Skip to main content

Jolene McCleland

By September 15, 2016October 27th, 2016Uncategorized @af

jolenemccleland@gmail.com

Die Suid-Afrikaanse mezzosopraan Jolene McCleland het musiek en sang aan die Universiteit Stellenbosch studeer (BMus cum laude) en ʼn nagraadse diploma in opera (met onderskeiding) behaal aan die Weense Konservatorium vir Musiek in Oostenryk. Sy is in Januarie 2015 aangestel as sangdosent aan die Universiteit Stellenbosch.

Jolene het in 2005 haar Europese debuut gemaak as Kain se Lam in die Europese premiere van Tsippie Fleischer se Kain en Abel in die Semperdepot, Wene. Sedertdien het sy verskeie rolle gesing, onder meer Dorabella in Cosí fan tutte, Cherubino in Die huwelik van Figaro, die Tweede Vrou in Die Towerfluit (Japannese Toer), Nancy in Britten se Albert Herring, Dido in Purcell se Dido en Aeneas en Hänsel in Humperdinck se Hansie en Grietjie. Jolene is ʼn opkomende spesialis in die moderne operawêreld met haar vertolking van Die Spinne in Max Nagl se wêreldpremiere van die opera Camilo Chamäleon; sy was ook die solis in Titus Hollweg se weergawe van Milhaud se Opéras-Minutes, uitgevoer tydens die Korintiese Musiekfees (Oostenryk) in 2011. In 2011 vertolk sy ook die rol van koningin Gertrude in ʼn opname van die opera Hamlet deur die bekende kontemporêre Amerikaanse komponis, Nancy van de Vate, begelei deur die Morawiese Filharmoniese Orkes.

Sy is ʼn bekroonde vertolker van die Lied, en het onlangs tydens ʼn Liederaand saam met die Schubertbund-koor in die Goue Saal van die Weense Musiekvereniging opgetree. Sedert 2012 tree sy gereeld as solis op saam met die Johann Strauss Ensemble in Oostenryk, Turkye, Kroasië en Algerië.

McCleland is ʼn gesogte altsolis vir oratoriums, en sy gee gereeld uitvoerings in die bekende katedrale in Wene, Oostenryk. In Desember 2013 val die eer haar te beurt om die altsolo uit te voer in Händel se Messias saam met die Sloweense Radio-orkes in die Cankarjev-kerk, Ljubljana.

In Oktober 2014 vertolk sy die rol van Elektra tydens die Oostenrykse debuut van Michael Trojahn se bekroonde opera Orest by die Museumsquartier in Wene. In 2015 word sy uitgenooi om Mendelssohn se Elia saam met Brandon Phillips en die Koor en Orkes van die Nuwe Apostoliese Kerk uit te voer. Sy het reeds drie wêreldpremières tydens die Komposimposium uitgevoer, by name die werk van Antoni Schonken, Keith Moss en Hans Roosenschoon. Haar werk Mood Swings – roles of a Mezzo debuteer in die Endlersaal. Hierbenewens het sy ook saam met Niël Rademann en die Stellenbosse Stadsorkes onder leiding van Paul Loeb van Zuilenburg by Lourensford Wynlandgoed opgetree. In 2016 tree sy weer saam het hulle op as solis by die Oude Libertas Amfiteater, terwyl haar vertoning A Viennese Affair, met Wilken Calitz en Elna van der Merwe, tydens die US Woordfees uitgevoer is.

Close Menu