Sertifikaatprogram Koorakademie

Die Universiteit Stellenbosch Koorakademie is in 2013 as ‘n gemeenskapsinteraksieprojek gestig. Hul doelstelling is om ondersteuning, kennis en formele onderrig aan kore en dirigente te bied wat voorheen min of geen toegang tot formele musiekonderrig gehad het nie. Die Universiteit Stellenbosch Koorakademie beoog om talentvolle musikante te identifiseer en hulle die nodige hulp en leiding te bied sodat toekomstige studie by Universiteit Stellenbosch moontlik gemaak kan word. Doeltreffende bemiddelingstegnieke word ontwikkel om deur koorsang’n holistiese musikaliteit vir jongmense van voorheen benadeelde gemeenskappe te ontwikkel. Kore en koordirigente kan by die Universiteit Stellenbosch se afdeling vir Koordirigeerkuns aansoek doen om professionele ontwikkelingssteun. Ervare studente neem ‘n koor aan en deel hul kennis en ervaring. Die studente word gemonitor en put voordeel uit die addisionele onderrigservaring.

Fondse word ingesamel om kore bloot te stel aan konserte van ‘n hoë gehalte. Die doel is om kore te motiveer om deel te neem aan spesiale konserte wat deur die Musiekdepartement se afdeling vir Koordirigeerkuns georganiseer word. Verder stel seminare en werkswinkels kore en dirigente bloot aan kennis van ‘n hoë gehalte. Fondse vir die Universiteit Stellenbosch Koorakademie moet buite die Universiteit gewerf word en noodsaak dus die samewerking van plaaslike vennote in die gemeenskappe waar die projekte plaasvind.

Martin Berger is Hoof van hierdie afdeling. Navrae: maberger@sun.ac.za