Pieter Grobler is ‘n Medeprofessor in Klavier aan die Universiteit Stellenbosch waar hy in uitvoerende kuns, kamermusiek en repertoriumstudies doseer. Hy is al beskryf as ‘n pianis met “finesse, sensitiwiteit, en ‘n foutlose sin vir die Klassieke styl” ” (The Star, Johannesburg, South Africa). Voorgraadse studies was aan die Universiteit van Pretoria by Joseph Stanford, terwyl hy nagraadse studies aan die Universiteit van Noord Texas (UNT) onder Joseph Banowet voltooi het, waar hy die MM en DMA uitvoerende grade verwerf het. Tydens hierdie tyd het hy ook lesse by Adam Wodnicky, asook Elvia Puccinelli en Harold Heiberg ontvang.
Pieter is aktief as konsertkunstenaar en speel gereeld solo en kamermusiek recitals. Benewens uitvoerings dwars oor Suid-Afrika, het hy in die VSA, Kanada, Europa, en China opgetree. Onder hierdie uitvoerings kan optredes by die Dame Myra Hess recital reeks in die Chicago Kulturele Sentrum, verskeie toere in Suid-Afrika asook optredes in Kanada saam met die violis Annette-Barbara Vogel uitgesonder word. As ‘n gerekende Lied pianis tree hy gereeld met kollegas dwars oor Suid-Afrika op. Pieter is ‘n bekende gesig vir Stellenbosse gehore en het al verskeie premières van werke uitgevoer. Onder die Suid-Afrikaanse werke sluit dit in: Alexander Johnsons se 3 Inkantasies vir Klavier (aan hom opgedra), Peter Klatzow se Sonate for Tjello en Klavier met Peter Martens (tjello), en Bongani Ndodana-Breen se Safika – Three Tales of African Migration.
Sy belangstelling in nagraadse studieleiding handel oor onderwerpe in analise, pedagogie, repertoriumstudies en hitoriografie soos toepaslik op praktiese uitvoering. Pieter Grobler tree gereeld op as beoordelaar en eksaminator dwars oor Suid-Afrika en is die organiseerder en jurie voorsitter van die Hennie Joubert Klavierkompetisie wat tweejaarliks as deel van die Stelllenbosch Internasionale Klaviersimposium aangebied word. Hy het al sedert 2011 in die susterprojek, die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees opgetree. Benewens sy aktiwiteite as pianis het hy ook as die Departement Musiek se voorsitter gedien.
Skakels:
Studieleiding