Die Universiteit van Stellenbosch se ensemble vir Afrika-musiek is toegespits op die inheemse musiek van sub-Sahara, veral dié van Suid-Afrika en Zimbabwe. Benewens die akademiese program tree die ensemble ook op met sang, en speel inheemse instrumente soos die marimba, uhadi, umrhubhe, mbira, tradisionele tromme en die djembe. Die meeste van hierdie musiek dateer uit die afgelope eeue, en word deur plaaslike kunstenaars volgens mondelinge pedagogiese beginsels gedoseer. Die ensemble bied aan studente die geleentheid tot ‘n beter begrip van die inheemse, eietydse en post-koloniale lewe in Afrika. Dit geskied deur die deelname aan musiekpraktyke, en studente het ook die geleentheid tot uitvoering van hierdie kunsvorm  tydens semestereindkonserte, ook saam met gaskunstenaars.