Skip to main content

FAQ’s

Gereelde navrae

Kontak

Wat moet ek voorberei vir die oudisie?

Drie kontrasterende werke van eie keuse moet voorberei word, wat jou tegniese en musicale vaardighede die beste ten toon stel. Die paneel, wat uit drie dosente saamgestel is, kies gewoonlik twee van die drie werke wat dan voorgedra word. Werke hoef nie langer as 20 minute te duur nie. Indien kandidate verkies om langer werke voor te dra mag kandidate gevra word om te stop tydens voordrag, om binne die tydskedule van die oudisies te bly.

Is daar ‘n spesifieke standaard waarop ek moet wees met my eerste instrument?

Die minimum standaard vir kandidate wat aansoek doen vir BMus, BA (Mus) en Diploma, is gelykstaande aan graad 7. Daar word nie vereis dat kandidate wel die eksamen geslaag het nie – dit is bloot ‘n riglyn vir ‘n minimum-standaard van voordragwerke. Kandidate is welkom om meer gevorderde werke voor te dra. Kandidate wat werke van minder gevorderde standaard wil voordra, kan ook as voorbereiding vir graadkursusse, vir die Hoër Sertifikaat-program keuring ontvang.

Moet ek toonlere voorberei?

Pianiste moet toonlere voorberei.

Word daar bladlees vereis?

Ja, bladlees sal gevra word.

Moet ek ‘n CV of sertifikate van eksamens wat ek afgelê het inhandig?

Nee, CV’s of sertifikate word nie gevra of in ag geneem tydens die oudisie nie. Die besluit van die paneel word gebasseer op die kandidaat se spel tydens die oudisie.

Moet ek met ‘n klavierbegeleier reëlings tref om my tydens die oudisie te begelei?

Instrumentaliste en sangers wat werke voordra wat klavierbegeleiding het, moet asseblief self met ‘n begeleier reëlings tref om tydens die oudisie te begelei.

Moet ek self die begeleier betaal?

Ja, die kostes vir die begeleier is vir die kandidaat se eie sak.

Moet ek bladmusiek saambring vir die paneel wat die oudisie afneem?

Ja, een stel kopieë van die werke wat voorgedra word moet asseblief by die oudisie beskikbaar wees. Oorspronklike partiture word nie vereis nie.

Kan ek aansoek doen vir ‘n departementele beurs?

Alle kandidate wat oudisie aflê kom outomaties in aanmerking vir departementele beurse.

Word opnames gemaak tydens die oudisie?

Ja, ‘n DVD opname word gemaak van alle kandidate, omdat dit gebruik word wanneer dosente kandidate benoem vir beurstoekennings.

Vind die oudisie en die teoretiese toets op dieselfde dag plaas?

Ja, die teoretiese toets asook die praktiese oudisie vind op dieselfde dag plaas. Indien die praktiese oudisie in die oggend geskeduleer is , doen die kandidate die teoretises toets in die middag, of omgekeerd.

Hoe lank duur die teoretiese toets?

Die toets wat gehoor, musiekteorie en klawerbordvaardighede insluit, sal binne twee en ‘n halfuur (150 minute) afgeneem word.

Moet ek ook oudisie aflê met my tweede instrument?

Kandidate hoef nie in Augustus of September oudisie met die tweede instrument af te lê nie. Indien kandidate egter twee instrumente op A-vlak wil neem (dus twee eerste instrumente) moet hulle egter oudise in beide instrumente aflê tydens die amptelike oudisie-periode. Kandidate wat na afloop van die oudisies aanvaar is vir studies kan in die week voordat klasses in aanvang neem, (gewoonlik einde Januarie), plasingsoudisies aflê met hulle tweede instrument.

Kandidate kan ook koordirigering of orkesdirigering as ‘n tweede instrument neem. Kontak gerus Mnr Martin Berger vir inligting oor koordirigering by maberger@sun.ac.za of Prof Corvin Matei by corvin@sun.ac.za vir inligting oor orkesdirigering en vereistes vir die oudisie.

Wat gebeur as ek nog nie ‘n tweede instrument het nie?

Kandidate se tweede instrument moet verkieslik op ‘n standaard gelykstaande aan graad 4 wees. Indien kandidate begin met ‘n tweede instrument of nog nie die verlangde standaard bereik het nie, kan ‘n oorbruggingskursus geneem word in die eerste jaar van studies.

Word klawerbordvaardighede getoets tydens die teoretiese toets?

Ja, basiese speelvaardighede op die klavier word getoets deurdat kandiate eenvoudige note van die blad lees en speel.

Kan ek ‘n voorbeeld van die teorietiese toets aflaai om myself beter voor te berei?

Ja, ‘n voorbeeld van die teoretiese toets sal teen einde Junie beskikbaar wees om af te laai op die webwerf.

Wanneer word ek in kennis gestel van die uitslag van die oudisie?

Kandidate sal binne twee weke na afloop van die oudisie, per e-pos in kennis gestel word van die uitslag en kan maklik op MyMaties uitvind.

As ek nog nie vantevore met ‘n dosent kontak gemaak het nie, moet ek dan ‘n voorkeurdosent aandui?

Kandidate hoef nie ‘n dosent van keuse aan te dui nie, maar is welkom indien daar wel voorkeur is. Dosente besluit oor plasings na afloop van oudisies na gelang van dosente se beskikbaarheid.

Wat gebeur as die dosent se naam nie op die lys is nie?

Deeltydse dosente se name verskyn nie almal op die lys nie en plasings van studente geskied na gelang van beskikbaarheid van voltydse- en deeltydse personeel. Indien die kandidaat ‘n dosent van voorkeur het wie se naam nie op die lys verskyn nie, kan ‘n e-pos met die naam van die dosent, gerig word aan Yolanda Botha by usmusiek@gmail.com

Mag my ouers die oudisie bywoon?

Ongelukkig word ouers of vriende nie in die oudisielokale toegelaat nie.

Wanneer word ek in kennis gestel van die oudisietyd en plek?

Kandidate word twee weke voor die oudisiedatum van die spesifieke tyd en plek van die oudisie en teoretiese toelatingstoets in kennis gestel.

Indien my begeleier slegs op ‘n sekere tyd beskikbaar is om my te begelei vir die oudisie, wie kan ek kontak?

Kontak asb so gou moontlik vir Yolanda Botha by usmusiek@gmail.com sodat spesifieke tye vir oudisies vroegtydig kan geskied om skedulering te vergemaklik.

Indien ek ver woon vanaf Stellenbosch en nie op die spesifieke datums die oudisie kan kom aflê nie, kan ek op ‘n ander manier oudisie aflê?

Kandidate kan op diskressie vergunning kry om per DVD aansoek te doen. ‘n Ongeredigeerde DVD met drie konstrasterende werke kan ingedien word. Kandidate moet egter eers met Yolanda Botha kontak maak yolandab@sun.ac.za om toestemming te kry. Reëlings moet ook getref word om die toelatingstoets af te lê. Kandidate word egter aangeraai om verkieslik die oudisie af te lê op een van die gegewe datums.

Indien ek nie vir die BMus-kursus gekeur word nie, watter ander opsies is daar vir my?

Kandidate wat nie oor die nodige vaardighede beskik nie, maar wel oor die nodige potensiaal, word soms toegelaat mits hulle spesifieke aanvullende werk (bv. modules uit die Sertifikaatprogram) doen. Alternatiewelik kan ‘n student aangeraai word om eers die volledige eenjarige Hoër Sertifikaatprogram te volg alvorens hy heraansoek doen om toelating tot die BMus-program. Studente wie se praktiese werk op standaard is, maar wat ‘n akademie/teoretiese agterstand het, sou ook in plaas van ‘n graadprogram die driejarige Diploma (Praktiese Musiek) kon volg.

[contact-form-7 id=”2483″ title=”Kotakvorm”]

 

 

Vind ons

Hoek van Victoria str & Neethling str, Stellenbosch, 7600

 Privaaksak X1, Matieland, 7602

Kontak ons

+27 (0)21 808 2338

Besigheidsure

Maandag-Vrydag
8h00 – 16h00

Close Menu