Skip to main content

Te midde van die Covid-19-pandemie, maar met `n positiewe uitkyk op die toekoms, het die  bestuur van die SIKMF begin om uitnodigings vir vanjaar se fees aan alle belangstellendes te rig. Die 17de SKIMF sal van 1 tot 10 Julie 2022 by die Konservatorium, die tuiste van die Universiteit Stellenbosch se Musiekdepartement, plaasvind.

Oor 16 agtereenvolgende jare was die SIKMF `n belangrike gebeurtenis op die opvoedkundige en kunstekalender van die Wes-Kaap.  Die Covid-19-pandemie het ongelukkig meegebring dat die kamermusiekfeeste van 2020 en 2021 afgestel moes word. Voor dit het die fees jaarliks ongeveer 300 studente na Stellenbosch gelok, waarvan ongeveer 80% uit die verskillende provinsies van Suid-Afrika en 20% vanuit die buiteland afkomstig was. Die fees se Artistieke Direkteur, Nina Schumann, nooi jaarliks `n keur van die wêreld se mees vooraanstaande musici uit om op die fees se personeel te dien.

Planne is nou op koers om hierdie ware fees van klassieke musiek met die deelname van `n aantal beminde kunstenaars van vorige jare van stapel te stuur. Hulle is almal gretig om te onderrig, te inspireer en op ons plaaslike verhoë op te tree. Madeline Adkins, Alissa Margulis en Nicholas Dautricourt (viool), Gareth Lubbe (altviool), Marco Silva (trompet), Demarre McGill (fluit) en Weston Sprott (tromboon) is van die kunstenaars uit die VSA, Frankryk, Duitsland en Portugal wat in Suid-Afrikaanse studente en gehore se harte ingekruip het. Saam met `n nuweling soos Knut-Erik Sundquist (kontrabas) en Kyril Zlotnikov (tjello), het hulle reeds hul vaste onderneming gegee om aan die opkomende fees deel te neem.

Studente word uitgenooi om aanlyn te registreer by www.sicmf.co.za.  Die program en besonderhede omtrent kaartjieverkope sal oor ‘n paar maande bekend gemaak word.

 

 

Close Menu