iProsper Soundboard Project

iProsper Soundboard Project by Laerskool Rietenbosch

Die iProsper Project is gebonde aan die Suid-Afrikaanse regering se 2030 Nasionale Ontwikkelingsplan. Die projek streef na die ontwikkeling van afgeronde, onafhanklike, vaardige en bekwame individue wat die verpersoonliking van sosiale verwantskap en ekologiese bewustheid is. Die doelstelling van die projek is onder andere die vestiging van holisties geïntegreerde programme en aktiwiteite. Dit sluit kulturele en sportaktiwiteite asook toegang tot uitnemendheid in. Voorbeelde hiervan is musiekonderrig en aktiwiteite wat ouerbetrokkenheid en gemeenskapsontwikkeling aanmoedig. ‘n Spesiale fokus word op die ontwikkeling van samewerking, luistervaardighede, empatie en motoriese vaardighede geplaas. iProsper se kerndoel is om ‘n huis weg van die huis te skep, waar die geïntegreerde aktiwiteite en programme en die infrastruktuurverbeteringe die leerders en die gemeenskap regdeur die jaar dien.

Die Soundboard Project is die musiekkomponent van die iProsper projek. Dit bied ‘n waardevolle platform waar Musiekopvoeding-studente kennis en insig tot die onderrigspraktyk kan inwin. Die projek bied die volgende:

Klasmusiek: Klem word op die ontwikkeling van musikaliteit en gehoor geplaas asook die holistiese ontwikkeling van leerders.

Individuele lesse: ‘n Uitgekose groep leerders ontvang weeklikse kitaar- en tromlesse.

Blokfluit groeplesse: Bied ‘n goeie basis vir instrumentele onderrig.

Perkussie ensemble: Instrumente en aktiwiteite sluit in: RimbaTubes, Cup Songs en ander vorme van perkussie, soos byvoorbeeld liggaamperkussie en die speel van instrumente wat van herwinbare materiale gemaak is.

Kore: Studente begelei en assisteer met beide senior- en juniorkore.

Musiekproduksie: Die doel van die jaarlikse musiekkonsert/-produksie is om ‘n geleentheid vir leerders te bied om vir hul families op te voer en te demonstreer wat hul reeds bereik het.

Fetale Alkoholsindroom-projek: Die hoofdoel is om ‘n ruimte te skep waar leerders met fetale alkoholsindroom-simptome aktief in ‘n musiekklas kan deelneem om hul toe te rus met strategieë wat toegepas kan word om ‘n positiewe invloed op hul algemene gedrag in die hoofstroom klaskamer te hê.

Vir meer inligting: danellherbst@sun.ac.za