Skip to main content

Darryl Walters

By September 15, 2016October 27th, 2016Uncategorized @af

drawalters@gmail.com

Darryl Walters ontvang sy musiekopleiding in Kneller Hall, Londen, onder die hoofklarinetspeler van die Covent Garden Operahuis, Maurice Cody. Daarna spandeer hy drie jaar in Detmold, Duitsland, waar hy vir die Royal Scots Grey-orkes speel en regdeur Europa toer. Ná sy militêre diens skryf hy in by die Guildhall Musiekskool en ontvang onderrig in klarinet onder Wilfred Kealey, basklarinet onder Stephen Trier, saksofoon onder Mickael Krien en fluit onder Jane Davis. Hierna toer hy saam met verskeie orkeste en sit sy studies voort onder wêreldbekende klarinetspelers en hoofklarinetspeler van die BBC Simfonieorkes, Jack Brymer.

Met sy koms na Suid-Afrika, speel hy vir ses jaar in die Kaapse Simfonieorkes en daarna vir tien jaar in die KRUIK-orkes. Hy speel ook as ad hoc-lid vir die SAUK-orkes en Durbanse orkes. Hoogtepunte uit sy loopbaan as uitvoerende kunstenaar sluit in toere saam met die sangsensasie Natalie Cole, asook opnames vir van die vroeë televisieprogramme en die uitvoering van Artie Shaw se klarinetkonsert.

Darryl Walters was ʼn stigterslid van die Hugo Lambrechts Musieksentrum waar hy hoof was van die houtblaasdepartement sedert die ontstaan van die skool in 1986 tot en met sy aftrede. Hy was dirigent van die “Swing Band” gedurende sy tyd by die musieksentrum. Talle van sy studente het uiteindelik professionele uitvoerende kunstenaars en musiekonderwysers geword, nie slegs in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd. Walters is steeds aktief betrokke by musiekonderrig in Kaapstad en omliggende gebiede en doseer saksofoon aan die Universiteit Stellenbosch.

Close Menu