Sertifikaatprogram Koperblaaskwintet

Die Sertifikaatprogram Koperblaaskwintet is in 2015 gestig en het hul debuutvertoning by die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees in Julie 2015 gehad. Die hoofdoel van die ensemble is om die lede se uitvoerende vaardighede te verbeter. Die koperblaaskwintetopleiding takel ook intonasie, omvang, toonkwaliteit, soepelheid, stamina en uitdagings wat in ensemble-spel voorkom.

Die 2016 Koperblaaskwintet bestaan uit: trompette: Igar Johannes, Chesray Sauls, Damian Swartz; Franse horing: Linden Albertus; tromboon: Bevan Efraim; tuba: Lee-Roy Simpson (instrukteur).

Igar Johannes se musikale opleiding het by die koperblaaskore van die Morawiese Sendingstasie in Mamre begin. Hy het daarna sy studies by Ash-lee Louwskieter, wat sy Diploma in Praktiese Musiek by US voltooi het, voortgesit. Damian Swartz het sy musiekloopbaan in die Kersfeeskoor, ‘n marsjeerorkes, wat deur sy pa in Mitchells Plein gelei word, begin. Hy het sy studies by die Athlone Academy of Music, ‘n gemeenskapsvennoot van die Sertifikaatprogram, voortgesit waar hy onderrig van Sean Kierman ontvang het. Linden Albertus en Bevan Efraim het in die Nuwe Apostoliese Kerk leer speel. Hulle is verder deur Rudi Engel by die Frank Pietersen Musieksentrum in die Paarl onderrig. Chesray Sauls se musiekonderrig het ook aanvang by die Nuwe Apostoliese Kerk se musiekprogram geneem, waarna hy verder by sy pa, Clive Sauls, by Hoërskool Cedar in Mitchells Plein onderrig ontvang het. Lee-Roy Simpson, die instrukteur en tubaspeler in die ensemble, het sy BMus en BMus Hons in 2009 en 2010 onderskeidelik by US voltooi. Sy musiekloopbaan het in die Nuwe Apostoliese Kerk begin en hy is tans ‘n deeltydse dosent in bastromboon en tuba in die Musiekdepartement.