Afrika-musiek, populêre musiek en jazz vanuit verskeie historiese tydperke en gemeenskappe wat beoog om die Suid-Afrikaanse demografie te reflekteer. Die inhoud van DOMUS sluit in die versamelings van Anton Goosen, Graham Newcater, Michael Blake, John Simon, Albert Coates, Charles Weich (voormalige kritikus vir Die Burger), Rosa Nepgen, Aryan Kaganof, die Eoan Operagroep, NewMusicSA, die Stellenbosch Universiteit Musiekdepartement (Konservatorium), die Stellenbosch Universiteitskoor, Ben Segal, David Marks en die Suid-Afrikaanse Joodse Musieksentrum.

DOMUS is in die Musiekbiblioteek binne die Musiekdepartement geleë en die aard en projekte daarvan word bepaal deur die produktiewe wisselwerking tussen biblioteekkundige en akademiese belange.

Die hoofdoel van DOMUS as nasionale musiek-argief is om op internasionale gebied ʼn leidende rol te speel in die skep en ontwikkeling van nuwe vorme van kennis en innovering op argief gebied, musieknavorsing, -uitvoering, -komposisie en -tegnologie.

Vir verdere inligting.

Kontakbesonderhede

Santie de Jongh (Spesiale Versamelings Bibliotekaris)

Tel.: +27 21 808 2597
E-pos: santiedj@sun.ac.za

Besoeke per afspraak

Fisiese adres:

Musiekbiblioteek/DOMUS

Departement Musiek

Neethlingstraat, Stellenbosch, 7600

Suid-Afrika

Posadres:

Musiekbiblioteek: DOMUS

Privaatsak X5036

Matieland, 7602

Suid-Afrika