Universiteit Stellenbosch Simfonieorkes (USSO)

Die Universiteit Stellenbosch Simfonieorkes (USSO) is in 1981 deur prof Eric Rycroft gestig. Tans het die USSO al meer as 400 volledige uitvoerings van simfonieë van Mozart, Brahms, Saint-Saëns, Tchaikovsky, Dvorak en Prokofiev gegee, vyf volledige operas begelei en ‘n verskeidenheid kantatas, misse en oratoria uitgevoer. Daar is ook verskeie eietydse werke van Suid-Afrikaanse komponiste soos Hubert du Plessis, Roelof Temmingh, Johan Cloete, Hans Roosenschoon en John Simon aan die orkes opgedra en deur die orkes gepremiere. Die orkes het al vier suksesvolle Europese toere onderneem. Met die verloop van tyd het die USSO vele musici gelewer wat tans landwyd en wêreldwyd saam met professionele orkeste optree. Sedert 2003 is ‘n stelsel van gasdirigente geïmplimenteer, wat die studente die geleentheid bied om saam met vermaarde dirigente soos Omri Hadari, Bernhard Gueller, Osvaldo Ferreira en Jon Robertson te werk. In 2004 ontvang die orkes onder leiding van Corvin Matei die prys vir die beste simfonieorkes by die toonaangewende Tygerberg Fanfare-kompetisie. Matei word in 2006 aangestel as hoofdirigent van die USSO. Die orkes lewer ‘n beduidende bydrae tot die gereelde uitvoering van Afrikamusiek in die Endler-konsertreeks. Benewens die begeleiding van Suid-Afrika se voorste soliste, het die USSO ook top internasionale soliste begelei – o.a Ben Schoeman, Anton Nel, Marie-Christine Klettner, Daniel Rowland, Priya Mitchell en Dirk Mommertz. In 2014 het die USSO, olv Corvin Matei, die legendariese violis Pinchas Zukerman met groot sukses begelei in konserte in Stellenbosch, Kaapstad en Johannesburg, laasgenoemde in samewerking met die JPO. In 2018 het die USSO die Universiteit Stellenbosch se 100ste verjaardag gevier met ‘n uitvoering van Beethoven se Negende Simfonie. Dié konsert het ook gedien as die afskeidskonsert van dirigent Prof. Corvin Matei en vanaf 2019 sal die orkes deur gasdirigente gelei word.