Stellenbosch Universiteit Kamerkoor

Die Stellenbosch Universiteit Kamerkoor is amptelik op 7 Februarie, 2014 gestig en is ‘n uitstekende voorbeeld van diversiteit aan die SU. Die koor komplimenteer bestaande strukture aan die Musiekdepartement en die Universiteit en is daarop gemik om plaaslik relevant te wees, asook internasionale respek te verwerf. Bykans die helfte van die koorlede is musiekstudente en die ander lede is almal Universiteitsstudente met beduidende vorige ervaring op die gebied van koorsang. Buiten die ervaring wat koorsang aan lede bied, mik die Stellenbosch Universiteit Kamerkoor ook om deur middel van werkswinkels, meestersklasse en opnames aan studente die geleentheid te bied om hul vaardigheid te deel met mense in die omliggende gemeenskappe wat nog nie toegang tot formele kooropleiding gehad het nie.

Na 11 jaar as Musiekdirekteur van die beroemde St Kilians-katedraal in Würzburg en professor in koordirigeerkuns, het Martin Berger Duitsland verlaat vir ‘n aanstelling aan die SU. Sedert April 2013 staan hy met sukses aan die spits van dirigeerprogramme, kore en vroeë musiek. Berger is bekend as een van die veelsydigste dirigente in Duitsland en is ‘n gesogte gasdirigent, dosent, meesterklasleier en beoordelaar. Berger het in Düsseldorf en Saarbrücken studeer en nagraadse studies in Kerkmusiek, Musiekopvoeding, Musikologie, Duitse Letterkunde, en Dirigeerkuns voltooi. Meesterklasse en artistieke vennootskappe het hom aan toonaangewende Skandinawiese koordirigente soos Eric Ericson, Anders Eby en Gary Graden blootgestel – wie sy benadering t.o.v koormusiek aansienlik beïnvloed het. Berger het konserte gehou in bykans alle Europese lande asook Australiië, Suid-Afrika en die VSA.

facebook          youtube-logo-21